- Prediker: Leon Marais
- Luisterteks: 1 Petrus 2:19-25
- Tema: magtelose INVLOED
Gebruik die onderstaande gespreksritme en preekteks om jou Huiskerk-ontmoeting in te rig.
‘n Gespreksritme vir Huiskerk
Gebruik hierdie nuwe werklikheid as ‘n goeie geleentheid om nuut te dink oor waar kerk gebeur en wat die kerk is. Jou huis is ‘n ontmoetingsplek en jy is die kerk. As daar mense saam met jou in jou vergader, is julle vanoggend ‘n gemeente in die kleine.
- Begin deur iemand te vra om as voorganger / liturg op te tree
- Gebruik die onderstaande ritme om julle saamwees vanoggend in te rig.
Bid
- Raak vir ‘n oomblik rustig en stil. Laat die stilte toe om jou te help bewus raak dat die Here teenwoordig is daar waar jy jouself nou bevind.
Dank
- Waarvoor is jy vanoggend dankbaar? Indien jy op jou eie deur hierdie inhoud werk, skryf dit in jou joernaal neer. Indien julle saam as ‘n gesin of huismaats vergader, gee vir elkeen ‘n kans om op te noem dit waarvoor elkeen dankbaar is.
- Aanlyn dankoffers – Indien jy hierdie geleentheid wil gebruik om ‘n dankoffer of skenking aan die kerk te maak, nooi ons jou om van Snapscan of EFT gebruik te maak.
Boodskap
Ons teks vir vanoggend het my laat dink oor die verhouding tussen mag en invloed. Voorheen sou ek maklik gesê het: dit is eintlik maar dieselfde ding. Hoe meer mag jy het, hoe groter jou invloed. Hoe hoër jou magsposisie, hoe groter is die impak van jou woorde en dade op die samelewing.
Petrus bring egter ‘n ander perspektief vir ons vanoggend. Onthou hy skryf aan mense wat ervaar dat hulle besig is om hulle posise in die samelewing te verloor, al meer na die rand uitgestoot word – magteloos en weerloos word.
Dit is vir hiedie moeilike omstandighede dat hy sy brief stuur om hulle te bemoedig, maar ook raad te gee vir hoe hulle nou moet optree.
Ons teks vandag is egter geskryf aan mense wat nog meer as die gemiddelde Christen uitgelewer was – die huis-slawe, mense wat absoluut uitgelewer was aan hulle eienaars se wil, sonder enige regte of posisie in die samelewing.
Kom ons lees saam:
1 Petrus 2:19-25
Christus die voorbeeld vir dié wat ly
19Dit is genade as iemand die pyn van onverdiende lyding verduur omdat hy aan God getrou wil wees. 20As julle gestraf word wanneer julle oortree het, watter verdienste is daarin as julle dit verdra? Maar om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. 21Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ‘n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg. 22“Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit ‘n leuen gekom nie.” 23Toe Hy beledig is,het Hy nie terug beledig nie,toe Hy gely het,het Hy nie gedreig nie,maar alles oorgelaataan Hom wat regverdig oordeel. 24Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees. 25Julle het immers soos skape rondgedwaal, maar nou het julle teruggekom na julle Herder en die Bewaker van julle lewe.
Hierdie woorde moes maar ‘n moeilike ding vir hierdie groepie mense gewees het. Onthou – hulle het onlangs gehoor dat hulle die Jesus die Here behoort – die hoogste gesag in die heelal, hulle is die kinders van Almagtige God. Petrus self het net bietjie vroeër in hierdie hoofstuk na hulle verwys as ‘n “koninklike priesterdom, die eiendomsvolk van God.”
En wat is dit wat Petrus van hulle vra? “Onderwerp julle”.
Dit is eintlik baie ontstellend!
Dit is ook baie duidelik dat Petrus weet dat onderwerp en lyding vir heirdie mense baie naby aan mekaar lê. Onderwerp veronderstel ook swaarkry.
Die lyding waaraan hulle blootgestel is kan verskeie vorme aanneem: iemand kon dalk die slaaf van ‘n goeie eienaar wees wat hom of haar billik en regverdig hanteer en dus “maar net” ly deur die feit dat hulle geen persoonlike vryheid het dit – en dit is alreeds baie erg; maar ander se lyding kon inhou dat hulle uitgelewer is aan, wat Petrus noem, onredelike eienaars. Letterlik beteken die griekse woord “kromgetrek” (skolios) met die figuurlike betekenis van boos, kwaadwillig, onregverdig. Vir beide gevalle sê Petrus: onderwerp julle.
Maar hy doen dit nie ligtelik nie. In vers 21 sê dat hulle dit moet doen wetende dit is hulle roeping van die Here vir die tyd en plek waar hulle hulleself bevind. Dis hoe hulle geroep word om in die voetspore van die Here Jesus te volg.
Petrus gee dan ook ‘n dudielike voorbeeld Jesus se voetspore. Hy haal Jesaja 53 aan, waar vertel word hoe ‘n kneg sou kom wat die res van die volk sou dien deur Homself oor te gee aan lyding – ons gebruik elke jaar met Kerstyd juis hierdie teks om te onthou wat Jesus kom doen het. En wat is dit wat Hy doen?
