Kersfees 2020 – Aanlynboodskap
Tema: Die Evangelie is tuisgemaak.
- Teks: Filippense 2:5-8
- Aanbieder: Fourie Rossouw
- Vrydag 25 Desember 2020
In die nadraai van ‘n jaar van inperkings en sosiale afsondering, te midde van ‘n reeks uitdagings wat die skepping in die gesig staar, sou dit maklik wees om te dink dat die mens die groot sondebok in dit alles is. Sommige gesprekke sal dit selfs laat klink dat die beste wat met die skepping kan gebeur is die totale verwydering van die mensdom van planeet aarde.
Hierdie denkwyse strook nie met die goeie nuus van die Evangelie nie. Die boodskap van kersfees daarteenoor herinner ons dat om ‘n mens te wees ‘n goeie en geseënde ding is. Soortgelyk soos die koopkrag van produkte wat tuisgebak en handgemaak is, wys kersfees ons daarop dat die mens se betrokkenheid by die skepping is waardevol en kosbaar. God se menswording het immers Sy groot heelmaalplan vir die hele skepping ontsluit.
Op kersdag word ons opnuut herinner aan hierdie goeie nuus:
God word mens.
Soos in die hemel, so ook op die aarde.
Die groot vraag van die kersverhaal bly: “Soos watter mens word God?” Vele karakters tree na vore in die vertellings van die lewe van Jesus van Naseret. Ons ontmoet verskeie Romeinse regeerders, vir Herodus, Pilatus en ook ‘n reeks Fariseërs en skrifgeleerders. Ons ontmoet ook vir Josef, Maria, skaapwagters, engele, wyses, tollenaars, bedreërs, verraaiers, kranksinniges, besetenes en ongelowige Thomasse. In al hierdie mense sien ons stukkies van onsself en mekaar. Ons sien die slegste in menswees en ook die heel beste. Die groot uitnodiging vir elkeen wat hul menswees in die kersgebeure wil herontdek is om te streef om soos Jesus te word.
Wanneer God mens word, is Sy beweging afwaarts. Hy maak Hom los van die hemel en daal neer op die aarde. Hy beweeg van onbeperk na begrens. Hy neem die houding van ‘n dienskneg aan. Hy buig die knie en tel ‘n kruis op. Hy ry op donkies instede van perde. Hy meng met die semels, die varke, die sondebokke en die uitgeworpenes. Die mens wie God word wys ons die afwaartse weg van selfopoffering ter wille van God se groot liefde vir Sy hele skepping (Filippense 2:5-8; Johannes 3:16).
Voorwaar om mens te wees is goed en geseënd. Maar saam met die seëning van menswees kom die dringende verantwoordelikheid om die regte soort mens te wees. God se mens. Iemand wat ander en die skepping dien. Iemand wie nie te groot is vir sy of haar skoene nie, maar instede die knie buig om die voete van ander te was.
Luisterteks
Filippense 2:5-8
Volg Jesus Christus se voorbeeld
5Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees:
6Alhoewel Hy self God was,
het Hy nie vasgeklou
aan die Goddelikheid wat Hom
toekom nie,
7maar Hy het dit prysgegee:
Hy het ’n slaaf geworden aan mense gelyk geword.
En toe Hy as mens geleef het,8het Hy Homself
nog verder vernederdeur tot die dood toe
gehoorsaam te wees,ja, tot die kruisdood toe!
9Daarom het God Hom ook
tot die hoogste posisie verhoog
en aan Hom die Naam gegee
wat belangriker is
as elke ander naam.
10Só sal by die noem
van Jesus se heerlike Naam
elke knie in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde buig,
11en elke tong sal bely:
“Jesus Christus is Here!”
En só sal God die Vader
verheerlik word!