Spoorsnyers van die windstilte

Spoorsnyers van die windstilte

Sondag 22 Oktober 2023 (Gesinsdiens)

  • Eksodus 33:12-23
  • Fourie Rossouw

Om ver in berge te sit.

Deur Fourie Rossouw

“Op berge en in dale, en oral is my God. Waar ons ook telkemale, mag swerwe daar is God.” Hierdie bekende kerklied eggo nie net ’n diep waarheid oor die alomteenwoordigheid van God nie, maar vind ook nuwe vastrapplek by moderne mense se groeiende aangetrokkendheid tot die spiritualiteit van berge. Of eerder die spiritualiteit van die hulle wat oor berge en dale, deur wildernis-woenstyne en op die vergete grondpaaie van heilige plekke soos die Karoo stap. Meer en meer mense wend hul tot hul stapskoene en rugsakke opsoek na ’n geïntergreerde en deurleefde geloofslewe. 

In die somer van 1995 het Cheryl Strayed op die ouderdom van 26, sonder enige ervaring en met ’n baie swaar rugsak die bekende “Pacific Crest Trail” vroualleen aangedurf. Die uitmergelende 1700 km strek oor nege bergreekse van die Kalefornië-Mexiko grens tot in Kanada. Oor hierdie solotog het Strayed gesê dat sy gehoop het die staptog sal lei tot ’n innerlike transformasie wat haar sal verander in die vrou wat sy weet sy kan wees en haar ook terug verander in die dogter wat sy eens op ’n tyd was. Hierdie merkwaardige reis van haar het sy sewentien jaar later gedokumenteer in ’n boek getiteld “Wild: From Lost to Found on the Pacific Crest Trail”. Hierin vertel sy hoe die alleenheid van die twee maande lange staptog haar gehelp het om oor die dood van haar ma en ’n traumatiese egskeiding te kom. Haar boek was so gewild dat dit reeds in 30 tale vertaal is en deur die aktrise Reese Witherspoon omskep is in ’n trefferfilm. Die geweldige positiewe reaksie op beide die boek en die film getuig van ’n groeinde belangstelling in die natuur se vermoë om innerlike genesing te fasiliteer. 

Op plaaslike bodum sien ons ’n soortgelyke reaksie op Erns Grundling se kleurvolle en eerlike vertellings van sy pelgrimstog in Spanje. In ’n onderhoud met Toast Coetzer vertel Erns dat die einde van ’n ernstige verhouding en uitbranding die groot beweegrede vir sy veertigdae pelgrimstog was. Soos Strayed, volg Erns in die skoene van duisende mense wat jaarliks verskeie staptogte onderneem opsoek na een of ander vorm van lewensverandering.

’n Mens sou hierdie nuwe belangstelling in die spiritualiteit van die bergpad kom afmaak as ’n gier wat weer verby sal gaan. Maar as ons draai na die verhale in die Bybel dan sien ons dat mense al vir millennia hul sieletroos gaan soek tussen berge, dale en riviere. Die natuur oor die algemeen, maar in die besondere berge, het ’n belangrike plek in die groot verhaal van God en sy mense. Daar word meer as 500 keer op ’n betekenisvolle wyse na berge in Bybel verwys. Binne die antieke wêreldsbeskouing van God (of die gode) wat hoog bo die hemele leef, is dit nie vreemd dat berge die logiese plekke vir heilige ontmoetings tussen die hemel en die aarde is nie. Lees ons die bekende pelgrimslied in Psalm 121 deur die oë van iemand wat met ’n rugsak aan die voet van ’n hoë berg staan wetende hy of sy moet daarteen uit om vir God te gaan ontmoet, dan kry die openingstrofe ’n nuwe betekenis. “Ek kyk op na die berge, waarvandaan sal my hulp kom? My hulp kom van die Here.”

