Studente van dankbaarheid

Studente van dankbaarheid

Verheerlikingsondag heroriënteer ons om in Christus se lig te leef met leerbaarheid en dankbaarheid.

Gedurende hierdie aanlynboodskap is daar ook ‘n geleentheid om deel te neem aan ‘n nagmaalsliturgie. Ons nooi jou om ‘n stukkie brood en wyn/sap gereed te kry en aan die einde van die boodskap die nagmaal so te ontvang.

Luisterteks: Psalm 50 / Markus 9:2-11
Aanbieder: Fourie Rossouw

Luistertekste

Psalm 50 – 1953 vertaling

Die ware godsdiens.
1 ‘n PSALM van Asaf.
Die God van die gode, die Here, spreek en roep die aarde, van die opgang van die son af tot sy ondergang toe.
2Uit Sion, die volkomenheid van skoonheid, verskyn God in ligglans.
3Onse God kom en kan nie swyg nie. Vuur verteer voor sy aangesig, en rondom Hom storm dit geweldig.
4 Hy roep na die hemel daarbo, en na die aarde, om sy volk te oordeel:
5Versamel my gunsgenote vir My, hulle wat my verbond by die offer sluit!
6En — die hemele verkondig sy geregtigheid, want God staan gereed om te oordeel! Sela.
7 Hoor, my volk, dat Ek kan spreek; Israel, dat Ek jou dit kan inskerp: Ek is God, jou God!
8 Oor jou offers bestraf Ek jou nie, en jou brandoffers is altyddeur voor My.
9 Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie;
10want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende.
11Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van My.
12As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid.
13Sou Ek vleis van stiere eet of bloed van bokke drink?
14 Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste;
15en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.
16Maar aan die goddelose sê God: Wat vertel jy nog my insettinge en neem jy my verbond in jou mond —
17terwyl jy die tug haat en my woorde agter jou werp?
18As jy ‘n dief sien, dan geval dit jou by hom, en jou deel is met die egbrekers.
19Jou mond laat jy los in boosheid, en jou tong vleg bedrog.
20Jy sit en praat teen jou broer, die seun van jou moeder beskimp jy.
21Hierdie dinge het jy gedoen, en sou Ek swyg? Jy dink Ek is net soos jy! Ek gaan jou straf en jou dit ordelik voor oë stel.
22Verstaan dit tog, o Godvergeters, sodat Ek nie verskeur sonder dat iemand red nie.
23 Die een wat dank offer, eer My; en die een wat op sy weg ag gee, hom sal Ek die heil van God laat geniet.
Verskaf met die komplimente van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. © Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Markus 9:2-10

Die verheerliking op die berg(Matt. 17:1-8; Luk. 9:28-36)
2Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle op ‘n hoë berg gebring waar hulle heeltemal alleen was. Toe het sy voorkoms voor hulle oë verander, 3en sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie. 4Elia en Moses het toe aan hulle verskyn en met Jesus gestaan en praat.5Toe sê Petrus vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”6Hy het nie geweet wat hy sê nie, so verskrik was hy saam met die ander.7Daar het toe ‘n wolk gekom wat sy skaduwee oor hulle laat val het; en uit die wolk het daar ‘n stem gekom: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.”8En meteens, toe hulle weer kyk, sien hulle niemand meer nie, net Jesus alleen by hulle.

Jesus se dood is naby(Matt. 17:9-13)
9Terwyl hulle van die berg afkom, het Jesus hulle opdrag gegee om wat hulle gesien het, vir niemand te vertel voordat die Seun van die mens uit die dood opgestaan het nie. 10Hulle het hulle toe aan hierdie opdrag gehou, maar onder mekaar geredeneer oor wat dit beteken as Hy sê dat die Seun van die mens uit die dood sal opstaan.

Vorige
Nuwe Stories
Volgende
Vloedwaters