Sondag 16 April 2023
- Fourie Rossouw
- Johannes 20 / Psalm 16
- Tema: Lewensonderrig 2.0
Nadenke
Ons leef in die nadraai van die leë graf. Ons hardloop kort op die hakke van hulle wat resies gejaag het in die rigting van die Tuin van Goeie Nuus. Dink aan Maria en haar ontmoeting met die opgestane Jesus. Deur haar trane het sy vir Hom met die tuinier verwar. Maar toe Hy haar naam noem, het sy geantwoord: “Meester!”. Dink aan Thomas. In sy afwesigheid, is hy in ongeloof gedompel. Maar toe Jesus hom toelaat om aan die kruiswonde(r) te vat, het hy geantwoord: “My Here en my God.”
Die lewe in die nadraai van die leë graf gaan nie oor dogmatiese geloofbelydenisse nie. Die Goeie Nuus van die opstanding gebeur nie met ons omdat ons ‘n stel geloofswaarhede bely nie. Maar omdat ons, soos Maria en Thomas vir Jesus in ‘n ander lig sien en ons lewens daarvolgens rig. Hy is ons Meester. Hy is ons Here. Hy is ons God.
In hierdie boodskap staan ons stil by van een van Dawid se mooiste gebede: Psalm 16. Petrus haal hierdie besonderse Psalm aan in sy bekende toespraak in Handelinge 2. Die 11e vers van die Psalm eggo Maria se reaksie op Jesus wat haar naam noem. Soos vir Dawid, so ook vir Maria is God die Ewige Leermeester. Die Een wat ons lewe rig op die regte pad.
Hierdie “regte pad” loop nie gelyk en maklik nie. In die woorde van die legendariese liedjieskrywer Piet Botha: “Dis moeilik om ‘n mens se kind te wees.” Daarom dan Psalm 16 se dankbare pleidooi by God: U leer my hoe om te lewe.
So het jy al aan jou geloofspad gedink as Lewensonderrig? Waarmee sukkel jy? Waarin wil jy groei? Waar kan jy verbeter? Waar kort jy raad? Waar benodig jy ‘n hupstoot?