H.O.O.P

  • Prediker: Leon Marais
  • Luisterteks: 1 Petrus 3:13-22
  • Tema: H.O.O.P

Gebruik die onderstaande gespreksritme en preekteks om jou Huiskerk-ontmoeting in te rig.

‘n Gespreksritme vir Huiskerk

Gebruik hierdie nuwe werklikheid as ‘n goeie geleentheid om nuut te dink oor waar kerk gebeur en wat die kerk is. Jou huis is ‘n ontmoetingsplek en jy is die kerk. As daar mense saam met jou in jou vergader, is julle vanoggend ‘n gemeente in die kleine.

  • Begin deur iemand te vra om as voorganger / liturg op te tree
  • Gebruik die onderstaande ritme om julle saamwees vanoggend in te rig.

Bid

  • Raak vir ‘n oomblik rustig en stil. Laat die stilte toe om jou te help bewus raak dat die Here teenwoordig is daar waar jy jouself nou bevind.

Dank

  • Waarvoor is jy vanoggend dankbaar? Indien jy op jou eie deur hierdie inhoud werk, skryf dit in jou joernaal neer. Indien julle saam as ‘n gesin of huismaats vergader, gee vir elkeen ‘n kans om op te noem dit waarvoor elkeen dankbaar is.
  • Aanlyn dankoffers – Indien jy hierdie geleentheid wil gebruik om ‘n dankoffer of skenking aan die kerk te maak, nooi ons jou om van Snapscan of EFT gebruik te maak.

Lees

13Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is? 14Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ‘n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. 15In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. 16Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het. 17As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen.18Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. 19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net ‘n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered. 21Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ‘n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ‘n bede tot God om ‘n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus. 22Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het.

1 Petrus 3:13-22

Boodskap

Hierdie gedeelte is veral bekend vir die woorde in ver 15: Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.

In die alledaagse gebruik het die woordjie hoop meestal die betekenis van ‘n positiewe uitkyk op die toekoms – ek hoop dit gaan reën, ek hoop dinge gaan beter gaan, ek hoop daar is gou weer rooiwyn beskikbaar! Hierdie hoop is egter alles behalwe seker – ons sou dit dalk selfs kon vervang met die woordjie wens en dan bly die strekking van die sin nog dieselfde: ek wens dit gaan reën, en wens dit gaan gou beter gaan, ek wens…

In ons reis saam met Petrus en sy eerste lesers het ons al agtergekom dat dit met hulle baie, baie swaar gaan. As Petrus dus met hulle praat oor hoop is die bedoeling van die woord beslis meer as net ‘n positiewe uitkyk op die toekoms. Wat sou hiérdié hoop dan beteken?

Vir vanoggend het ek bietjie gaan kyk na ons teks vanuit die perspektief van die ander leesrooster tekste – Psalm 66:8-12, Handelinge 17:16-34 en Johannes 14:15-21- hoe hulle ons verstaan van Petrus se woorde verbreed.

Psalm 66 is ‘n wonderlike lofpsalm wat handel oor die grootheid van die Here. In die begin van verse 8-12 word selfs die ander nasies ingeroep om die Here te prys en bely dat die Here nie sal toelaat dat sy mense struikel nie. Maar dan lees ons die volgende woorde:

10U het ons beproef, o God,
ons gelouter soos silwer;
11U het ons in ‘n net gevang,
‘n swaar las op ons gelê;
12U het ons deur mense laat vertrap,
ons het deur vuur en water gegaan;
maar toe het U ons uitgelei na oorvloed toe.

Die skrywer bely hier, in die middel van ‘n lofpsalm dat die Here swaarkry oor sy mense toegelaat het – dat God aanspreeklik is vir van die pyn wat hulle beleef het! En interessant genoeg is die skrywer nie besig om te probeer uitpluis hoekom of waarom nie, nee, hy stel baie meer belang in die gevolg wat hierdie swaar tye op hulle,die Here se mense, gehad het. Dat dit tye was waarin hulle vir God nuut kon leer ken en weer bewus kon raak van die feit dat Hy besig is om hulle na sy wil te lei. En hulle vertroue in die Here het uitgeloop op die feit dat Hy hulle uiteindelik uitgelei het na oorvloed – vandaar sy lofpsalm!

Swaarky, nie as straf van God nie, maar as ‘n geleentheid tot ‘n her-ontdekking van God en sy wil.

Ons tweede gedeelte is Handelinge 17, Paulus se bekende toespraak in Athene. Ons lees dat Paulus so verontwaardig was oor die magdom tempels en altare in die stad dat hy met almal wat hy in die hande kon kry – in die sinagoge maar ook sommer op straat – begin praat het oor die Here wat hy dien. Uiteindelik word hy genooi om op die groot markplein, die sogenaamde Areopagus, te gaan gesels. Paulus begin sy toespraak met sy bekende verwysing na die altaar aan die onbekende god.

Skynbaar is hierdie altaar opgerig na ‘n verwoestende aardbewing die stad getref het. Na die tyd het mense vir mekaar gevra waarom al die tempels en altare in die stad dan nie gekeer het dat hierdie ramp hulle tref nie – en die enigste antwoord was dat hulle dalk een of ander god gemis het en daarom is die altaar opgerig, in ‘n poging om hierdie god se woede te laat bedaar.

