Die Gini-koëfisiënt van glo en doen

Die Gini-koëfisiënt van glo en doen

Beleef ons erediens met 'n lewendige kykstroom uitsending. 
Die diens word gelei deur Fourie Rossouw. 
  • Tema: Die Gini-koëfisiënt van glo en doen.
  • Teks: Jakobus 2:1-17

Luisterteks

Jakobus 2:1-17

Moenie volgens die uiterlike oordeel nie

1My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. 2Sê nou daar kom in julle samekoms ‘n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook ‘n brandarm man in met ou klere aan, 3en sê nou julle maak ‘n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: “Kom sit u hier gemaklik,” maar vir die arm man sê julle: “Gaan staan jy daar anderkant” of: “Kom sit hier by my voete,” 4het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?
5Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? 6Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie? 7Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie? 8As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg. 9Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders. 10As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie. 11God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog ‘n oortreder van die hele wet. 12Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vrymaak. 13Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.

Glo en doen

14Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red? 15Sê nou daar is ‘n broer of ‘n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

Nadenke

Elke Christen leef met ‘n gaping tussen glo en doen. Paulus het immers belei dat die goeie wat hy wil doen, doen hy nie, maar die slegte wat hy nie wil doen nie, juis dit doen hy (Rom 7:19). Met “glo” sou ons ook sê “ken” en met “doen”, sal ons ook sê “leef”.

In sy eerlike en praktiese brief, daag Jakobus ons uit om daardie gaping so klein as moontlik te kry.

Jakobus kry sy inspirasie vir die brief by twee belangrike plekke: Jesus se bergpredikasie en die antieke Joodse tekste oor wysheid (bv Spreuke). Hy skryf nie aan ‘n paar enkele gelowiges nie, maar rig sy brief aan die geloofsgemeenskap in geheel. Hy sien dat Christene geneig is om ivoortorings te bou met die inhoud van hul geloof. Torings wat dikwels met toedeure die nood van die wêreld uitsluit.

Hoe meet ek die gaping tussen my eie glo en doen? Die lineaal wat Jakobus gebruik is Jesus self. Dit is die rigting waarheen ons glo en doen moet beweeg. So nou soos wat Jesus dit in sy eie lewe toegepas het, so klein moet die spasie wees tussen wat ons bely en hoe ons leef. Hierdie gaping moet elke Christen moet probeer oorbrug. Wat het jy nodig om dit te doen? Wysheid. Wysheid is anders as kennis of insig. Wysheid begin by ‘n diep en eerbiedige verhouding met God. Dit is daardie lewende verhouding met die Bron van alles wat goed en regverdig is, wat ons vorm om meer en meer soos Jesus te glo en te leef.

Maar daar is ‘n kinkel in die kabel. As Jesus die lineaal is waarmee God ons glo en leef meet. Wie hou die linaal vas? Die weduwees, weeskinders en die armes in ons midde.

Dink so daaroor: Die uitdaging om jou tong in toom te hou en meer te luister as te praat, is ‘n goeie voorbeeld van die gaping tussen glo en doen. Met ons woorde kan ons afbreek en seermaak. Maar ons kan ook ‘n wêreld skep wat mooi, betroubaar en regverdig is. So ‘n wêreld is beter ingerig om hulle by te staan wat deur die krake val en ekstra sorg en aandag benodig vanweë die moeilike lewenspad wat hulle stap. Jy oefen om jou tong in toom te hou, nie ter wille van jou eie saligheid nie, maar in die hoop om ‘n wêreld te skep wat die beeld van God se koninkryk verteenwoordig.

Ons sou dus kon sê dat die gaping tussen ons glo en doen, ‘n gaping soortgelyk soos die Gini-koëfisiënt is. Dit is die lot van die armes en weerloses tussen ons, wat bepaal (meet) of ons manier van leef regtig die heerskappy van Christus uitbeeld.

Kinderkerk Moment

Kyk ook

Vir meer agtergrond oor die besonderse brief van Jakobus. Kyk hierdie kort inligtingsvideo van die Bible Project.