- Luisterteks: 1 Petrus 2:2-10
- Prediker: Fourie Rossouw
- Musiek: Judy Kossatz
- Voorlesers: Barry Odendaal
- Visie en waardes: Die Marx-gesin
- Beeldmateriaal van Strand kuslyn: Hannes de Bruyn
- Beeldmateriaal van NGK Strand-Noord: Ben Greyling
Om tuis te kom in ‘n vreemde wêreld is ‘n groeiende behoefte onder baie mense. In grendeltyd is ons verwyderd van die mense en dinge wat ons op ‘n diep vlak voed. Petrus se brief herinner ons dat God ons uitgekies het en aan ons beharmhartigheid bewys het.
Gebruik die onderstaande gespreksritme en preekteks om jou Huiskerk-ontmoeting in te rig.
‘n Gespreksritme vir Huiskerk
Gebruik hierdie nuwe werklikheid as ‘n goeie geleentheid om nuut te dink oor waar kerk gebeur en wat die kerk is. Jou huis is ‘n ontmoetingsplek en jy is die kerk. As daar mense saam met jou in jou vergader, is julle vanoggend ‘n gemeente in die kleine.
- Begin deur iemand te vra om as voorganger / liturg op te tree
- Gebruik die onderstaande ritme om julle saamwees vanoggend in te rig.
Bid
- Raak vir ‘n oomblik rustig en stil. Laat die stilte toe om jou te help bewus raak dat die Here teenwoordig is daar waar jy jouself nou bevind.
Dank
- Waarvoor is jy vanoggend dankbaar? Indien jy op jou eie deur hierdie inhoud werk, skryf dit in jou joernaal neer. Indien julle saam as ‘n gesin of huismaats vergader, gee vir elkeen ‘n kans om op te noem dit waarvoor elkeen dankbaar is.
- Aanlyn dankoffers – Indien jy hierdie geleentheid wil gebruik om ‘n dankoffer of skenking aan die kerk te maak, nooi ons jou om van Snapscan of EFT gebruik te maak.
Boodskap
Ons seuntjie het begin huis-huis speel en sy sussie volg hom blindelings na. Hy is gedurig besig om onder goed in te kruip, selfs agter die bank se kussings terwyl ons stories kyk. “Maak oop vir my pappa” sal hy sê en dan wurm hy hom daar in saam met sy geliefde speelgoed. So ontdek ons dan gereeld speelgoed wat in donker hoekies agterweë gebly het nadat hy uiteindelik besluit het om ’n ander speletjie te speel.
Die metafoor van ’n huis weerklink in vandag se leesrooster tekste. Johannes 14 begin met hierdie trooswoorde: In die huis van my vader is daar baie woonplek. Die bekende Afrikaanse digter, Breyten Breytenbach het ’n mooi vertaling van Jesus se woorde in sy gedig getiteld “Ek sal sterf en na my vader gaan”. In die laaste strofe van die gedig sê hy: Laat ons sterf, en vergaan en vrolik wees: Mý vader het ‘n groot bôrdienghuis.”
As jy ooit weer in die dorpie Wellington kom, gaan maak ’n draai by die Breytenbach Sentrum. Dit is Breyten se grootwordhuis. Vandag is dit ’n pragtige kunsgallery, boekwinkel en teater. Die ou gebou met sy houtvloere, breë gange en ruim kamers is heel moontlik die prentjie wat Breyten ingedagte het wanneer hy oor die Vader se groot bordienhuis dig.
Johannes sien ook so ’n ruim huis met baie vetrekke.
Vir hom is Jesus die groot plekmaker wat ons help om tuis te kom by God.
Nou Petrus skryf sy brief aan ’n geloofsgemeenskap wat verlang na so ’n tuiskoms.
Die wêreld soos wat hulle dit geken het, het amper oornag vir hulle verander. In Jerusalem lê die tempel in skerwe. Jode, sowel as Christene leef in diaspora regoor die Romeise Ryk. Die Christene is nóg welkom by Jode, nóg by die res. Petrus beskryf hulle as vreemdelinge en bywoners. In vers 10 herinner hy hulle aan ’n tyd toe hulle sonder ’n gedeelde identiteit en sonder barmhartigheid moes klaar kom. Hulle was uitgelewer aan die ongenaakbaarheid van ’n samelewing wat hulle nie as waardig geag het nie.
