Die kerkkombuis se comeback

Hoe Christene groei in tye van swaarkry en lyding.

Grendeltyd en die uitdagings om die Covid-19 virus hok te slaan het die wêreld in ongekende tydperk van lyding en swaarkry gedompel. Boonop moet baie mense steeds met die meer bekende uitdagings hul lewe worstel. Wat maak ons as Christene uniek in ons uitkyk op lyding? Paulus se wysheid in Romeine 5 werp lig op hoe Christene al sedert die vorming van die kerk moeilike uitdagings in die gesig gestaar het.

Luisterteks

Romeine 5:1-11

Die vrug van die vryspraak

1God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 3Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. 6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 7’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ‘n regverdige nie. Ja tog, vir ‘n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. 8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 10Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. 11Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.

Boodskap

Die Kerkkombuis se “comeback”.

Die kerk se deure is dalk toe, maar dié van die kerkkombuis staan wawyd oop. 

Die Covid-19 pandemie het die kerk saam met die res van die wêreld in ’n ongekende nuwe manier van leef gedompel. Van die kansel tot konsistorie tot die pastorie, moes gemeentes nuut en vars begin dink het oor wat gemeentewees beteken. Van die al die ruimtes in die kerkgebou wat die afgelope tyd ’n nuwe blaadjie moes omslaan, bly die kerkkombuis vir my die een wat die meeste my missionale verbeelding prikkel. 

Daar is ’n ou grappie wat die rondte doen dat die kerk die organisasie is met die meeste kombuise in die land. Ongelukkig was hierdie grappie altyd ten koste van die kerk vertel, omdat die meeste kerke se kombuise deur die loop van die jaar leeg staan en meer na motbolle en Jik ruik as na koffie en kaneel. In beheer daarvan is dikwels baie kwaai kerktannie wat die sleutels van elke kas bewaar asof sy die sleutels van die hemel in haar besit het. Ek is egter van mening dat grendeltyd het hierdie leëkombuissindroom ’n finale nekslag toegedien. 

Die winde van verandering het vir die kerkkombuis gedraai heel aan die begin van grendeltyd. Nadat Jan Rap en sy maat al die toiletpapier suid van die Sahara opgekoop, het die res van ons op die bruismeel toegesak. Mense wat nog in 2019 op die Tim Noaks Banting wa was, het die troos van varsgebakte brood herontdek. Dit was nie lank nie, toe verander elke kombuis van die gemiddelde kerklidmaat in ’n klein bakkery en tuisnywerheid. Nadat die almal redelik gekonfyt geraak het met die wonderlike werkinge van winkelgis, het die heimwee na ouma se suurdeegbrood ingeskop. Toé word daar suurdeegplantjies gekweek en onder mekaar uitgedeel asof iemand die hand van Vadertyd met ’n eeu teruggedraai het. Honderd dae later en huishoudings regoor die land verstaan nou die waarde van die kombuis as ’n teenvoeter teen die geestelike impak van sosiale afsondering. 

Dit was egter nie net die geestelike impak van alleenheid en verlange wat deur die reuk van ’n varsbrood gevoed word nie. Die kombuis het ook as belangrike missionale ruimte tot die voorgrond getree. Kort nadat President Ramaphosa die eerste drie weke van grendeltyd aangekondig het, het die ratwerke van mense se gasvryheid begin draai. Kospakkie- en sopkombuisprojekte het oornag ontstaan, waarvan baie uit die nederige kombuise van gewone mense gekom het. Die tragiese en harde realiteit van armoede in Suid-Afrika, gepaardgaande met die dramatiese effek van grendeltydmaatreëls, het gelei tot ’n groeiende behoefte na alledaagse broodnodige lewensmiddele. En so het die kombuise van huise en kerke na die voorgrond getree. Terwyl die preekstoel en orrel stof opgegaar het, het die kerk se kombuis weer die hartjie van die gemeente geword. 

Die kerk is nou sonder twyfel die organisasie met die meeste kombuise in die land, maar hierdie keer staan dit nie leeg nie. Die kerk se kombuis is nou daar waar elke lidmaat leef met ’n oop hart en hand na buite. Die kerk se kombuis kreun onder die stapels blikkieskos, mieliemeel en soppoeier. Dis nou waarlik die missionale lakmoestoets van die gemeente se gehoorsaamheid in haar onmiddelike omgewing. 

As die kerk se deure weer oopmaak vir eredienste en Bybelstudies, hoop ek van harte dat die kerkkombuis nooit weer soos ’n motbol sal ruik nie. Mag die kerk besef dat sy waarlik die sleutels van die hemel in haar hand hou, maar dat die hemel nie daarvan hou om toegesluit te bly nie.