- Prediker: Fourie Rossouw
- Luistertekste: Matt 27:46; Mark 15:34 / Psalm 22
- Kruiswoorde: My God, my God, waarom het U my verlaat.
- Woord vir die week: Verlate
- Geloofsdissipline: Stille afsondering
Gebruik die onderstaande gespreksritme en preekteks om jou Huiskerk-ontmoeting in te rig.
‘n Gespreksritme vir Huiskerk
Gebruik hierdie nuwe werklikheid as ‘n goeie geleentheid om nuut te dink oor waar kerk gebeur en wat die kerk is. Jou huis is ‘n ontmoetingsplek en jy is die kerk. As daar mense saam met jou in jou vergader, is julle vanoggend ‘n gemeente in die kleine.
- Begin deur iemand te vra om as voorganger / liturg op te tree
- Gebruik die onderstaande ritme om julle saamwees vanoggend in te rig.
Bid
- Raak vir ‘n oomblik rustig en stil. Laat die stilte toe om jou te help bewus raak dat die Here teenwoordig is daar waar jy jouself nou bevind.
- Lees Psalm 22 rustig en hardop as ‘n toewydingsgebed.
Dank
- Waarvoor is jy vanoggend dankbaar? Indien jy op jou eie deur hierdie inhoud werk, skryf dit in jou joernaal neer. Indien julle saam as ‘n gesin of huismaats vergader, gee vir elkeen ‘n kans om op te noem dit waarvoor elkeen dankbaar is.
- Aanlyn dankoffers – Indien jy hierdie geleentheid wil gebruik om ‘n dankoffer of skenking aan die kerk te maak, nooi ons jou om van Snapscan of EFT gebruik te maak.
Lees
Van twaalfuur af het dit oor die hele land donker geword tot drie-uur die middag. Teen drie-uur het Jesus baie hard uitgeskreeu: “Eli, Eli, lemá sabagtani,” wat beteken: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Party van die omstanders het dit misverstaan en gedink Hy roep na die profeet Elia. Een van hulle hardloop toe gou, vat ’n spons, maak dit vol suur wyn en steek dit op die punt van ’n riet om Hom te laat drink. Die ander het egter gesê: “Los hom. Kom ons kyk of Elia hom kom red.” Maar Jesus het weer baie hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. Op daardie oomblik het die swaar gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo tot onder. Die aarde het gebewe en die rotse het uitmekaargebars. Selfs die grafte het oopgegaan en God het die liggame van baie gelowiges wat reeds dood was, weer lewendig gemaak. Hulle het uit die grafte gegaan, en ná Jesus se opstanding het hulle die heilige stad Jerusalem binnegegaan en aan baie mense verskyn. Die Romeinse offisier oor honderd en die ander soldate wat Jesus bewaak het, het baie beangs geword toe hulle die aardbewing en die ander gebeurtenisse sien, en hulle het gesê: “Hierdie man was werklikwaar die Seun van God!”
Matteus 27:45-54
Preekteks
Die Nobelpryswenner Elie Wiesel was 16 jaar oud toe die Amerikaners die Joodse konsentrasiekamp waarin hy op daardie stadium ’n gevangene was, bevry het. Die bevryding van die kamp was drie maande te laat vir Elie se pa. Hy was een nag deur ’n SS offisier doodgeslaan omdat hy vir water gepleit het. Elie het op die onderste bed van die stapelbed gelê terwyl die offisier sy pa vermoor het. In sy bekende literêre werk getiteld “Nag” onthou Elie die volgende:
“In sy laaste oomblikke het ek my pa gehoor roggel, “Eliezer.” Sy laaste woorde was my naam. ’n Noodkreet waarop ek nie geantwoord het nie.”
Hy vertel ook in sy boek die volgende hartverskeurende verhaal:
Twee mans en ’n kind word deur die Nazis teregestel. Toe die valdeur van die galg oopval was die twee mans onmiddelik dood, maar die kind was te lig en het vir ’n baie lang tyd gely voor hy uiteindelik sy laaste asem uitgeblaas het.
Elie was in die skare en toe iemand agter hom uitgeroep het: “Waar is God?” het hy stil gebly.
Hoe baie keer is daardie vraag nie al gevra nie?
Uit die aard van my beroep kruis my pad dikwels met mense wat hulself op so ’n godverlate plek bevind.
Wanneer mense my dit vra, dan huiwer ek altyd om te antwoord. Dikwels sit ons vir lank in stilte voor ek waag om iets te sê.
Dalk is ons nou weer daar.
’n Kairos oomblik waar baie mense opnuut gekonfronteer word met die oënskynlike afwesigheid van God.
As jy vandag daardie vraag vra, is jy nie uniek nie. Jy is deel van ’n baie ou geloofstradisie en lydenstyd help ons om te drink uit die diep wysheid wat daarin lê.
Vanoggend kom ons tot stilstand by een van Jesus se mees bekende kruiswoorde, “My God, my God, waarom het U My verlaat?“. Dis opgeskryf deur beide Markus en Matteus. Dis ook een van die min kere wat Jesus in Aramees aangehaal word. Amper asof die evangelieskrywers wil beklemtoon dat hierdie kruiskreet van Jesus verbatim sy eie woorde is.
In sy donkerste uur bid Jesus ’n Psalm.
