Die Kerkraad van Strand-Noord NG Gemeente neem kennis van ‘n artikel in die koerant aangaande Strand Moedergemeente. Die artikel verwys na ‘n brief wat aan gemeentelede gestuur is waarin verskeie geloofsake gelys word waarin die kerkraad van Moedergemeente beweer dat die Algemene Sinode in hierdie geloofsake “dwaal”.
Die Moderatuur sowel as die Ringskommissie het verklarings uitgereik rakende die saak. Hier is die skakel waar u die verklarings kan lees:
Moderatuur reik verklaring uit:
Nelis Janse van Rensburg reik die volgende verklaring uit namens die moderatuur van die NG Kerk in Wes-Kaapland rakende standpunte van die NG Kerk Strand (Moederkerk):
“Die berig in Die Burger van 14 Julie 2021 oor die NG Kerk Strand se dolering, asook die redes waarom hulle doleer, het diep verontrusting veroorsaak by elkeen wat lief is vir die Here en vir Sy kerk.
Die aansprake wat luidens die koerantberig deur die kerkraad van hierdie gemeente gemaak word, is nie net ’n wanvoorstelling van die standpunte van die NG Kerk nie, dit is ook misleidend vir lidmate van die gemeente en enige leser van die berig. Trouens, daar is geen standpunt of besluit van die Algemene Sinode van die NG Kerk, of van enige ander van die deelnemende sinodes van die Algemene Sinode wat enige van die stellings wat gemaak word, ondersteun nie. Die kerkraad se stellings is onverstaanbaar aangesien dit nie moontlik is om op ‘n redelike wyse tot so ‘n interpretasie van die helder besluite en duidelike standpunte van die Algemene Sinode oor elkeen van hierdie sake te kom nie.
Dit is hartseer dat die kerkraad hierdie posisie inneem in weerwil van al die opsies om met verteenwoordigers van die kerkverband, hetsy op rings- of sinodale vlak, in gesprek te tree en op grond van ‘n korrekte feitestel standpunt in te neem. Dit is veral verontrustend aangesien dit die integriteit van die hele kerkraad in gedrang bring. Die ergste van die beweringe is dat die NG Kerk in eie geledere geloof in die opstanding van Christus as ‘n opsionele saak beskou. Dit is erg misleidend en onwaar en geskied in weerwil daarvan dat die opstanding van Christus die hart van ons belydenis en geloof is.
Die kerkverband sal op gepaste wyse en met liefde met die kerkraad van Strand-gemeente in gesprek tree en alles moontlik doen om die nodige regstellings in die denke en posisie van die kerkraad te maak. Die eer van Christus is hierin op die spel. Hy is immers die Hoof van die kerk. As lede van Sy liggaam is ons daartoe verbind om met liefde, eensgesindheid en welwillendheid die Here te dien.”
Skrywe van Ringsvoorsitter:
As Ringkommissie van die Ring van Somerset-Wes het ons reeds op 8 Julie 2021 gevra dat ons sou gou moontlik met die kerkraad van Die Strand oor hulle besware in gesprek wil tree. Die berig in die Burger van 14 Julie maak dit noodsaaklik dat die ringskommissie reeds nou al in die openbaar hierop reageer.
Die ringskommissie sou op elkeen van die sewe punte kon reageer, maar die briewekolom laat nie ruimte daarvoor nie. Dalk tog een saak wat die ring en NG Kerk na aan die hart lê naamlik die kerkraad se persepsie dat die NG Kerk glo dat “jy nie hoef te glo in die maagdelike geboorte van Jesus en sy fisieke opstanding nie, omdat dit nie wetenskaplik moontlik is of bewys kan word nie”.
Daar bestaan geen feitelike gronde vir hierdie stelling nie. Op die 2019 Algemene Sinode het ʼn verslag gedien oor Missionale Kerkwees wat die kerk se oortuiging soos volg verwoord: “Die groot verhaal van die Bybel is van God wat mense soek, roep, verlos, heilig en stuur. God se heilswerk kulmineer in die dood en opstanding van Jesus en die versoening tussen God en mens wat daar plaasvind. “Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!” (Ef 2:5) Elke lidmaat het die voorreg om op ‘n baie persoonlike vlak hierdie redding te beleef en gepaardgaande vergifnis te ervaar. Deur die dood en opstanding van ons Verlosser, Jesus Christus, kan ons nou in ‘n herstelde verhouding met God leef”. (Agenda van die Algemene Sinode 2019) Dit reflekteer die NG Kerk se standpunt.
As ringskommissie wil ons hierdie saak en ook die ander punte met die kerkraad bespreek. Dit is vir ons baie hartseer dat sulke persepsies die wêreld ingestuur word in ʼn tyd waar ons hierdie opstandingsgeloof en troos meer as ooit nodig het. In hierdie tyd waarin mense groot lyding ervaar a.g.v. die Covid-19 bly ons enigste hoop dat ons ook saam met ons Here Jesus uit die dood sal opstaan. As kerk is dit ook nie nou die tyd om vas te val interne teologiese debatte terwyl ons land letterlik brand nie. Laat ons vir Jesus Christus volg op straat, waar mense ly, kwaad is en selfs geweld pleeg, deur vrede, hoop en herstel te bring.
Groete in die naam van die opgestane Jesus Christus.
Dr. Christo Benadé
Voorsitter van die Ring van Somerset-Wes
One Comment
Naweeknuus - Strand-Noord NG Gemeente Pingback
[…] […]
Commenting has been turned off.