In hierdie tyd wat ons nou leef sal baie mense met dit kan identifiseer. Die mat is onder ons voete uitgeruk. Ons is verwyderd van die dinge en mense wat ons op ’n diep vlak voed en vorm. Talle mense staan honger en radeloos in elle lange rye of is toegegooi onder papierwerk en burokratiese rondslomp. Baie van ons is oorwerk, oormoeg, angstig, bang en bekommerd. Selfs Facebook het kennis geneem van mense se gemoedstoestand en ’n “Care-emoji” bygevoeg sodat mense op ander mense se boodskappe hul medelye kan bewys.
Petrus se brief kan ons help, soos wat dit deur die eeue vir baie gelowiges wat al ooit getwyfel het in wie hulle is en waar hulle hulp vandaan gaan kom, gehelp het.
Ou stene vir ‘n nuwe begin
Petrus se brief help ons om nuut te dink oor wie ons in Christus is. En getrou aan sy naam (wat Rots beteken) doen hy dit met die hulp van boustene wat hy leen uit sy geloofstradisie.
Om sy geloofsgemeenskap te help nuut dink oor wie is is, maak hy staat op baie ou wysheid. In hierdie kort gedeelte is nie minder as 9 Ou Testament verwysings, waarvan Petrus drie direk uit die antieke Bybeltekse aanhaal.
Hy bring vier Psalms, twee gedeeltes uit Jesaja, een uit Eksodus, ‘n sinspeling op Nehemia en laastens ’n baie mooi teksgedeelte in Hosea soos boustenee na die bouperseel om sy argument op te bou.
Buite in ons agterplaas lê ’n hoop bakstene. Ek vind gereeld ’n klompie op mekaar gepak nadat die kinders buite gespeel het.
Om klippe op mekaar te pak is so ’n diep menslike ding. Ons doen dit opsoek na skuiling. Ons doen om ons te beskerm teen gevaar. Ons doen dit ter nagedagtenis van ’n geliefde. Ons doen dit om vir die volgende reisiger die pad aan te wys. En ons doen dit wanneer ons onsself op heilige grond bevind.
Kom ons staan ’n oomblik stil by Petrus se klip of steen metafoor.
Lewende stene
In die teks is daar twee griekse woorde wat Petrus gebruik om oor die metafoor te praat. Die oorwegende een is die woord Lithos.
Dis dieselfde woord wat Jesus gebruik in Matteus 21 wanneer hy, net soos Petrus hier doen, Psalm 118 aanhaal: “die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword”. Petrus haal dit ook aan in sy toespraak in Handelinge 4.
Lithos is ’n woord vir die boubedryf. Dis nader aan ’n baksteen as die mooi klip stene in jou tuin.
Dis ’n treffende metafoor vir die kerkwees. Want ’n baksteen op sy eie is dalk goed om ’n wendyhuis se deur oop te hou wanneer jy die grasnyer uit haal. Vier bakstene kan darem ’n rooster hoog genoeg bo die kole.
Maar om ’n huis te bou, het jy baie meer nodig. En die belangrikste van alles is dat hulle saam met mekaar ’n eenheid sal vorm. Dis so treffend dat een van die slagspreuke wat in hierdie tyd op sosiale media gons is die woorde: “stronger together.” Ek dink die skrywers van die antieke tekste sal glimlag en sê “nou begin verstaan waaroor dit alles gaan.”
Vir beide Petrus, Matteus en Lukas, is Psalm 118 ’n belangrike teks om Jesus se messias-identiteit te verstaan.
Hy is daardie lithos-steen wat die bouers uitgegooi het en God het hom gekies om die hoeksteen van die nuwe huis van God te wees.
Dit wat vir die wêreld waardeloos was, was vir God ekklektos, kosbaar. Die NT vertaling sê dit mooi: “vir ’n ereplek uitverkies”
Een ding wat my seuntjie hou van om te doen nadat hy die bakstene opmekaar gepak het, is om dit wat hy gebou het weer af te breek. Dis natuurlik die ander kant van die muntstuk van ons storie met stene. Soos ons dit bou, so is ander geneig om dit af te breek.