Wat natuurlik dadelik iets sê oor hoe betekenisloos al die tempels en altare eintlik is! Dit is ook opvallend dat dit mense uit die twee antieke filosofiese skole, die Epikureërs en Stoïsyne, is wat in gesprek met Paulus tree. Beide hierdie skole was eintlik van mening dat die gode niks beteken nie. Die Epikureërs het die gode gesien as “iewers” maar nie betrokke in die alledaagse gang van die lewe nie en die Stoïsyne het weer die standpunt gehuldig dat gode hoegenaamd nie bestaan nie. Beide rigtings was uiteindelik van mening dat ‘n mens se grootste hoop in die lewe maar is om die beste te maak van elke situasie.

Paulus bring egter ‘n boodskap van ‘n nuwe hoop – van God wat reeds intens aan die werk is in ons wêreld, selfs in Athene. Hulle sien Hom nog net nie raak nie. Sy toespraak bou op na ‘n hoogtepunt: die teken van God se betrokkenheid in die wêreld is nie dat geen rampe mense tref nie (asof God net ‘n hemelse versekeringspolis is!), nee, die teken is dat Hy ‘n man uit die dood opgewek het. Met ander woorde dat die grootste mag in die skepping deurbreek is.

Hierdie hoogtepunt word toe sommer ook die laagtepunt in die gesprek – Paulus word deur sy luisteraars uitgelag – want waar het jy gehoor van enige mag wat so groot is. Net ‘n paar bly om verder te luister. Dalk in die hoop dat daar meer aan die lewe is as om maar te “hoop vir die beste…”

Ons derde leesrooster teks is Johannes 14. Eintlik is hierdie nog deel van die Jesus se gesprek met sy dissipels wat in hoofstuk 13 begin met die woorde: “[Jesus] het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad.”

In Johannes 14 vertel Jesus dat Hy weggaan maar nie sy dissipels alleen sal agterlaat nie – Hy sal vir hulle die Voorspraak, die Heilige Gees, gee om hulle verder te lei. En die werk van die Gees was nie bloot om hulle aan Jesus en mekaar te verbind nie maar hulle ook te lei in gehoorsaamheid aan Jesus se laaste opdrag: om in sy liefde te bly. Later (15:10) maak Jesus dit nog meer duidelik: Julle moet mekaar liefhê.

Die Gees kom om Jesus se volgelinge te help om lief te hê soos Hy liefhet. En ons weet wat hierdie “uiterste liefde” beteken – net ‘n paar uur later sal Jesus gevang word en uiteindelik gekruisig word omdat Hy Homself in liefde gee vir sy dissipels, en vir ons. Om Jesus te volg is om ook te word soos Hy is – en daarvoor kry sy mense die Voorspraak.

Dit alles bring ons terug by Petrus en sy lesers. Ek dink Petrus wil drie dinge vir sy lesers sê:

1. Vir ‘n kind van die Here is lyding nie leeg nie. Omdat ons glo dat ons volkome in die hande van die Here leef kan ons selfs in moeilike tye nuwe ondekkings van God maak. Petrus skryf aan sy lesers oor onregverdige lyding – hy wéét van hulle swaar, maar hy gaan verder as net simpatiseer – hy kan in vers 17 selfs daarna verwys as die wil van God. Ook hier is God nog betrokke en steeds te ontdek, dalk op verrassende maniere.

Lyding help ons ook om soms weer te onderskei waar God se pad na die toekoms en ons planne daarvoor verskil, sy plan was immers nog altyd om sy mense uiteindelik uit te lei na oorvloed! Lyding is nooit leeg nie.

2. Die teken van God se betrokkenheid in ons wêreld was vir Petrus (en is steeds) nie die gebrek aan teenslae nie maar die lewe; die dood en die opstanding van Jesus – net soos Paulus aan die Atheners verkondig het. In die moeilike gedagtes van verse 18-20 is een ding baie duidelik: Jesus is nie deur die doderyk gevange geneem soos almal anders nie, nee, sy dood was eerder die aankondiging van sy oorwinning – in die doderyk! Petrus wil sy lesers herinner: dit is die bron van hulle hoop – uiteindelik is daar geen mag wat hulle uit God se hande kan neem nie. Ook nie die dood nie. Hulle het deel aan die hoop wat oor die grense van die dood spoel, die ewigheid in. Paulus verwys in Kolosense na die triomftog waarin Jesus se volgelinge deelneem en Petrus wil dieselfde gedagte by hulle laat in hulle moeilike tye.

3. Hulle verbintenis aan Jesus (deur hulle doop – vers 21) is ook ‘n verbintenis tot ‘n nuwe manier van lewe. Daarom dat Petrus in verse 14-17 skryf oor ‘n lewenswandel wat dien as voorbeeld van die goeie Here aan Wie hulle behoort. Hy glo dat hulle antwoord op die laster uiteindelik sal lei tot die skande van die lasteraar en nie die Here nie. Anders gesê: dat hulle lewens gekenmerk sal word deur ‘n “uiterste liefde”, te midde van die swaar. En dit kan want ons leef in die teenwoordigheid van die Gees wat ons leer en vorm om te kan word soos Jesus.

Uiteindelik dink ek het Petrus ‘n droom: Dat, wanneer mense hierdie eerste Christene se op-offerende liefde beleef; en raaksien hoe hulle met moed en vertroue op die Here bly voortbeur te midde van enige en alle teëspoed; hulle dalk sou wou vra: Haai, wat gaan hier aan?

En dan kan hierdie groepie kinders van die Here antwoord:

Het jy gehoor van Jesus…