Kom Kyk!

Wanneer Jesus jou roep om Hom te volg, neem die reis jou oor grense na plekke en mense wat jou vooropgestelde idees gaan uitdaag. Dikwels mis ons uit op Jesus se uitnodiging, want ons staar ons blind in ons eie opinies. So was dit ook met Natanael en daarom sê sy vriend Filippus vir hom om te “Kom Kyk!” (Johannes 1:43-51)

Die oorvertel van hierdie baie ou verhaal in die Christelike geloofstradisie is vandag broodnodig. Te maklik vermy ons sinvolle kontak met ander omdat hulle nie “ons dam se eende” is nie. Daarteenoor is missionale-mense nuuskierig en leergierig. Ons hou daarvan om self ondersoek te doen, by ander mense se voete te gaan sit en instede van preek en praat, kies ons om te kyk en te luister.

  • Teks: Johannes 1:43-51
  • Aanbieder: Fourie Rossouw
  • Sondag 17 Januarie 2021
  • Musiek:
  • “Jesus Lig in die Duisternis” – Strand-Noord Musiekspan
  • “Benedictus” – Neil Büchner / Jandré Viljoen

Boodskap

Die Jesusverhaal wat ons vanoggend vir mekaar vertel konfronteer ons met ons eie vooropgestelde idees oor mekaar se komvandaan.

In hierdie verhaal is drie momente wat vir my uitstaan. 

  1. Nataneal se vooroordele teenoor Nasaret
  2. Filippus se uitnodiging. 
  3. Die kontras tussen Nataneal se agterdog teenoor Jesus en Jesus se woorde oor Nataneal. 

’n Jong man met die naam Nataneal hoor by ’n vriend Filippus dat hulle die Messias, die een van wie Moses en die profete geskrywe het, gevind het. Toe hy hoor van waar hierdie sogenaamde messias afkomstig is, reageer hy dadelik baie skepties:

“Nasaret? Kan daar dan iets goeds uit Naseret kom?” 

Nataneal maak hom hier skuldig aan bevooroordeeldheid. 

Dit is nie duidelik hoekom hy so ’n negatiewe beeld van Naseret het nie. Wat wel duidelik is, is dat dit ’n groot invloed het op hoe hy sy vriend se getuienis hoor. 

Sy opinie (gegrond of ongegrond) kom lê tussen hom en ’n moontlike ontmoeting met die Messias. 

Dit is natuurlik die moeilikheid met ons persoonlike opinies en idees oor ander mense van ander plekke. – Die sogenaamde “hulle” en wat ons van hulle dink. 

Dit ontneem ons van ons eie groei en ontwikkeling. Selfs al is jou opinie gegrond op feite of genoegsame ervaring, is daar steeds ’n baie goeie kans dat jou sterk opinie jou gaan ontneem van ’n nuwe ontdekking. 

Suid-Afrikaners dra swaar aan ons oorgerfde vooroordele. Almal van ons, wit en swart, man en vrou, oud en jonk. Dis deel van die bagasie wat ons almal dra en hard moet werk om van ontslae te raak. Selfs die helde onder ons, sukkel daarmee. 

Ons geliefde Nobelpryswenner Desmond Tutu het in ’n onderhoud met Krista Tippet vertel van ’n keer toe hy van Nigerië af na SA gevlieg het. Toe hy in die in vliegtuig klim sien hy dat die twee vlieniers swart is. Aanvanklik het dit hom met trots gevul: Hoe ver het ons nie al gekom nie, het hy by homself gedink. ’n uur of wat later het die vliegtuis erge turbulensie beleef en sy eerste gedagte wat: Is daardie twee swart vlieneers opgewasse om dit te hanteer? Sou dit nie beter gewees het as hulle wit was nie? Hierdie gedagtes het hom laat besef hoe swaar hyself nog dra aan apartheid se nalatenskap van vooroordele teenoor mense op grond van hul velkleur. Desmond Tutu se verhaal is ons almal s’n en strek veel wyer as wit en swart. 

Ons dra swaar aan die vooroordele rakende seksualiteit, of geslag, of ouderdom, of inkomste, of geleerdheid, of lengte, of gewig, of liggaamlike vermoens, of haarkleur, of nasionaliteit, of godsdiens. 

