Lees
Openbaring 2:18-29 / Die boodskap aan Tiatira
18Skrywe aan die leraar van die gemeente in Tiatira:So sê die Seun van God, wie se oë soos vuur vlam en wie se voete soos geelkoper is:19Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding en Ek weet dat julle nou ook meer doen as tevore.20Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgodsoffervleis te eet. 21Ek het haar kans gegee om haar te bekeer, maar sy wil haar nie van haar onsedelikheid bekeer nie. 22Kyk, Ek gee haar aan ‘n siekbed oor, en die mense wat met haar owerspel gepleeg het, aan swaar lyding – as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. 23Haar volgelinge sal Ek deur ‘n pessiekte om die lewe bring. Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late.24Maar vir julle ander in Tiatira, wat nie hierdie leer aanhang en nie die “diep geheimenisse van die Satan”, soos hulle dit noem, leer ken het nie, sê Ek: Ek lê op julle geen ander verpligting nie; 25hou net vas wat julle het, totdat Ek kom.26Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Ek wil hê, sal Ek mag en gesag oor die nasies gee. 27Hy sal hulle met ‘n ystersepter regeer, hulle soos kleipotte stukkend slaan. 28Dieselfde mag en gesag het Ek ook van my Vader gekry. Daarby sal Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee.29Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.
Boodskap
Een van die voordele van grendeltyd is die blootstelling wat ’n mens kry aan verskillende kerke regoor die land se preke en Covid-19 projekte. Vroeër die week luister ek na ’n ou klasmaat van my wat diep uit die karoo met sy gemeente via Facebook gesels. Net in sy aksent alleen kon ek die uniekheid van sy bediening voor my sien uitspeel.
’n Sêding wat sommer vroeg in Covid-19 grendeltyd die rondtes begin doen het, is dat ons saam in die storm is, maar nie almal in dieselfde bootjie is nie. Soos wat dít waar is vir gemeentes en gemeeskappe regoor die land, so was dit ook vir die 7 gemeentes aan wie Johannes van Patmos sy briewe skryf.
Elke gemeente word deur Jesus op ’n spesiale manier gegroet. Aan die gemeente in Smirna openbaar Jesus homself as die eerste en die laaste. En soos ek vroeer die week genoem het, het die stad bekend gestaan as die “eerste van Asie”. Vir die gemeente in Pergamum, waar die vervolging van Christene in Asië wortel geskiet het, openbaar Jesus hom as ’n skerp swaard met twee snykante. Vir die gemeente in Tiatira gee Jesus ’n beeld van homself wat eie was aan die stad self.
Vir hulle openbaar Jesus homself as vuur en koper.
Tiatira het ’n interessante storie. Dit was die kleinste van die 7 stede. Wat politiek, godsdiens, kuns en kultuur aanbetref, het die stad nie dieselfde status geniet as die ander stede nie. Aanvanklik was dit ’n buitepos om die hoofstad Pergamum te beveilig teen potensiële invalle. Mettertyd, het die vindingrykheid en ywer van die inwoners die stad laat ontwikkel in ’n besige en belangrike nywerheidstad.
Tiatira was veral bekend vir tekstiel. Dit was die plek om te besoek as jy jou hande op hoë kwaliteit purper materiaal wou kry.
Daar was veral ook leerlooiers, pottebakkers, broodbakkers, en kopersmede. Dit was ’n plek wat gewemel het van mense wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie.
Dit was dan ook waar van die gemeente. Die gemeente se plek in die groter storie van die kerk is nie sommer te versmaai nie.
In Johannes brief aan hulle word hulle deur Jesus geprys vir hul liefde, vertroue, diens en volharding.
Coenie Burger herinner ons dat hierdie vier dinge nie afsonderlike dade was nie, maar eerder deel was een groot energieke uitlewing van hul missionaliteit.
In Handelinge 16 lees ons van Lydia se bekering. Sy het met purper wol gesmous en was van Tiatira afkomstig. Terloops, sy word beskou as die heel eerste bekeerling in Europa wat hard gewerk het saam met Paulus om die evangelie te verkondig.
As ek dink aan wat oor die gemeente gesê word, dan sien ek die stories van baie gemeentes soos die een in Tiatira en gelowiges soos Lydia voor my uitspeel.
Hulle is doeners, nie praters nie. Hulle is betrokke by die kerk, die skool, die tennisklub, die golfbaan en die kinderhuis. Hulle bak, hulle brou, hulle braai, hulle bou, hulle hou veilings en fondsinsamelings.