Berge was egter nie net ’n magiese ontmoetingsplek omdat dit hoog bo die aarde, naby aan die hemel was nie. Die mense van die antieke tye het naby aan die aarde geleef en het hul geestelike insipirasie geput uit die indrukwekkende skoonheid van die natuur. Die digter van Psalm 98 was so ’n aardbewoner. Hy of sy sing-bid dat “die see en alles daarin moet druis, die aarde en alles daarop moet juig, die riviere moet hande klap, die berge moet saam juig voor die Here, want Hy kom om oor die aarde te heers.” Om met geloofsoë langs ’n kabbelende bergstroom te sit en oor God se skeppinsgwerk te bepeins, is om te hoor hoe die koel bergwater spontaan in applous losbars vir die Een wat oor alles heers. 

Die bekendste van hierdie ontmoetings in die Ou Testament is sonder twyfel dié van Moses op die berg Sinai waartydens God se vir Moses die Tien Gebooie gegee het. Hierdie heilige ontmoetings tussen God en Moses word in die boek Eksodus oor vyftien hoofstukke vertel. Naby aan die einde van die reeks ontmoetings (33v12-23) vra Moses dat die Here vir hom wat Moses is, Sy aangesig sal wys. Die verrassing van die verhaal is dat God hom met Sy hand in ’n rotskeur wegsteek en in stede van God se aangesig, sien Moses slegs God se agterkant. Daar is ’n unieke interpretasie oor wat hierdie “agterkant van God” beteken. Die oorspronklike woord sou kon dui op die mees onlangse teenwoordigheid van God. Dit wat agterbly nadat iets of iemand daar verby is. Ons sou kon sê God se vars voetspore of die bewystukke van sy teenwoordigheid.  Daar hoog in die berg Sinai, moes Moses soos ’n spoorsnyer die tekens van God se onlangse teenwoordigheid lees. Mense wat gereeld in berge stap en ookal genoeg kere verdwaal het, sal weet dat bergpaadjies die vermoë het om ’n mens te leer om fyn waar te neem. Hoe meer jy stap, hoe beter kan jy sien. En so is dit ook met die geloofslewe, diegene wat hoop om God se aangesien in die alledaagse te sien, word genooi om fyn te kyk na die tekens van sy mees onlangse teenwoordigheid.

Hierdie bergverhaal speel heelwat jare later weer uit en by daardie geleentheid, was Moses weer een van die karakters in die verhaal. Van al die bergverhale, is Jesus se verheerliking op die berg seker die hoogtepunt (Matt 17, Mark 9, Luk 9). Matteus vertel dat Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes by ’n berg opgevat het waar is hulle alleen kon wees. Hierdie alleenheid wat ’n berg or karoovlakte bied is deel van die rede waarom mense wildernis plekke as heilige ontmoetingsplekke beleef.

In Konings 19 lees ons die roerende verhaal van Elia wat na God se berg Horeb gevlug uit vrees vir Isebel. God het hom uit die grot waarin hy weggekruip het geroep om voor God te gaan staan. Hierdie ontmoeting gaan toe gepaard met allerhande tekens wat sou kon dui op God se magtige teenwoordigheid. Van rukwinde met rotstortings tot aardbewings en bergbrande. Maar volgense die Bybel was God nie in een van hierdie nie. Nadat alles bedaar het, was daar ’n fluistering in die windstilte. Toe Elia dit hoor, het hy besef dat die Here opgedaag het. Dit was hierdie stilte wat Jesus gereeld in die berge gaan soek het – om alleen wees in die teenwoordigheid van die Here wat in stilte fluiter. Tydens Jesus se verheerliking was hierdie bergstilte onderbreek deur Petrus se planne om die teenwoordigheid van die Here vir ewig vas te vang deur drie hutte te bou. Volgens Markus het Petrus nie geweet waarvan hy praat nie en volgens Matteus het God hom in die rede geval met die woorde:  “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.” 

Petrus, soos baie ander was opsoek na die soort indrukwekkende geloof wat berge kan versit. Maar die Een wat fluister in die windstilte nooi mense om eerder ver in berge te gaan sit en luister na Sy stem.

Vorige
"Soos Joe"