Is sy opgewasse? Is hy nie al te oud nie? Maar sy is dan nog ’n kind? Kyk sy tattoos. Ek dink dit is bietjie bo sy vuurmaakplek. Sy soort sal nie sommer die pos kry nie.

In baie gevalle, word ons vooroordele aangevuur deur ons verstaan van God of ons lees van ’n bepaalde godsdienstige teks soos byvoorbeeld die Bybel. 

Wat is Filippus se teenvoeter vir Nataneal se agterdog oor Jesus? Hy nooi hom om te kom kyk.

“Kom kyk” – is daar ’n meer kragtige getuienis as dit? 

2 woorde is al wat Filippus vir sy vriend hoef te gesê het.

Kom kyk. 

Kom proe. 

Kom beleef. 

Kom ontmoet. 

Kom kuier. 

Kom luister. 

Kom geniet. 

Kom ervaar. 

Kom leer.

Vooroordele word nie afgebreek met beter argumente nie. 

Vooroordele word vernietig deur verhoudings te bou. 

Dis een ding om op ’n afstand, op grond van jou opinie oor ’n groep of plek, ’n oordeel te vel oor ’n spesifieke mens. Maar wanneer jy in sy of haar teenwoordigheid is en jy laat toe dat daardie persoon tot jou hart spreek, dan is daar eweskielik min vatplek vir die vooroordeel om aan vat te klou. 

Nataneal het op Filippus se uitnodiging om op ’n ontdekkingsreis te gaan gehoor gegee en dit het sy lewe handomkeer verander.

Verder in die evangelies lees ons dat Jesus daarvan gehou het om sy vriende opreis te neem na vreemde plekke en onbekende mense. 

Dit is die hart van die evangelie. Dit neem ’n mens oor grense en breek daardeur jou vooroordele af.

Nataneal se voordele teenoor Jesus en sy komvandaan, is in kontras met die ontvangs wat hy van Jesus kry. 

Toe Jesus hom sien sê Jesus dat hy ’n ware Israeliet is en dat daar in hom geen bedrog is nie. 

Hierdie uitspraak van Jesus en wat dan daarna volg vra ’n dieper kyk. Johannes as evangelieskrywer was net te lief vir simboliek, daarom moet ons hierdie oomblik in die verhaal nie sommer net voetstoots lees nie. 

Jesus noem Nataneal ’n ware Israeliet. ’n Nasaat van Israel. Israel was Jakob. Die haakskeengryper, die broerbedreër. Jesus takseer Nataneal nie op hierdie baadjie van sy komvandaan nie. Hy gee hom ’n nuwe identiteit: Nasaat van Jakob, sonder bedrog. Jesus kyk verby sy kulturele bagasie, en sien hom vir wie hy eintlik is. 

In hierdie stelling oor Nataneal, neem Johannes ons verder. Hier gaan dit nie meer net oor ’n enkele dissipel nie. Hier is die kerk ter sprake. Ek en jy. Ons sien onsself in Nataneal. Hy word die metafoor vir die kerk wat sal kom. Nathaniel die Isrealiet vir wie Jesus gesien het toe hy onder die vyeboom gesit het. Daar is simboliek in die vyeboom – moontlik ’n herinnering aan Israel, aangesien die vyeboom of boom dikwels as metafoor gebruik word vir Israel. Die dorp Nasaret is ook moontlik afgelei van die Hebreeuse woord wat “loot” beteken. 

Nataneal gee vir Jesus drie eretitels:

  • Leermeester – die een wat ons wys hoe.
  • Seun van God – die een wat ons van ons sondes red.
  • Koning van Israel – die een wat oor ons lewens regeer. 

Die groot verrassing in die verhaal vir Nataneal is nie die ontdekking dat daar wel goeie goed uit Naseret kan kom nie, maar dat die Messias, Die Een wat Goed is, van Naseret af kom. 

Dit is dan ook die groter Missionale Uitnodiging wat die teks aan elkeen van ons rig. Ja, ons moet leef met ’n openheid om verras te word die die goeie dinge wat kan gebeur daar waar ons dit die minste verwag. 

Maar meer nog, moet ons leef met ’n afwagting dat die Enigste-Een-Wat-Waarlik-Goed-is ons verras met Sy teenwoordigheid, juis daar daar ons nie teenwoordigheid wil wees nie. 

Previous
GeDoop