Die Planter van ‘n duisend bome.

Die Planter van ‘n duisend bome.

‘n Indiese man genaamd Jadav “Molai” Payeng het as tiener op ‘n klomp dooie slange afgekom langs ‘n dorre area naby die Brahmaputra rivier. Weens die vernietiging van natuurlike habitat in die area kon die slange wat as gevolg van ‘n vloed uitgespoel het op die rivierbank, nie die intense hitte van die area oorleef nie. Hierdie tragiese toneel het ‘n groot impak op Payeng gemaak. Hy het kort daarna begin om bamboes-steggies in die gebied te plant. Oor ‘n periode van meer as 40 jaar het hy elke dag na werk teruggekeer na die gebied om nog meer plante en bome daar te vestig. Vandag staan die gebied bekend as Molai Forest. Dit is groter as Central Park in New York en is as natuurreservaat verklaar. Renosters, olifante en selfs tiere het hul in die gebied hervestig.

In Jesaja 61 lees ons van God se groot heelmaakplan. God word beskryf as die planter van bome van redding. Daardie bome is mense soos Payeng. Daardie bome is ook die kerk. Nie almal van ons plant bome in droë rivierlope nie, maar ons plant wel bome van hoop met ons woorde en ander lewensdade.

Daar waar ons puinhope in tuine van hoop verander, daar is ons sulke bome van redding, geplant deur die Here, tot Sy verheerliking.