Milly brei 150 wolballe vir ons wolbalprojek in grendeltyd!

Nandi en Eben is super trots op hul ouma Milly van der Merwe wat 150 wolballe vir ons kerk se wolbalprojek gebrei het. Haar aanvanklike mikpunt was om 100 balle te brei, maar toe sy dit bereik het, was sy nog nie tevrede met die resultaat nie! Sy het toe besluit om aan te hou brei en eers gestop nadat sy 150 wolballe in totaal gebrei het!
Volgens Milly kan haar hande nie “niks” doen nie en sy brei baie graag. Dit is vir vir haar lekker om iets te kan doen/maak wat vir ander tot nut kan wees en hulle ook bly maak. Sy is elke jaar ook deel van NG Kerk Somerset-Wes se breiprojek (mussies of serpe) en het dus altyd wol in die huis.
Gedurende grendeltyd het haar voorraad op ‘n stadium min geraak. Sy was baie bly toe wolrakke weer oopmaak in die winkels.
Eben en Nandi dink dis wonderlik dat hulle ouma vir hulle kerk ook so kon help en dit maak hulle baie bly. Nandi wil graag noem: "Ek en boetie is baie lief vir ouma".

Wat behels die wolbalprojek?
HELP ONS BREI AAN BALLE VIR KLEIN HANDJIES!
Die wolbalprojek is ‘n inisiatief van Diaconia. Terwyl die Kaapse winterkoue ons vingers vries, het die Diensgroep Diaconia aan ‘n wonderlike manier gedink om die bloedtoevoer tot daardie verkluimde vingers te verbeter. Dit kos min, is maklik om te doen en gee jou nét die verskoning wat jy nodig het om die hele aand voor die kaggel deur te bring.
Die bevordering van vroeëkindontwikkel via gemeentes is een van Diaconia se fokusareas. Hul vennootskap met SmartStart vorm deel van daardie inisiatief. Van die noodsaaklike vaardighede wat ‘n 3 tot 4 jarige kind moet bemeester sluit in fynspierkoördinasie, oog-handkoördinasie, sowel as kleur-, vorm- en tekstuurherkenning. Balspel help in die ontwikkeling van al hierdie vaardighede.
Daar is ‘n groot behoefte aan balle vir Diaconia se speelgroepies en jy kan help!
Die breipatroon vir die wolballe
Hieronder volg die breipatroon en instruksies om so ‘n bal te maak. Dit kan van verskillende kleure en groottes wees. Enige stukkie oorskietwol kan gebruik word en die dikte van die wol en breipenne wat jy gebruik is nie belangrik nie.
Benodigdhede:
1. Oorskietwol van enige kleur of dikte
2. Enige dikte breipenne
3. Grootoognaald
4. Materiaal om bal mee op te stop (ou sykouse, binnekant van kussings, oorskietlap)
Patroonsteek:
1. Sit 17 steke op. (Foto 1)
2. Brei 48 rye (regs). (Foto 3)
3. Heg af en los ‘n langerige stuk wol om die bal mee vas te werk. (Foto’s 4 en 5)
4. Ryg die naald deur die steke aan die langste kant van die gebreide blok, trek styf en heg stewig af. (Foto 7)
5. Werk ry 1 en ry 48 aanmekaar vas en heg stewig vas. (Foto 8)
6. Gebruik bogenoemde stopmateriaal en stop die bal tot dit styf en stabiel voel. (Foto 9)
7. Ryg die naald met oorskietwol deur die twee lang kante en trek styf om die bal te vorm. Eindig af met ‘n dubbelsteek om dit stewig te heg. (Foto 10)
Foto 1 Foto 2 Foto 3 Foto 4 Foto 5 Foto 6 Foto 7 Foto 8 Foto 9 Foto 10 Foto 11
Indien enige gemeentelid belangstel om direk met Diaconia in verbinding te tree vir meer inligting, kontak Nicola Vermeulen by 021 957 7188/071 383 7937; nicola@kaapkerk.co.za