Hulle hande staan vir niks verkeerd nie.
Jesus is opgewonde oor sulke gelowiges en moedig die leraar van Tiatira aan om gemeentelede soos Lydia met groot sorg te ondersteun in hul ywer.
Maar daar is ook ’n ander vrou in die verhaal. In hierdie geval is sy letterlik, die ander vrou. Haar naam is Isebel. Sy was dalk ’n regte persoon wat in die gemeente en gemeenskap bekend was, of sy is ’n mitologiese en simboliese figuur wat sinspeel op Elia se konflik met Isebel in 1 Konings.
Hoe dit ookal sy, sy verlei die gemeentelede om deel te neem aan praktyke in die stad wat in stryd is met die hart van die evangelie. Nou dit sal ’n fout wees om te dink dit gaan hier oor seksuele losbandigheid en die eet van afgodsoffervleis.
Maar dit gaan dit baie meer as dit.
Tiatira was ’n plek waar mense hard gewerk het en ook hard gekuier het. In teenstelling met die ander stede waar politiek en godsdiens die sentrum van mag bepaal het, was die sakesektor die hartklop van die stad. Die mense wat op die voorste gestoeltes van die gildes, vakbonde en sindikate gesit het, het jou lot in die ekomonie van die stad bepaal.
So as jy wou smous, moes jy kon partytjie saam met die kopers. As jy die leer wou klim, moes jy die egos van die regte mense streel.
Jy sou jou oë moes blind maak vir die onderduimse dinge wat saam met die job kom.
Jy moes die game kon speel en soos ons weet het elke sport mos maar sy beserings, of hoe?
Isebel het vroeg geleer hoe om vroom voor te kom, wanneer dit by die sogenaamde dinge van die Here kom, maar agter die skerms haar kaarte te speel sodat sy nie uitmis op die sukses van die stad nie.
Dié van ons wat in besigheid is of was, ken die versoeking van Isebel goed. Ons weet hoe moeilik dit is om jou integriteit as Christen te behou in ’n wêreld wat wins ten alle koste najaag. Wat geneig is tot diskriminasie en rassisme. Wat nie omgee om kortpaaie te kies ten koste van die natuur of mense se gesondheid nie.
Dis immers net besigheid sal mense in sulke gevalle vir mekaar sê.
Die waardes van die besigheidswêreld en die waardes van ons geloof sit dikwels nie om dieselfde vuur nie.
Dink aan die sogenaamde “kleedkamerpraatjies” wat so eie is aan besighede wat deur hoofsaaklik mans gedomineer word.
Of kantoor-skindernuus.
Of rassisme.
Of korrupsie.
Hoe ver sal jy buig ter wille van wins, sukses of bevordering?
Vang jy jouself dat jy te gereeld stil bly oor dinge wat jy weet verkeerd is?
Sal jy bedank ter wille van jou geloof?
Vir my is die verassing dat Die Openbaring aan Johannes my herinner oor hoe besorg Jesus oor my manier van werk is. Ek het altyd gedog die brief gaan oor die eindtye, maar nou wil dit blyk of dit gaan oor elke oomblik van my tyd in die lig van hoe dit alles gaan eindig.
Die Openbaring aan Johannes bevestig wie is eintlik baas. Jy werk nie vir jouself nie. Jy werk nie vir jou aandeelhouers of bestuur nie. Jy werk nie vir jou kliënte of jou bottomline nie. Jy werk in die eerste plek vir Christus Pantokrator. Die Heerser oor die Konings van die Aarde.
Sedert die Covid-19 pandemie ons wêreld omver gegooi het, het baie van ons die geleentheid gekry om nuut en vars te dink oor ons roeping en ons werk. In die week wat kom keer die meeste van ons terug na ons kantore en kollegas. Die uitdagings wat op ons almal wag gaan geweldig wees.
Maar mag ons in die voetspore van Lydia en haar mede gelowiges in Tiatira moue oprol en nie skrik vir ’n uitdaging nie. Mag ons ligloop vir die weg van Isebel. En mag die waardes van liefde, geloof, diensbaarheid en volharding die stad wen vir Christus.
Dit is wat Johannes noem: God se werk.
As jy so werk, is jy ’n medewerker van Hom wie se voete nie wankel nie en wie se oë vol vuur passie brand.
Amen.