Pinkstergesprekke uit Openbaring – Hemel en Aarde
Ons vier Pinkstersondag met ‘n nagmaalsboodskap uit die koskas en ‘n tweede kykie na die Christus Pantokrator ikoon.
Ons nooi jou om deel te neem aan die nagmaal, so kry solank jou brood en sap/water/tee/koffie/wyn gereed.
Lees
Openbaring 21:1-8
Die nuwe hemel en die nuwe aarde
1Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien; want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan en die see het nie meer bestaan nie. 2Ek het ook die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerkom. Die nuwe Jerusalem was soos ’n bruid wat vir haar eggenoot mooigemaak is.3Ek het toe ’n kragtige stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die tentwoning van God is nou onder die mense opgeslaan. Hy sal by hulle bly, en hulle sal sy volke wees en God sal self by hulle wees as hulle God. 4Hy sal elke traan van hulle oë afvee en die dood sal glad nie meer bestaan nie. Ook hartseer of smartkrete of pyn sal glad nie meer bestaan nie. Die ou dinge het verbygegaan.”5Hy wat op die troon sit, het toe gesê: “Kyk, Ek maak alle dinge nuut.” En Hy sê verder: “Teken dit aan, want hierdie woorde is geloofwaardig en betroubaar.” 6Verder het Hy vir my gesê: “Dit is afgehandel. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Iemand wat dors het, sal Ek verniet laat drink uit die fontein met lewegewende water. 7Die een wat aanhou oorwin, sal hierdie dinge erf, en Ek sal vir hom God wees en hy sal vir My ’n kind wees.
Nadenke
In die onderstaande prentjie het ‘n kunstenaar die twee kante van Christus Pantokrator se gesig geskei en twee volledige gesigte van elk gemaak. Elkeen beeld ‘n unieke kante van Jesus uit.
- Vrydag en Sondag
- Kruisiging en Opstanding
- Bruilof in Kanaän en die Reiniging van die Tempel
- Leeu en Lam
- Heerser en Vriend
- Koning en Dienskneg
Watter emosies maak hierdie twee gesigte in jou los? Met watter gesig identifiseer jy op die oomblik? Hoekom dink jy spreek een gesig meer tot jou as ‘n ander een?
