Die Golflengtes van Genade
Wat het ‘n walvis in die Stille Oseaan, saam met die #MeToo; #ThursdaysInBlack; #BLM; #FarmersLivesMatter en soveel ander veldtogte in gemeen met die verhaal van die Kanaänitiese vrou se ontmoeting met Jesus? Onderliggend aan al hierdie noodkrete, is die diep menslike behoefte om gehoor te word. Ongelukkig ervaar baie mense dat die frekwensie van hulle noodkrete op dowe ore val.
En die walvis? Sedert die laat 80’s bestudeer navorsers ‘n walvis wat sing teen ‘n frekwensie wat die ander walvisse nie registreer nie.
Hierdie walvis staan bekend as die “Loneliest whale on the world.”
In Matteus 15 vind ons die verhaal van ‘n vrou wat ook soos die walvis roep, maar nie gehoor word nie. Totdat Jesus na haar draai, met haar praat en na haar storie luister.
Luisterteks
Matteus 15:10-28
Die Kanaänitiese vrou
21Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon toe vertrek. 22’n Kanaänitiese vrou wat in daardie gebied gewoon het, het onverwags by Hom aangekom. Sy het aanhoudend geroep: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van ‘n bose gees, en dit gaan sleg.”
23Maar Hy het haar niks geantwoord nie.Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons.”
24Jesus antwoord: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.”
25Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê: “Here, help my!”
26Hy sê vir haar: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.”
27“Dit is waar, Here,” sê sy, “maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.”
28“Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.”
Van daardie oomblik af was die dogter gesond.