R100,00
Description
Fourie se bundel Ligvoets is beskikbaar om te koop direk by die gemeente! Die bundel bestaan uit 30 rubrieke wat Fourie oor ‘n periode van 3 jaar vir die Lig Tydskrif geskryf het.
Uittreksel uit die voorwoord
Hoe leef mens ligvoets in ’n wêreld wat swaar op ons skouers rus? Ry ek van die huis tot by die winkel, word ek gegroet deur honger bedelaars en desperate smouse. By die ingang van die winkel onthou ek dat my masker in die kar lê. Terug by die kar het iemand met sy trollie teen my deur gestamp sonder om ’n nota te los. Elders in die land word winkels geplunder en bande gebrand. By binnelandse sake staan ’n weduwee radeloos vir die soveelste keer om haar man se dood te registreer. Iewers bid ’n karooboer vir reën wat nooit kom nie. ’n Onderwyser skryf sy bedankingsbrief. ’n Pa maak onwetend vir die laaste keer die voordeur agter hom toe. ’n Politikus maak beloftes wat sy nie beplan om te hou nie. Iemand trek ’n kruisie en ’n ander ’n streep in die sand. Sommige besluit om te bly, ander vat die pad. Onder in die straat gaan ’n huis se alarm af, maar die bure se honde het lankal ophou blaf. Tussendeur dit alles, meng ’n vrou gis, meel en water en wag dan geduldig vir die lewe om te gebeur…