Briewe van die Koning – Sleutels

Briewe van die Koning – Sleutels

Pinkstergesprekke uit Openbaring

Die Brief aan die gemeente in Filadelfia

Lees

Openbaring 3:7-13

Die boodskap aan Filadelfia

7Skrywe aan die leraar van die gemeente in Filadelfia:So sê die Heilige, die Ware God,Hy wat die sleutel van Dawid het,wat die deur oopsluit en niemand sal dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie:8Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het ‘n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie.9Kyk, Ek beskik dat van die lede van die sinagoge van die Satan, die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg – kyk, Ek sal maak dat hulle kom en voor julle kniel en erken dat Ek julle liefhet. 10Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. 11Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie.12Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.13Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

Openbaring 3:7-13

Boodskap

Johannes skryf aan die gemeente in Philadelphia en herinner hulle aan ’n baie ou profesie wat in Jesus waar geword het. In die 22ste hoofstuk van die boek van Jesaja plaas God op die profeet se skouer die sleutel van die huis Dawid. En dan praat hy met hulle oor die oop en toemaak van deure, standvastige pilare, en nuwe name. Hierdie beelde hou verband met mekaar. Dit help ons om Jesus beter te verstaan, en so ook ons eie plek in God se koninkryk. 

Ons dogtertjie is nou op daardie ouderdom wat sy al wat ’n kas en laai is oopmaak. Vir sluit ons alles toe met daardie pastiekslotte.

Ons seuntjie is al grootgenoeg om by die sleutelgat van die voordeur uit te kom. Die laaste paar weke sluit hy self die voordeur oop en loop met groot brawade en sonder ouer toesig selfs op die koudste dae in die voortuin rond. Dis eers wanneer dit te lank stil geraak het in die huis en die koue trek van die voordeur se kant af vir ons waarsku dat ons kleuter by die hek in die voorkant van die huis speel.

Toe ek as ’n student in die spur gewerk het, het die bestuurder van die Spur altyd met ’n groot bos sleutels op sy belt rondgeloop. Tot vandag toe, as ek wil weet wie is in beheer of wie is die persoon wat almal vertrou, soek ek vir die ou met die grootste bos sleutels. 

Johannes begin sy Openbaring brief met ’n seëngroet waarin Jesus beskryf word as die geloofwaardige getuie die heerser oor die konings van die aarde.

Christus Pantokrator.

In die koninkryk van God is Jesus die persoon met die grootste bos sleutels wat deure oop en toesluit. 

Vir hulle gee Johannes dan die metafoor van ’n oop deur. 

Hoekom gee Johannes hierdie metafoor vir hulle? 

Eerstens, die stad Philadelphia het bekend gestaan as die poort na die ooste. Volgens Coenie Burger is daar ’n teorie dat die stad gestig was as ’n basis om die Hellenistiese kultuur na die res van Klein-Asië uit te voer – as’t ware ’n “sendingstad” om die Griekse waardes en lewenswyse te propageer. 

Dan vertel Johannes vir hulle van ’n nuwe stad met ’n nuwe naam. ’n Nuwe koninkryk. Waar Philadelphia voorheen strategies geposisioneer was om die Griekse evangelie te versprei na die res van klein Asie, is dit nou hulle as gemeente wat daardie rol gaan inneem. Maar in hierdie geval, vir die Evangelie van Christus. 

Nou die gemeente vir wie hy skryf het nie ’n belangrike plek en rol in hierdie storie van die stad vervul nie. Inteendeel, hulle het hulle verset teen die uitlewing van die Hellenistiese waardes. Hulle was ook deur Jode geboelie en afgeknou. 

Hulle krag was min. 

Dalk het hulle gevoel soos wat ’n mens voel as deure die heeltyd vir jou toegaan. As dit lyk of jou geleenthede al hoe minder raak en die wiel net vir jou wil draai nie. 

Johannes herinner hulle dat dit nie hulle is wat deur moet oopmaak nie, maar dat Christus dit reeds vir hulle gedoen het. 

Dis ook noemenswaardig dat die metafoor van oop deur gegee word vir die gemeente wat die kleinste en minste krag het. Hy roep hulle op tot beweging, wentende dat hulle nie op hul eie kragte sal kan staat maak nie, maar eerder op Hom wat die heerser oor die konings van die aarde is. 

Ons weet ook dat die gemeente afgeknou en geboelie was. Hulle was nie net uitgesluit van die hartklop van die stad nie, maar hulle was ook vyandig hanteer deur die hulle eie mense. 

Vir my is die mooiste oomblik in die brief waar die boelies voor hulle die knie sal neerbuig met die erkenning dat hulle deur God geliefd is. 

God skep nie net vir hulle nuwe moontlikhede nie, maar Hy maak ook die harte en oë van hulle grootste kritici oop. 

Van hier af aan word hulle as ’n gemeente oor en oor bevestig. 

God het hulle lief. 

God maak hulle standvastig soos pilare in Tempel. 

God sal by hulle bly, hulle seën met sy ewige teenwoordigheid. 

God skryf sy eie naam op hulle, en so ook die naam van die nuwe stad. 

Soos dit waar was vir die gemeente in Philadelphia, so kom Heilige Gees in pinkster herinner ons dat dit ook waar is vir ons vandag. 

Hierdie week wat kom moet ons opnuut dink oor wat dit beteken om kerk te wees in ’n nuwe vlak van grendeltyd. Ons het baie geleer van onsself en van God in die laaste twee maande. 

Ons moes leer hoe om kerk te wees, terwyl die kerkgebou se deure toestaan. 

Ons het baie dinge toegesluit wat ons dalk nooit weer hoef oop te sluit nie. 

Ons het ander dinge oopgesluit wat ek hoop ons nie sal toesluit wanneer ons weer kerk kan wees soos in die verlede nie. 

Ons het geleer dat om kerk te wees is nie om saam in ’n gebou te wees nie.

Jy is die kerk en daar waar jy is, daar is die kerk. 

Bo dit alles, het ons geleer dat kerkwees nie gaan oor die oop en toesluit van die kerk en die konsistorie se deure nie, maar eerder die oopsluit van ons harte vir God se nuwe moontlikhede en vir wat dit beteken om draers van Sy naam in die wêreld te wees. 

Ons gaan baie wysheid nodig hê vir die tyd wat kom. Maar mag ons mekaar herinner dat die kerk nog nooit toe was nie. Want wanner Christus iets oopgesluit het, kan geen mens dit toesluit nie. 

Amen.