Hy ontmagtig Homself, maak Homself magteloos – selfs tot in die dood aan die kruis ter wille van ander.
Maar magteloos beteken nie invloedloos nie. Die gevolg van Jesus se mateloosheid is dat die verhaal van die kruis oor die hele wêreld uitgaan – ook na Petrus se lesers. Dit is immers hoe self hulle deel gekry het aan die groot beloftes van God. Juis omdat Jesus bereid was om van sy mag af te sien.
So vir Petrus se lesers sou dit kon beteken dat hulle gebrek aan mag nie ‘n gebrek aan invloed is nie. Hulle het steeds invloed selfs al is hulle, as slawe, so laag in die sameleweing. Een van die redes waarom Petrus sy brief skryf is juis omdat hy oortuig is dat Christene se optrede wel ‘n verskil kan maak – selfs in ‘n wêreld waarin hulle almeer magteloos word. Net bietjie hoër op in ons hoofstuk sê hy :
15Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, ‘n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat.
Petrus is oortuig daarvan dat sy lesers se optrede mense se idee oor God en Jesus kan verander. Hulle het invloed wat kan geld.
Wat sê dit vir ons? Dit is nogals skrikwekkend om te sien hoe vinnig magtige instansies, persone, lande magteloos gelaat is deur hierdie virus -wat ons nie eens kan sien nie! Ons het ook elkeen aan ons lyf gevoel hoe ons so vinnig ons vryheid kon verloor – al is dit net om ons eie wil te kan volg. Maar steeds geld die waarheid: sonder mag beteken nie sonder invloed nie.
Ons is net soos Petrus se lesers ook geroep vir hierdie tyd. En, ja, ons sou graag eerder wou hê dat dit nie ons tyd en omstandighede sou wees nie, teruggaan en 2020 oor wou begin – maar ons kan nie. Die omstandighede is wat dit is.
Maar ek is tog oortuig daarvan: hierdie is ons tyd. Hierdie is ons roeping!
So hoe lyk invloed nou?
Daar is sekerlik verskeie moontlike maniere om daarna te kyk, maar ek het ‘n idee uit ‘n onverwagte oord gekry. As deel van ons hantering van die grendeltyd het ek en my jongste seun, CJ die hele Lord of the Rings film-reeks gekyk – die oorspronklike trilogie en die latere The Hobbit reeks. En dit is juis in die eerste film van The Hobbit waar, na my mening, die belangrikste toneel in die hele reeks plaasvind. Een van die karakters vra vir Gandalf die towenaar, waarom hy juis Bilbo Baggins (‘n Hobbit) op so ‘n gevaarlike avontuur neem. Net ter wille van agtergond: Hobbits is halfgrote mense met groot, harige voete wat niks meer geniet as om veilig in hulle ondergrondse huise te bly nie. Hulle is so ongereken in die groter wêreld dat daar na hulle verwys word as “halflings” – letterlik net halwe wesens. So waarom sal Gandalf vir Bilbo saamneem?
Hier is Gandalf se antwoord:
“Saruman (nog ‘n magtige karakter) believes it is only great power that can hold evil in check. But that is not what I have found. I’ve found that is the small things, the everyday deeds of ordinary folk that keep the darkness at bay. Simple acts of kindness and love.”
Daardeur gee Tolkien ‘n motief vir die res van sy reeks. Dit is die klein, ongesiene dade van gewone mense wat ons wêreld eintlik te diepste verander. Dit is ook waar van die kerk van die Here Jesus. Dit is juis tye wat die kerk magteloos lyk dat ons dalk juis die grootste invloed kan uitoefen.
Ons positiewe ingesteldheid, ons hoopvolle woorde, ons opoffering ter wille van ander – dis die dinge wat ons invloed die wêreld instuur.
Daar lê sekerlik vir ons nog heelwat moeilike tye voor, tye van ontberings en opofferings. Maar hier en nou is ons ook op die voetspore van die Here Jesus. Hier is ons geroep om te doen soos Hy gedoen het.
Hierdie week gaan ons waarskynlik bietjie meer vryheid beleef (met die afskaling na fase 5 van die Covid-19 reëls) – hopelik kan dinge vir jou ook so bietjie meer normaliseer.
Maar mag jy ook tussen alles wat jy hierdie week gaan doen tog ook vra na die invloed van jou woorde en dade: Wat sien mense van die Here Jesus deur jou optrede?
‘n Laaste storie: Tannie Engela (in ‘n vorige gemeente – nie haar eie naam nie) is baie siek – eintlik sterwend. Ek gaan kuier en vra maar die vrae wat mens mos maar in sulke tye vra. Ek is gereed om te hoor hoe erg dit is want ek weet dit gaan regtig maar moeilik. “Ja, dominee,” antwoord sy, “dit is maar erg moeilik, maar weet jy nou het ek net tyd om vir almal te bid.”
Magteloos maar selfs hier ‘n groot stuk Hemelse invloed!