Hoe hanteer jy konflik? Hoe gemaak met die boelies? Is daar 'n beter manier vir Christene om op te staan teen ongeregtigheid en geweld? In Johannes 8 wys Jesus ons hoe om te midde van hoë emosies, dreigende geweld en onvermybare konflik die situasie te ontlont en in liefde die waarheid te laat seevier.
- Sondag: 1 November 2020
- Aanbieder: Fourie Rossouw
- Teks: Matteus 5:1-12; Johannes 8
[wplivestream]
Lees
Johannes 8:2-11
2Die volgende môre vroeg was Hy weer in die tempel en die hele volk het na Hom toe gekom. Hy het gaan sit en hulle geleer.
3Die skrifgeleerdes en die Fariseërs bring toe ‘n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel van die kring mense staan. 4Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het. 5Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?”
6Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe. 7Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.”
8Daarna het Hy weer gebuk en op die grond geskrywe. 9Toe hulle hoor wat Hy sê, het hulle een vir een begin wegloop, die familiehoofde eerste. Jesus is alleen agtergelaat saam met die vrou daar in die middel van die kring mense. 10Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?”
11“Niemand nie, Here,” sê sy.
Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”
Boodskap
Christene leef met ’n diep bewussyn van geregtigheid en vrede. Daar waar geregtigheid en vrede ontbreek, word ons geroep om heling en herstel te bring. Hierdie roeping het ons van Jesus ontvang. Die eerste gelowiges het oor Jesus getuig as iemand wat met sy hele lyf betrokke geraak het by die lewe se stukkende stories. Een van die bekendste verhale wat oor Jesus vertel word speel vandag nogsteeds in verskeie lewens af.
Die antieke skrywer Johannes vertel dat Jesus besig was om mense by die sinagoge te leer toe ‘n groepie mans (meestal kerkleiers) ‘n vrou wat met owerspel betrap was na Jesus toe gebring het. Die manier hoe Johannes die gebeure beskryf is baie merkwaardig. Hy gebruik Jesus se lyftaal om vyf bewegings in die verhaal uit te lig.
Die sittende Rabbi:
Terwyl Jesus gesit het en vir die mense stories oor God vertel het, het hulle die vrou tot in die middel van die groep mense gebring en haar voor Jesus laat staan. Die atmosfeer was emosiebelaai, jy sou die spanning met ‘n mens kon sny. Die liggaamshouding van die aanklaers het getuig van aggressie, woede en selfvoldane moraliteit. Die vrou se houding was een van skaamte en vrees. Volgens die tradisie waarvan sy deel was, was haar teregstelling nie ver nie – ‘n onvermydelike wrede steniging het op haar gewag.
Die Rabbi wat bukkend woorde in die grond skryf:
Te midde van die geweld doen Jesus iets ongewoon: Hy gaan hy af op sy knieë en skryf in stilte woorde in die grond. Jesus ontrek hom van die intense emosies. Hy neem ‘n ander houding aan. Hy skep asem. Hy soek insig. Hy raak stil. Hy praat met God. Jesus handhaaf ‘n baie volwasse hantering van konflik. Iets wat baie moeilik is om te doen wanneer die emosies so hoog en intens is.
Die Rabbi wat regop kom:
Die aanklaers het frustreerd geraak en het probeer om Jesus uit te lok. Hulle wou hê dat Jesus op hulle vlak moes deelneem aan die oordeel teenoor die vrou. Jesus reageer deur op te staan, maar hierdie keer met ‘n nuwe houding. Hy staan op namens die vrou en vat die wrede sisteem reg van voor aan. Hy sit sy eie lyf op die spel. Hy kyk die aanklaers in die oë en konfronteer hulle met hulle eie donker kante. Hy roep hulle op tot ware leierskap. Hy raas nie. Hy domineer nie. Hy boelie nie. Hy laat die waarheid die werk doen.
Die Rabbi wat alleen agterbly:
Daarna het Jesus weer gaan sit. Die waarheid van die evangelie was genoeg om alles te ontlont. Een vir een het die aanklaers weggestap, totdat Jesus alleen by die vrou agtergelaat is.
Die Rabbi wat nader staan:
Hierna het hy weer opgestaan en tot baie naby aan die vrou gekom. Hy het reguit met haar gepraat. Hy het haar menswees erken en haar pyn en vernedering bevestig. Hy het haar vrygespreek en haar met vergifnis heelgemaak. Sy houding teenoor haar het haar genooi tot ‘n beter manier van leef.
As ons vandag hierdie verhaal lees, te midde van hoë vlakke van geweld in ons samelewing, dan word ons uitgenooi om soos Jesus, nie net met ons woorde nie, maar ook met ons lywe deel te raak van die heling en die herstel van so baie wreedhede wat daagliks plaasvind.
Mag jy die genade ontvang om op jou kniee te gaan namens hulle aan wie daar onreg gedoen word. Mag jy begrond wees, wanneer die emosies hoog loop. Mag jy in die stilte wysheid vind. En mag jy dapper opstaan en met waarheid die wreedheid trotseer.