Dis Funksioneel

Uit die put van broedertwis kom God se heelmaakwerk

Josef se konflik met sy broers lig ‘n spieël op vir elke huisgesin, gemeenskap en samelewing. Soos destyds, beland drome steeds in donker putte en heers daar onversoenbare konflik tussen mense. Die hoop van die verhaal is dat uit die put van broedertwis kom God se heelmaakwerk.

  • Luisterteks: Genesis 37:12-29
  • Prediker: Fourie Rossouw
  • Musiekbegeleiding: Judy Ann Kossatz
  • Tjello: Izelle Theunissen
  • Saxofoon: Gustav Roth
  • Video en redigering: Yolande Vorster

Luisterteks

Genesis 37:12-29

Josef en sy drome

1Jakob het in Kanaän gebly, die land waar sy voorvaders ook as vreemdelinge gebly het. 2Hier volg die familiegeskiedenis van Jakob.Josef was nog jonk, sewentien, toe hy kleinvee opgepas het saam met sy broers, die seuns van Bilha en Silpa, sy pa se vrouens. Josef het slegte stories oor sy broers by hulle pa aangedra. 3Van al sy seuns was Israel die liefste vir Josef, die seun wat in sy ouderdom gebore is, en daarom het hy vir Josef lang klere met moue gemaak. 4Toe sy broers sien dat hulle pa vir Josef liewer het as vir enige van hulle, het hulle ‘n afkeer van Josef gekry en het hulle niks goeds oor hom gesê nie.

Josef word ‘n slaaf

12Josef se broers het hulle pa se kleinvee gaan oppas in Sigem. 13Toe sê Israel vir Josef: “Kyk, jou broers pas die kleinvee op in Sigem. Ek wil jou na hulle toe stuur.”Josef het geantwoord: “Goed, Pa!”14Toe sê Israel vir hom: “Gaan kyk of alles nog reg is by jou broers en met die kleinvee en kom vertel my alles.”Israel het hom van die laagte by Hebron af gestuur na Sigem toe. 15Hy het daar in die veld rondgesoek, en toe kom ‘n man by hom en dié vra vir hom: “Wat soek jy?” 16Josef antwoord hom: “Ek soek my broers. Kan jy my dalk sê waar hulle die kleinvee oppas?” 17Toe sê die man: “Hulle het van hier af versit. Ek het gehoor hulle sê hulle wil na Dotan toe gaan.”Josef is toe agter sy broers aan en hy het hulle by Dotan gekry. 18Hulle het hom al van ver af gesien en voor hy by hulle gekom het, het hulle ooreengekom om hom dood te maak. 19Hulle het naamlik vir mekaar gesê: “Kyk, daar kom die ou dromer aan. 20Kom ons maak hom dood en gooi hom in ‘n put. Ons kan sê ‘n roofdier het hom opgevreet. Dan sal ons sien wat word van sy drome.”21Ruben het hulle hoor praat en omdat hy vir Josef wou red, het Ruben gesê: “Nee, ons moet hom nie doodmaak nie. 22Moenie moord pleeg nie. Gooi hom liewer in hierdie put hier in die veld. Moenie sy lewe neem nie.” Ruben het dit gesê sodat hy vir Josef kon red en hom na sy pa toe kon terugstuur. 23Josef het skaars by sy broers aangekom of hulle trek sy klere uit, die lang klere met moue wat hy aangehad het, 24en vat hom en gooi hom in die put. Dit was ‘n droë put, sonder water. 25Daarna het hulle gaan sit en eet, en toe hulle weer sien, kom daar ‘n klomp Ismaelitiese handelaars uit Gilead aan. Hulle was op pad na Egipte toe en op hulle kamele was daar gom, balsem en hars gelaai.26Toe sê Juda vir sy broers: “Watter nut het dit vir ons om ons broer dood te maak en dit dig te hou? 27Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie sy lewe neem nie, hy is ons broer, hy is bloedfamilie.”Juda se broers het na hom geluister, 28en toe daar van die Midianitiese handelaars verbykom, het die broers vir Josef uit die put uit opgetrek en vir twintig stukke silwer aan die Ismaeliete verkoop en dié het hom Egipte toe gevat.

Vorige
Stoei
Volgende
Frekwensie