- Prediker: Leon Marais
- Luistertekste: Johannes 19:28 / Psalm 42
- Woord vir die week: Genoeg
- Geloofsdissipline: Vas
Gebruik die onderstaande gespreksritme en preekteks om jou Huiskerk-ontmoeting in te rig.
‘n Gespreksritme vir Huiskerk
Gebruik hierdie nuwe werklikheid as ‘n goeie geleentheid om nuut te dink oor waar kerk gebeur en wat die kerk is. Jou huis is ‘n ontmoetingsplek en jy is die kerk. As daar mense saam met jou in jou vergader, is julle vanoggend ‘n gemeente in die kleine.
- Begin deur iemand te vra om as voorganger / liturg op te tree
- Gebruik die onderstaande ritme om julle saamwees vanoggend in te rig.
Bid
- Raak vir ‘n oomblik rustig en stil. Laat die stilte toe om jou te help bewus raak dat die Here teenwoordig is daar waar jy jouself nou bevind.
- Lees Psalm 42 rustig en hardop as ‘n toewydingsgebed.
Dank
- Waarvoor is jy vanoggend dankbaar? Indien jy op jou eie deur hierdie inhoud werk, skryf dit in jou joernaal neer. Indien julle saam as ‘n gesin of huismaats vergader, gee vir elkeen ‘n kans om op te noem dit waarvoor elkeen dankbaar is.
- Aanlyn dankoffers – Indien jy hierdie geleentheid wil gebruik om ‘n dankoffer of skenking aan die kerk te maak, nooi ons jou om van Snapscan of EFT gebruik te maak.
Boodskap
Hierdie week staan ons stil by Jesus se kruiswoorde: “Ek is dors.” (Joh 19:28)
Om te dors is om mens te wees. Daarom dat ons iets van Jesus se menslikheid kan sien in hierdie oomblik aan die kruis.
Jesus se kruiswoorde eggo Psalm 42.
Die Psalm begin met hierdie boeiende openingswoorde:
Soos ‘n wildsbok smag na waterstrome,
so smag ek na U, o God.
Ek dors na God, na die lewende God.
Die Totius beryming van hierdie woorde is nog meer dramaties:
Soos ‘n hert in dorre streke, skreeuend smag na die genot van die helder waterbeke…
Skreeuend smag…diep nood.
Ons weet van dorre streke – ons is bewus van die groot droogte in baie dele van ons land. Ons het die videos en foto’s gesien, ons ken waarskynlik iemand wie se lewe self geraak word daardeur en ons het verskeie maniere probeer help. So ons het die krisis al gesien en beleef: wanneer die aarde dors is en mense en dier magteloos ly as gevolg van te min water.
Maar vir die Psalmdigter is die wildsbok se waternood ‘n metafoor vir dit waarna hy op ‘n diep vlak smag: God.
In hierdie dae word ons almal gekonfronteer met ‘n reguit en eerlike lewensvraag: Wat is eintlik belangrik? Nood en krisise het die vermoë om ons te laat besin oor wat regtig NOOD-saaklik is. Skielik is ‘n klomp goed waar sonder jy voorheen jou lewe nie kon indink nie, glad nie so belangrik nie. En ander goed wat nog altyd as vanselfsprekend aanvaar was, is skielik lewensbelangrik.
Daar is ‘n verskil tussen LUS wees en DORS wees.
Lus is vir die lekker maar dors is vir oorlewing.
In goeie tye sukkel ons soms om die onderskeid te hou tussen die twee: dan lyk die goed waarvoor ons lus is lewensbelangrik en verwaarloos ons maklik die dinge wat eintlik saak maak.
Psalm 42 help ons om te herontdek wat in hierdie nood-tyd waarlik saak maak. Wat die Psalmdigter se geestelike dors les in hierdie tyd is die wete dat God hom daardeur gaan dra. Nie omdat God ‘n towerstaf is om alles uit te sorteer nie, maar omdat God die dieptste anker is as alles om jou verskroei en verspoel.
As Jesus aan die kruis hang – dan is die vraag van die omstanders eintlik dieselfde vraag as dié van die teenstanders in Psalm42:
“En waar is God nou?”
Dan help Jesus se woorde: “Ek is Dors” ons onthou – God is in aksie. Want dit is die plek waar God kom en deur Jesus se kruisdood Homself kom verbind aan ons – om my God te wees!
In alle tye.
Maak nie saak hoe die wêreld om jou lyk nie, jy is waarlik nooit van God verlate nie.
Daarom is nog ‘n beeld van water hier baie gepas – die doopwater. Die Here het Homself aan ons verbind met die woorde: “Jy is Myne! Ek het jou op jou naam geroep. Ek sal jou nooit los nie.”
Dis waaraan ons as gelowiges vashou ook in hierdie tye van groot uitdagings. Ons diepste belydenis bly hierdie een: Ek behoort uiteindelik in lewe en dood, liggaam en gees, aan my getroue Verlosser Jesus Christus – en dit is eintlik GENOEG.