Kruiswysheid – Gesprekke oor Jesus se laaste Psalms
- Prediker: Fourie Rossouw
- Luistertekste: Johannes 19 / Psalm 93
- Kruiswoorde: Dit is volbring.
- Woord vir die week: Heel
- Geloofsdissipline: Feesviering
Gebruik die onderstaande gespreksritme en preekteks om jou Huiskerk-ontmoeting in te rig.
‘n Gespreksritme vir Huiskerk
Gebruik hierdie nuwe werklikheid as ‘n goeie geleentheid om nuut te dink oor waar kerk gebeur en wat die kerk is. Jou huis is ‘n ontmoetingsplek en jy is die kerk. As daar mense saam met jou in jou vergader, is julle vanoggend ‘n gemeente in die kleine.
- Begin deur iemand te vra om as voorganger / liturg op te tree
- Gebruik die onderstaande ritme om julle saamwees vanoggend in te rig.
Bid
- Raak vir ‘n oomblik rustig en stil. Laat die stilte toe om jou te help bewus raak dat die Here teenwoordig is daar waar jy jouself nou bevind.
- Lees Psalm 93 rustig en hardop as ‘n toewydingsgebed.
Dank
- Waarvoor is jy vanoggend dankbaar? Indien jy op jou eie deur hierdie inhoud werk, skryf dit in jou joernaal neer. Indien julle saam as ‘n gesin of huismaats vergader, gee vir elkeen ‘n kans om op te noem dit waarvoor elkeen dankbaar is.
- Aanlyn dankoffers – Indien jy hierdie geleentheid wil gebruik om ‘n dankoffer of skenking aan die kerk te maak, nooi ons jou om van Snapscan of EFT gebruik te maak.
Lees
Jesus blaas sy laaste asem uit 28Hierna het Jesus, terwyl Hy weet dat alles reeds afgehandel is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.” 29’n Kruik vol suur wyn het daar gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptak gesit en dit teen sy mond gehou. 30Toe Jesus die suur wyn proe, het Hy gesê: “Dit is nou afgehandel!” Toe het Hy sy kop vooroor laat val en sy asem uitgeblaas.31Aangesien dit die voorbereiding vir die Sabbat was, wou die Jode nie hê dat die liggame op die Sabbat aan die kruis moes bly hang nie, want daardie spesifieke Sabbat was ’n belangrike een. Hulle het Pilatus toe gaan vra dat die kruiselinge se bene gebreek en die liggame verwyder moes word. 32Die soldate het toe gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die ander een wat saam met Jesus gekruisig was. 33Toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy alreeds gesterf het, het hulle nie sy bene gebreek nie. 34Een van die soldate het egter sy spies in Jesus se sy gesteek en daar het dadelik bloed en water uitgevloei.35Hy wat dit aanskou het, vertel dit gesaghebbend, en sy getuienis is waar. Hy weet ook dat hy die waarheid praat sodat ook julle tot geloof moet kom. 36Want hierdie dinge het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” 37Verder sê die Skrif: “Hulle sal Hom aanskou vir wie hulle deurboor het.”
Johannes 19:28-47
Preekteks
Ek het grasgesny toe die Bokke halftyd in die wêreldbekerfinaal na die kleedkamer gedraf het. My senuwees was op hol. Ek het tot diep in die tweede helfde gesukkel om te glo dat Suid-Afrika die wêreldbeker gaan wen. Selfs met Mapimpi se drie in die sakkie, kon ek nie ontspan nie. Dit was eers toe Cheslin Kolbe langs die lyn af naal en die Engelse kaptein na grashalms laat gryp het, dat ek uiteindelik die skrif aan die muur kon sien.
Kort nadat Kolbe sy drie gedruk het, het ’n nabyskoot van die persoon wat die wenspan se naam op die Web Ellis trofee gegrafeer het, op die skerm verskyn. Ek weet nie hoe vinnig hy gegrafeer het nie, maar teen daardie tyd het hy al diep in Afrika getrek. Terwyl ek gewik en geweeg het om die gras se rante te gaan sny ter wille van my senuwees, het hy reeds gesien hoe Siya Kolisi die trofee lig.
En so is dit ook met vanoggend se kruiswoorde.
Johannes se vertelling van die kruisdood van Jesus is soos iemand wat reeds die oorwinning beleef het.
Die ander evangelies los ons in die tragiese finaliteit van Jesus se kruisdood. Vir beide Markus en Matteus was Jesus se laaste woorde ’n godverlate noodkreet.
Nie Johannes nie.
