Om by die leë graf te kom, moes ons eers verby die kruis en die doodse stilte na Sy laaste noodkreet. Vir Christene is die weg na die Lewe in Oorvloed gekenmerk deur opoffering, dissipline, uitdaging en selfs die dood. Die Opstanding van Jesus is nie “quick fix” vir ‘n brose en dikwels wêreld nie, maar eerder die oproep om Hom te volg in die wêreld in, want die Koninkryk van God is aan die kom en Sy wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.
- Teks: 2 Korintiërs 4:7-14, Johannes 20:10-18, Handelinge 10:34-43
- Aanbieder: Fourie Rossouw
- Paassondag 4 April 2021
Nadenke
Vir ons dogtertjie se geboorte het haar ouma vir haar ’n sagte speelgoedhasie gegee. Dit is een van daardie soort wat bedoel is om te sus, eerder as om te speel. Dit het nie ogies, mondjie of selfs ’n kenmerkende hasiestertjie nie. Van al die sagte speelgoed in haar kot, is hierdie hasie beslis die een wat minste aandag moes trek. As ek ’n weddenskap op enige van die speelgoed moes plaas wat haar hartjie sou verower, sou dit veel eerder Pienk Perdjie, Oulike Olifantjie of Klein Babaskapie gewees het. Maar helaas, is ek verkeerd bewys, want die hasie sonder ’n gesig of ’n stertjie het diep in my dogter se klein mensiehart ingekruip.
Menige nagte, wanneer dit by slaaptyd kom, moes ons die huis fynkam om vir Hasie te vind. ’n Keer of wat het ons die flater begaan om haar by die skooltjie sonder Hasie af te laai. Nodeloos om te noem was sussie en haar juffrou in ’n bedenklike bui teen die einde van die skooldag. So kry my vrou toe ’n blink gedagte. Sy reël met haar ma om by dieselfde plek waar Hasie gekoop was, nog een van sy soort te gaan soek. My skoonma is een van daardie kernmerkende raakvatter vroue, dus was dit nie lank nie of daar was twee identiese hasies in ons huis. Maar tot ons spyt het ons dogtertjie nie dieselfde affiniteit vir die nuwe, skoon en blink hasie ontwikkel nie.
Toe ons weer hoor het sy begin praat van haar Hasie as Bou Hasie. Ons is nie seker of sy bedoel het blou of oud nie. Eersgenoemde kan verwarrend wees, want Hasie se kleur is pienk. Maar sit jy hom langs die nuwe hasie, dan lyk hy nader aan blou as wat ’n mens aanvanklik sou dink. Nie lank daarna nie, het sy van Bou Hasie begin praat as Vuil Hasie en van die nuwe hasie as Skoon Hasie. Dit het egter nie haar gevoel teenoor beide hasies beïnvloed nie, inteendeel, hoe vuiler Vuil Hasie geword het, hoe meer aansien het hy gekry.
Ons dogtertjie se liefde vir haar deurleefde en asvaal hasie laat my dink aan die baie bekende kinderverhaal van Margery Williams getiteld “The Velveteen Rabbit”. Die verhaal begin met ’n vraag wat, sedert Pinocchio, in die speelhartjie van elke speelding op aarde leef: “Hoe word ’n speelding rêrigwaar?” Die fluweel hasie word met hierdie eksistensiële vraag gekonfronteer in die aangesig van speelgoed wat veel meer gesofistikeerd is as hy. Soos ons dogtertjie se hasie, het hy nie juis baie bewegende parte nie. Hy maak nie spesiale geluide nie en hy het nie liggies wat aan en af kan sit nie. Hy is maar net ’n doodgewone speelgoedhasie.
Die antwoord op sy vraag soek hy by die hobbelperd. Dié ou wyse speelding help hom dan om die diep geheimenis van die lewe te ontsluit. Die pad na rêrig-êrigwees loop nie verby blink en indrukwekkende dinge nie. Dit kronkel en draai deur die labarint van die liefde. Om rêrig te wees, is om geliefd te wees. Liefde los jou met vlekke, merke, trane en gelukkig ook lagplootjies. Dit vryf jou soms verkeerd op en rafel jou nate uit.
Liefde se transformerende krag gebeur ook nie oornag nie. Dit neem ’n leeftyd. Teen die tyd dat jy rêrig-êrig geword het, het jou hare uitgeval en is jou lyf vol flappe en voue. Daarmee saam kom ook ’n waarskuwing. Rêrig-êrig gebeur nie met speelgoed wat maklik breek nie. Iets wat agter ’n glaskas gebêre moet word, sal nooit deur die liefde aangeraak kan word nie.
Hulle wat die erekleure van deurleefdheid wil verdien, moet hulself weerbaar vir die liefde maak.
Sela.