- Prediker: Fourie Rossouw
- Luisterteks: 1 Petrus 1:17-23
- Tema: Vreemdelinge wat mooi loop
Gebruik die onderstaande gespreksritme en preekteks om jou Huiskerk-ontmoeting in te rig.
‘n Gespreksritme vir Huiskerk
Gebruik hierdie nuwe werklikheid as ‘n goeie geleentheid om nuut te dink oor waar kerk gebeur en wat die kerk is. Jou huis is ‘n ontmoetingsplek en jy is die kerk. As daar mense saam met jou in jou vergader, is julle vanoggend ‘n gemeente in die kleine.
- Begin deur iemand te vra om as voorganger / liturg op te tree
- Gebruik die onderstaande ritme om julle saamwees vanoggend in te rig.
Bid
- Raak vir ‘n oomblik rustig en stil. Laat die stilte toe om jou te help bewus raak dat die Here teenwoordig is daar waar jy jouself nou bevind.
Dank
- Waarvoor is jy vanoggend dankbaar? Indien jy op jou eie deur hierdie inhoud werk, skryf dit in jou joernaal neer. Indien julle saam as ‘n gesin of huismaats vergader, gee vir elkeen ‘n kans om op te noem dit waarvoor elkeen dankbaar is.
- Aanlyn dankoffers – Indien jy hierdie geleentheid wil gebruik om ‘n dankoffer of skenking aan die kerk te maak, nooi ons jou om van Snapscan of EFT gebruik te maak.
Lees
Losgekoop met die kosbare bloed van Christus 17Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld. 18Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. 19Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. 20Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom. 21Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig.
Weergebore deur die lewende en ewige woord van God 22Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. 23Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.
Boodskap
Een van die mees bekende opstandingstories is dié van die Emmausgangers. Twee van Jesus se dissipels het in die nadraai van Jesus se kruisiging, nadat gerugte van sy opstanding hulle net nog meer deurmekaar gemaak het, die pad terug na hul tuisdorpie gekies.
Ons weet nie hoekom hulle na Emmaus toe gegaan het nie. Dalk het hulle gevlug. Of wou hulle wegkom van die deurmekaarspul waarin die volgelinge van Jesus oornag verander het. Miskien het hulle besluit om terug te keer na dit wat vir hulle bekend was. Na iets wat standvastigheid te midde van die groot verandering sou bring.
Op die pad word hulle vergesel deur ‘n vreemdeling. Aanvanklik het hulle hulle vir die vreemdeling vererg, maar hoe langer hulle saam gestap het, hoe warmer het hulle harte teenoor die vreemdeling geword.
Die draaipunt van die verhaal vind ’n mens in hulle alledaagse kulturele gasvryheid. Dit was donker toe hulle saam met vreemdeling in Emmaus aangekom het. Hulle sou van kleins af geleer het dat jy altyd gasvryheid teenoor die vreemdeling in jou midde moet bewys. So nooi hulle hom toe in en laat hom saam aansit vir ete. Met die breek van die brood gaan hulle oë oop vir wie die vreemdeling eintlik is: Hulle vriend, leermeester en Here, die opgestane Jesus van Naseret.
Hierdie opstandingstorie eggo in die wysheid van die eerste brief van Petrus.
Die woord “vreemdeling” is ’n sentrale metafoor in Petrus se brief. In sy openingswoorde rig Petrus sy skrywe aan God se uitverkorenes, wat soos vreemdelinge in die wêreld verspreid woon. Die Ou Vertaling sê dit nog meer treffend: “vreemdelinge van die verstrooiing.”
Hier in vers 17 kom die idee van vreemdelingskap weer na vore. Petrus praat van ’n “tyd van vreemdelingskap” waarbinne die geloofsgemeenskap vir wie hy skryf hulself bevind. Die Ou Vertaling gebruik die woord “uitlanders” om die oorspronklike Grieks raak te vertaal.
Dit so ’n treffende metafoor veral vir die tyd waarin ons nou leef.
Die geweldige verandering wat ons almal nou deurgaan los ’n mens met ’n verstrooide gevoel van vreemdelingskap.
Ons is sosiaal afgesonder en ontwortel van dit wat bekend is.
Petrus se brief kan ons vandag help om sinvol met ons eie gevoel van vervreemding om te gaan.
Ek kan net dink as jy vir Petrus sou vra “Wat is die kerk?”
Dan sou hy dalk antwoord: Die kerk is ’n klomp verstrooide vreemdelinge uitgekies deur God.
Die teoloog Miroslav Volf het ’n besonderse kommentaar op hierdie brief geskryf. Vir hom is hierdie brief van Petrus ’n belangrike dokument vir elke Christen wat wil weet hoe hy of sy getrou aan God leef in ’n wêreld wat nie noodwendig dieselfde oor God dink nie.
Hy verduidelik dat die kerk van Petrus se tyd onder geweldige kritiek deurgeloop het, omdat hulle so anders geleef het.
Die wêreld het die kerk as vreemd beskou. Petrus se brief het hulle gehelp om hierdie “vreemdelingstatus” te omhels en dit te sien as deel van dissipelskap.
