Psalms vir grendeltyd: Gebede in Lof

Psalms vir grendeltyd: Gebede in Lof

Het jy al aan die Here gedink as ‘n singende God? Reg deur die Bybel pols dit soos ‘n refrein, God jubel en juig en nooi ons om op die ritme van Sy liefde te dans. Psalm 96 is een groot aansporing om ons aandag en fokus op God te draai, want aan Hom alleen kom die eer en lof.
Wat gebeur met ons wanneer ons dit doen?

En wat gebeur met die res van God se skepping wanneer ons die musiek wat in ons harte leef so tot God sing?

Die hele skepping kom in pas met die ritme van God se nuwe heerskappy.

  • Week van gebed 2021
  • Gesprek 3 van 5
  • Psalm 96
  • Aanbieder: Fourie Rossouw

Luisterteks

Psalm 96

Die Here kom om oor die aarde te heers
1Sing ‘n nuwe lied tot eer van die Here,
sing tot eer van die Here, almal op aarde!
2Sing tot eer van die Here, prys sy Naam,
verkondig elke dag sy reddingsdade!
3Vertel die nasies van sy mag,
al die volke van sy magtige dade.
4Die Here is groot, al die lof kom Hom toe,
ontsagwekkend is Hy bo alle gode.
5Al die gode van die volke is niks:
dit is die Here wat die hemele gemaak het.
6Majesteit en luister straal van Hom uit,
krag en glans vul sy heiligdom.
7Prys die Here, alle volke,
prys die Here om sy eer en mag!
8Prys die Here om die eer van sy Naam!
Kom na sy voorhowe toe, bring vir Hom offers!
9Buig voor die Here by sy heilige verskyning;
betoon eerbied aan Hom, almal op aarde.
10Verkondig onder die nasies: “Die Here regeer;
die wêreld staan vas, dit wankel nie;
die Here sal die volke regverdig oordeel.”
11Die hemele moet bly wees en die aarde moet juig,
die see en alles daarin moet druis,
12die veld en alles daarop moet jubel,
al die bome in die bos moet hulle verheug
13voor die Here, want Hy kom,
Hy kom om oor die aarde te heers.
Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid,
oor die volke met billikheid.

Verskaf met die komplimente van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. © Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Ondersteun ons en word ‘n saaier van hoop.