Johannes onthou die kruisdood anders. Vir hom was Jesus se beweging nie afwaarts in die donkerte van die dood in nie, maar eerder ’n opwaartse voltooiing van God se groot heelmaakplan.
Lees jy dan weer Psalm 93, dan sien jy iets van Johannes se verstaan van Jesus daarin. Jesus was nog altyd daar, hoog bo die chaotiese geraas van riviere, soldate en skares wat skree, hoog bo alles is Jesus koning.
So inteenstelling met die ander evangelies, onthou Johannes die woorde: Dit is volbring.
Hoe kom Johannes by hierdie woorde uit? Kom ons ondersoek saam drie moontlikhede:
EEN
Volgens Walter Brueggemann herinner die woord aan Hebreeuse woord wat in Genesis 2 verskyn wat in die Afrikaanse Bybels vertaal word met “Voltooi”. Nadat God gesien het dat die skepping goed was, sê die teks dat die hemel en aarde is voltooi.
Daarna verskyn die woord weer wanneer Moses in Eksodus 40 met groot moeite die tabernakel van God ontwerp en voltooi.
Wanneer Joshua dan na die Beloofde land regverdig tussen die 12 stamme verdeel, verskyn die woord weer.
Volgens Brueggemann dui die woord op drie groot oorwinnings van God in Israel se verhaal:
Die skepping is God oorwinning oor die chaos.
Die tabernakel is God se oorwinning oor verlatenheid.
Die beloofde land is God se oorwinning oor haweloosheid.
God skep.
God is.
God volbring.
Maar dan rafel die verhaal weer uit en dis asof ons nooit weer die weg terugvind na God se voltooiing van sy handewerk nie.
Totdat Johannes ons herinner aan die vierde en finale voltooing.
Die vreemde ding van Johannes is dat hy dit onthou as Jesus se kruiswoorde. Tog weet ons dat as die verhaal daar sou stop so dit nie volbring gewees het nie. Dis amper asof die woorde beter sou pas in die opstandingstuin waar die graf leeg is en die dood finaal oorwin is.
Maar nie Johannes nie. Johannes gee die punch-line weg. Hy is soos iemand wat alreeds die film gekyk het en homself nie kan help om die heeltyd te vertel wat volgende gaan gebeur nie.
Johannes is sleg met spoiler alerts.
En dit bring my by die tweede moontlikheid.
TWEE
Die Johannes-evangelie word vertel deur die lens van die Opstanding. Johannes is die laaste oorblywende apostel. Sedert Jesus se opstanding leef Johannes in die nabye teenwoordigheid van ’n geloofsgemeenskap wat hulself laat rig deur Jesus se groot liefdesopdrag. Deur die jare sou hulle leer dat gehoorsaamheid daaraan slegs moontlik is omdat Christus uit dood opgestaan het en aan hulle Sy Gees gegee het. Die evangelie van Johannes is grotendeels ’n produk van daardie geloofsgemeenskap. Hulle kan nie anders as om oor die kruisiging van Jesus te dink en te skryf deur die lens van dit wat Johannes hulle oor die opstanding van Jesus vertel het nie. So wanneer hulle die kruisiging sien, sien hulle die liefde van God in sy hoogste vorm. Hulle sien nie godverlatenheid nie, inteendeel hulle sien God se herskepping, sy tabernakel-teenwoordigheid en Sy beloftes wat realiseer.
Maar dalk is daar ’n derde rede hoekom Johannes ander kruiswoorde onthou.
DRIE
Johannes was die enigste apostel wat enduit by Jesus gebly het. Saam met ’n handjie vol merkwaardige vroue het Johannes hoorbaar naby aan Jesus se pyn en lyding gekom. Die ander evangelies onthou die vroue se teenwoordigheid by die kruis op ’n afstand. Die ander onthou dat hy uitgeroep het, Johannes onthou wat hy skaars hoorbaar gesê het.
Vir hom wat daar was, naby aan Jesus het alles in daardie donkerste uur sin gemaak.
Hoe anders is dit nie vir ons in hierdie tyd van isolasie en afsondering nie. Ek is bevrees dat as ons hier klaar is, gaan ’n klomp van ons dit baie moeilik vind om naby aan die seer van ander te leef.
So wat is die teenvoeter teen ’n samelewing wat in die nadraai van die pandemie nog meer geïsoleerd leef ten opsigte van die pyn van ander?
Deur reeds nou in solidariteit met ander se pyn te leef.
Mag ons, in ’n post-pandemie wêreld, mekaar opnuut herinner dat as ons die fluistering van Christus se oorwinningswoorde in die wêreld se donkerste ure wil hoor, sal ons moet nader staan, nader aan die kruis van Christus.