Volf verduidelik verder dat die identifsering met die vreemdeling-metafoor die kerk op twee maniere gehelp het:
Aan die een kant het die kerk ’n veilige plek geword vir vreemdelinge. Mense wat hul plek aan die hooftafels van die samelewing verloor het of nog nooit gehad het nie, is soos ’n eregas ontvang aan God se nuwe tafel.
Aan die ander kant het dit die kerk gehelp om werklik ’n alternatiewe gemeenskap te wees. Deur ’n volgeling van Jesus te word, het jou op ’n ander weg as die normale hoofroetes van die dag geplaas.
Waar wraak die norm is, draai Christene die ander wang.
Waar jaloesie en vraatsug koning kraai, deel Christene dit wat hulle het met ander uit.
Waar mense die mees weerloses gesien het as ’n struikelblok vir groei, het die Christene Christus in hulle raakgesien.
Hierdie andersheid van die Christen gemeenskap was veral sigbaar in tye van pandemies soos dit wat ons tans beleef. Die antieke Romeinse wêreld het gebuk gegaan onder ‘n reeks erge epidemies waartydens miljoene mense gesterf het. Daar is heelwat goeie navorsing gedoen oor die vroeë kerk se positiewe gesindheid en proaktiewe betrokkenheid by mense se nood en pyn gedurende hierdie tye.
As jy meer wil weet en leer van die vroeë kerk en die pandemies van die Romeinse Ryk, ek het op ons webblad ’n skakel na ’n goeie artikel hieroor geplaas. Gaan loer gerus.
Terug na Petrus se brief.
In hierdie vreemde tye help sy brief my om in die spore van die
eerste gelowiges nie weg te skram van die gevoel van vreemdelingskap nie, maar dit eerder te omhels as ’n kenteken van God se uitverkiesing.
En waarvoor het Hy ons klomp vreemdes uitverkies?
Daarop sal Petrus in sy brief antwoord: Om vir Hom ’n huis in die wêreld te wees.
As jy verder lees in Petrus se brief dan kom hierdie metafoor navore: Ons is saam ’n geestelike huis met Jesus as die hoeksteen.
En dit bring ons by die volgende raakplek met die Emmausgangers. Dit was eers toe hulle die vreemdeling in hulle huis ingenooi het, wat hulle hulself ’n kans gegee het om die vreemdeling te sien vir wie hy werklik was.
Die kerk is ’n tuiskomplek in ’n vreemde wêreld.
’n Woonplek waar vreemdelinge saam brood breek en so vriende word.
’n Huis waarin God homself openbaar.
Daar is ’n derde metafoor wat my aangeraak het in my wandel saam met Petrus hierdie week:
En dit is die woord Wandel.
In die Nuwe Vertaling word vers 17 soos volg vertaal: lewe in eerbied gedurende die tyd van julle vreemdelingskap.” Die sin het my dadelik opgeval want om te lewe met Eerbied vir God is een van ons gemeente se kern waardes.
Die Ou Vertaling nooi ons beter in die metafoor in:
“Wandel in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap.”
Die vrees wat hier ter sprake is, is nie dieselfde vrees wat by die Emmausgangers en die ander dissipels was nie. Petrus moedig nie sy gemeenskap aan om weg te loop van gevaar nie. Petrus tap in ’n baie ou tradisie waarvan sy gemeente deel was: Die Wysheidstradisie. In die Psalms en in Spreuke hoor ons keer op keer dat Wysheid begin by die vrees vir Here.
As jy opsoek is na wysheid in jou tyd van vreemdelingskap, moedig Petrus jou aan om jou voete te draai in die rigting van God.
Hierdie woord kom sewe keer voor in Petrus se brief. Daar is goeie rede hoekom die NT dit eerder vertaal met “lewe”: Want dit gaan hier oor jou hele lewe voor God. Die woord lewenswandel is dalk nader aan die ware Jakob.
Nou wat belangrik is om te noem, is dat dit nie gaan oor ’n lewenswandel wat beter is as jou ongelowige buurman nie, maar eerder ’n lewenswandel wat streef om beter as jou ou self te wees. Die vreemde, heilige treë wat Christene in wysheid gee is altyd weg van ons ou, selfsugtige self, en in die rigting van ’n lewenswandel wat eer aan God bring.
Hoe lyk so ’n lewe wat eer bring aan God?
Om mekaar van harte vurig lief te hê.
Ek sluit af. Vroeër die week is besig in die kombuis en oor die radio speel Elvis Blue se liedjie Berg. Die volgende woorde het my vir ’n oomblik laat stop waarmee ek besig was:
Stof jouself af, Jy’s gemaak vir vêr lande
Vir branders wat breek voor jou deur
Hou vas deur die hartseer wat jy nie verdien nie
Daar’s geen hart wat die hemel nie sien nie.
In hierdie vreemde tyd van verandering, mag jy tuiskom by God.
Waar jy nutteloos voel, mag jy weet jy is uitgekies deur Hom wat reeds voor die Skepping deel was van God se groot heelmaakplan.
Waar ander ’n vreemdeling sien, mag jy die een wees wat Christus sien.
En waar jy voel jy wil terugkeer na die standvastigheid van dit wat bekend was, mag jy jouself afstof en mooi loop, want jy is gemaak vir ver lande en hierdie branders wat breek teen jou deur is niks teen die krag van Hom wat lankal reeds ’n tuiste in jou huis gevind het nie.
Amen.