Met die massa informasie op die internet en ander media platforms beskikbaar, is dit soms ‘n uitdaging om te onderskei wat bruikbaar is of nie – en dit geld vir die Bybel ook. Een wonderlike hulpmiddel wat ons gemeente reeds by verskeie geleenthede gebruik het is “Bible Project” van Tim Mackie en Jon Collins. Hierdie projek gee in diepte bespreking en agtergrond vir AL die Bybelboeke asook die groot temas uit die Bybel (Hoop, Vreugde, Liefde ens.), op ‘n lekker eenvoudige en verstaanbare manier!
Hier is so ‘n voorsmakie van wat hulle bied:
Vir jou sirkel- of selgroep.
Indien jy, of julle sirkel, opsoek is na lekker kort-en-kragtige inleidings vir dieper delf in Bybeltekste of -temas, sal ons hierdie materiaal graag aanbeveel.
‘n Moontlike metode sou wees om voor die bespreking van ‘n teksgedeelte die video-insetsel van daardie bepaalde Bybelboek te kyk en dan vanuit hierdie inligting, julle bespreking verder te neem. Vir persoonlike Bybelstudie vind ek dit weer vrugbaar om die video vooraf te kyk (en te herhaal soos nodig) sodat ek die hooflyne lekker vars in my gedagtes kan hou. Selfs ingewikkelde boeke soos Hebreërs maak BAIE meer sin met so ‘n struktuur in die agtergrond. Die feit dat die aanbieding by wyse van tekeninge geskied is ook ‘n lekker vars aanpak en behou sommer maklik jou aandag.
Jy gaan keer op keer verras word deur wonderlike nuwe waarhede uit ou bekende boeke en tekste in jou Bybel!
Uiteraard is daar ook beperkings – ‘n mens kan ook net soveel materiaal in ‘n kort video-insetsel hanteer, maar die hooftemas word op ‘n baie duidelike manier uitgelig.
En die beste van als? Dis ook beskikbaar in Afrikaans!
Bible Project – ‘n vrugbare vennoot in jou ontdekking van God se Woord.