Geaard in genade


Aanlynboodskap vir Sondag 11 Oktober 2020

Luisterteks

Psalm 23

Die Here is my herder

1 ’n Dawidspsalm.
Die Here is my herder;
daar is niks wat my ontbreek nie.
2Hy laat my lê in groen weivelde;
na water waar rus is,
lei Hy my.
3Hy gee my nuwe krag.
Hy lei my op die pad van geregtigheid tot eer van sy Naam.
4Wanneer ek loop in ’n baie donker kloof,
sal ek nie bang wees nie,
want U is naby my.
U stok en u staf
beskerm en ondersteun my.
5U berei vir my ’n feesmaal v
oor die oë van al my vyande.
U verwelkom my as ’n eregas
deur my kop te salf met olie
en my beker oorvol te maak.
6Waarlik, u goedheid en trou
vergesel my al die dae van my lewe;
en ek sal bly
in die huis van die Here
so lank as wat ek lewe.

Preekgedagtes

In die begin van grendeltyd het my vrou ‘n klompie malvatakke gesny en dit in blompotte gesit. Een van die ruikers het in die kinders se badkamer op ‘n vensterbank gestaan en lank nadat die ander takke hul weg tot op die komposhoop gevind het, het die dié outjie die toets van tyd deurstaan. Die afgelope week of wat het die blare begin geel raak en verdor. Dis duidelik dat die plant meer benodig is as die bietjie wat water in die bodem van die vaas. Aanvanklik het dit geweldig positief gereageer op die oorvloed water. Dit het selfs na ‘n paar weke begin wortelskiet. Helaas, is die medium waarin dit gedurende grendeltyd gestaan het, nie genoegsaam vir al die energie wat nodig is vir die blomseisoen waarin die plant homself nou bevind nie. Toe ek vir ‘n tuinvriendin van die plant vertel, sê sy prontuit: “Jou plant soek grond”.

So is dit ook met die kerk in hierdie dae. Na amper 7 maande van grendeltyd en sosiale afsondering is dit duidelik dat ons baie meer nodig het om volwaardig kerk (en mens) te wees. Aanvanklik het ons goed aangepas in die nuwe medium waarin ons geplant was, maar soos tyd aangegaan het, so het herontdek dit wat waarlik belangrik is vir ‘n individu, gesin, gemeente en gemeenskap.

Dikwels gooi die lewe die appelkar om en bevind ‘n mens jouself in ‘n nuwe situasie waarin jy moet aanpas met die hoop om te oorleef. Heel dikwels is daardie nuwe situasie nie geskik om in te floreer oor ‘n lang periode van tyd nie. Want soos met die malvaplant, so ook met ‘n mens. Dalk is dit ook die rede hoekom Jesus vir die Satan gesê het dat ‘n mens nie net van brood alleen leef nie (Matt 4:4). Om vrug te dra en jou volle potensiaal te bereik, verg lewenskrag vanuit ‘n dieper lewensaar.

Die Leesrooster se Psalm vir die week is die tydlose Psalm 23. Deur die eeue heen het mense van verskillende geloofstradisies met hierdie diep belydenis geïdentifiseer. Die tradisie van Psalm 23 bereik ’n hoogtepunt wanneer Jesus Christus aankondig dat hy die Goeie Herder is waaroor sy voorsaat Dawid geskryf het.

Wat maak hierdie Psalm so tydloos? Die geskiedenis wys immers dat mense se lewens dikwels afspeel by droë rivierlope waar vrede ontbreek. Ons skiet dikwels ver tekort. Ons is ontevrede en smag na meer. Ons begeer. Ons is jaloers oor die groen gras van ander se lewens. Ons is futloos en swak. Ons sukkel om tot rus te kom. Ons pik karig aan krummels in die aangesig van ons teenstanders. ’n Mens sou dink dat Psalm 23 slegs gebid word deur enkele individue wie se lewens wel langs waters van vrede uitspeel.

En tog nie.

Psalm 23 word meer gereeld gebid juis langs die droë rivierlope en die dooie grasvelde, want Psalm 23 is ’n belydenis van hoop gebore uit ’n diep vertroue in God se goedheid.

Vie dié wie se begeertes alewig op hol loop, is die Psalm ‘n heroriëntasie na ‘n tevrede lewe van genoegsaamheid. Vie dié wie se lewe in donker dieptes gaan draai, is die Psalm ‘n lig aan die einde van die tonnel. Vir dié wie verteer word deur konflik, wraak en woede, is die Psalm ‘n uitnodiging om saam met al God se mense aan die feesmaaltafel te sit. Vir die soekende, die hawelose en die lustelose is die Psalm ‘n padkaart om tuis te kom in God se teenwoordigheid.

Die Psalm is wel toegedig of opgedra aan Dawid, maar dit gaan nie oor Dawid nie. Die digter se oë is gerig op die Herder. Al loop sy pad in die rigting van donker dieptes, voel hy geborge in die Herder se leiding. Psalm 23 is ’n gebed van iemand wat met dankbaarheid en genoegsaamheid leef, ten spyte van erge tekort, teenstand en gevaar.

Die goeie nuus van malvaplant is dat dit, anders as byvoorbeeld ‘n roos, oor die vermoë beskik om uit te hou, vas te byt en selfs wortels te skiet in ‘n situasie wat nie wenslik vir sy voortbestaan is nie. Haal jy dit dan daaruit en gee dit goeie grond, kompos en water, dan is dit sommer gou weer ‘n plant wat pronk in enige tuin.

Mag ons meer gereeld wees soos ‘n malvaplant. En waar ons moedig poog om in droë rivierlope wortel te skiet, mag die Goeie Tuinier ons lei na waters waar daar vrede is.

Vorige
Lyflik