Petrus weet dit ook, daarom gebruik hy beide kante van die metafoor om sy geloofsgemeenskap te help nadink oor wie hulle in Christus is.
Nou Petrus se geloofstradisie is vol verhale van mense wat betekenisvolle mure opgerig het, net om toe te kyk hoe ander dit weer afbreek. In die nadraai van die vernietiging van die tempel en die vervolging van beide Jode en Christene deur die Romeine, is hierdie verhale geweldig behulpsaam vir die vorming van ’n nuwe geloofsgemeenskap. Een so ’n verhaal is dié van Nehemia en Petrus se term “lewende stene” het raakplek met die verhaal.
In die begin van Nehemia terwyl hulle die vervalle stadsmure van Jerusalem herbou het, het Nehemia se heropbouingsprojek onder geweldige kritiek deurgeloop. Een van sy teenstanders het skepties gevra of hulle van plan was die “bouvallige stene te laat herleef.”
Die lesers van Petrus se brief sou heel moontlik aan Nehemia se dapper pogings om ’n stukkende stad te herbou gedink het, by die lees van die woorde “lewende stene”. Maar hierdie keer is is dit nie die heropbou van ’n stukkende Jerusalem nie, maar eerder die bou van ’n nuwe geloofsgemeenskap met die ware Lewende Steen as hoeksteen.
Die metafoor van bouvallige stene wat herwin word sou hulle na aan die hart gelê het.
Daarmee gee Petrus hulle hoop dat soos dit met die lewende hoeksteen is, so is dit ook met hulle.
“Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis.”
En dan in vers 9 gebruik hy weer die woord ekklektos. Maar hierdie keer is nie op die hoeksteen van toepassing, maar op elke steen in die gebou. Ons is almal kosbaar vir God.
Struikel-Stene
Omdat my seun so baie hou van bou moet ons in die huis en ook buite versigtig trap. Binne die huis is daar die gevaar van ’n kaalvoet op ’n legoblokkie. Buite kan jy maklik jou toon stamp teen ’n baksteen wat lê waar hy nie moet nie.
Petrus het seker ook ’n kleuter in sy huis gehad, daarom haal hy Jesaja aan wat praat oor
’n klip waarteen jy stamp of oor struikel.
Dit bring my by die tweede Griekse woord vir klip wat Petrus hier gebruik. Dit kom slegs een keer voor in sy hele brief. Dis ’n woord wat baie meer mense dalk sal herken, naamlik Petra.
Petrus se eie naam kom daarvan af, maar hy gebruik ’n unieke term daarvoor: petra-skandalon. ’n Rots van skande of aanstoot. Die woord “skandalon” is dieselfde woord wat Jesus vir hom gesê het in Matteus 16, toe Jesus hom as ’n struikelblok ervaar het.
Wanneer Petrus dink aan die bouers wat God se kosbare steen afgekeur het, dan kan maklik wees dat ons saam met Petrus dink aan die wêreld asof dit mense daarbuite is. Maar dan kom Petrus en bring dit baie naby aan sy eie storie. Hy wat Petrus het self ook so oor Jesus gestruikel en gestamp.
En tog kies God ons steeds en bewys aan ons wat so dikwels struikel Sy eindelose barmhartigheid.
’n Laaste gedagte:
Die dinge wat voorheen vir ons waardeloos of vanselfsprekend was, het nou nuwe lewe gekry. Daardie boustene wat ons in ’n gejaagde pre-COVID-19 lewe eenkant toe gegooi het, maak nou nuwe aanspraak op ons aandag en sorg.
In grendeltyd speel ons almal huis-huis. Maar speel ook kerk-kerk, kantoor-kantoor en bakkery-bakkery.
Ons huise, hoe groot of klein, het nou die hoekstene van ons samelewing geword. Eens op ’n tyd was die kerk die middelpunt van die dorp, toe met tyd word die sakekern die spilpunt waarom alles draai.
Mag hierdie ’n kosbare tyd wees van herontdekking oor wie jy is en tot wat jy instaan is daar in die privaatheid van jou eie huis.