Net dit alleen verdien ’n preekreeks op sy eie. So kom ons staan vir ’n oomblik stil by hierdie gedagte.
Psalm 22 vervul ’n belangrike literêre funksie in die kruistoneel. Volgens Johannes was dit deel van die vervulling van ’n profesie. Vir hom was die soldate wat sy klere verdeel het en oor sy onderkleed geloot het, die profetiese raakplek met die Psalm.
Maar Matteus en Markus spandeer nie baie tyd by die soldate nie. Hulle onthou Psalm 22 as Jesus se laaste gebed.
Johannes sien die Psalm as ’n vorentoe-kyk na Jesus se kruisdood.
Matteus en Markus sien hoe Jesus in sy donkerste uur terugkyk na die wysheid van die Psalmdigter.
Dis op hierdie punt wat ek dink ons dikwels struikel as dit kom by ons eie donker ure. Jesus se verhouding met die Psalms kan ons hiermee help.
In die eerste beweging:
Jesus was goed ingegrawe in die tradisie van “lament”. Die antieke gelowiges van die Ou Testament was nie bang om deur hul diepste seer en pyn te wroeg en te worstel voor en met God nie. Ons moderne Westerlinge sukkel daarmee. Ons is te gou om ’n Jesus-sousie oor ons pyn te gooi. Te vinnig om ’n soetsappige stropie vir die pyn voor te skryf. Nie Jesus en die Psalmdigters nie.
Dis een ding om as ’n skeptiese mens krities te vra of God steeds relevant is te midde van die pyn.
Dis ’n ander ding om as ’n diep gelowige mens tot God die volgende woorde te bid: God waar is U?
Kan jy jouself dit sien bid sonder om oor jouself as ’n twyfelaar te dink? As jy nie kan nie, het jy nodig om in te skryf vir die antieke gelowiges se skool van gebed. Begin om die Psalms te lees, maar nie om ’n boodskap daaruit te kry nie. Eerder om ’n eerlik en opregte taal vir gebed aan te leer.
Die tweede beweging in die teks het plofkrag:
Vir beide Markus en Matteus word Jesus se laaste soeke na die teenwoordigheid van God, opgevolg deur ’n uitroep of ’n noodkreet. Hulle sê nie wat Jesus uitgeroep het nie.
Wat dit ookal was, dit het die voorhangsel in die tempel middeldeur geskeur.
Dis wat uitroepe doen. Dit breek nie net die stilte nie, maar roep ook ’n nuwe werklikheid in. Ons sien dikwels in verhoudings dat ’n noodkreet nodig is om die draaipunt in die verhouding te bewerkstellig. Verhoudings waar mense in stilte moordkuile van hul harte maak, stap baie selde die pad enduit en bereik nooit die diepte punt wat moontlik is in ’n gesonde verhouding nie.
So is dit ook met God.
Oor die voorhangsel wat geskeur het skryf Walter Brueggemann die volgende:
The curtain in the temple was the secret mystery of the temple that provided cover for the imperial economy of exploitation. In this moment the cozy relation of religion and state and the corporate economy was shattered. It was exposed as a fraud, broken open by the piercing cry of the forsaken Messiah. It turns out that the cross is no palliative for safe, little religion. It is an upheaval that shatters all the institutional assurances we treasure, and the holiness of God is left raw in the world.
Walter Brueggemann
Ek weet nie van jou nie, maar ek sukkel nogals om die virus van “Safe Little Religion” af te skud.
- Safe Little Religion hou van maklike antwoorde.
- Safe Little Religion sing lekker goedvoel liedjies en noem dit aanbidding.
- Safe Little Religion plak Psalm 23 op die agterkant van sy kar, maar lees selde indien ooit die voorafgaande Psalm.
- Safe Little Religion soek die leë graf, maar vat ’n kortpad verby die kruis.
- Safe Little Religion kies oppervlakkigheid bo die reis na die verlate vlaktes van die siel.
- Safe Little Religion hou van toe gordyne, waar jy nooit die waagmoed hoef te hê om die eerlike, opregte noodkreet van Psalm 22 teenoor God hoef uit te roep nie.
Die derde beweging kan jou help as uitroep nie jou ding is nie.
En dit is om te SUG.
Die Psalmdigter vra vir God om naby te kom wanneer hy Sug.
Met die openingswoorde van die Psalm nog vars op Jesus se lippe, was die uitblaas van sy laaste asem so ’n sug.
Hierdie week se geloofsdissipline is Stille Afsondering. (hoe ironies en toe-val-lig dat dit juis in hierdie week op ons wag!)
Ek wil jou aanmoedig om in die stilte te leer hoe om in God se teenwoordigheid te sug. Of dalk sou jy dit van ’n ander kant af kan benader. Daar is ’n goeie kans dat jy hierdie week gaan sug. Mag jy ontdek dat jou sug ’n gebed is in die teenwoordigheid van God.
So kom ek sluit af: Waar was God toe Jesus sy laaste asem uitgesug het?
Twee mense kan ons hiermee help:
Elie Wiesel en die soldaat by die voet van Jesus se kruis.
Oor die teregstelling van die twee mans en die jong seun skryf Elie verder:
’n Halfuur later, terwyl die seun nogsteeds gely het, het die man agter my weer uitgeroep: “Waar is God?” Waar is God? Dis toe dat ’n stem in my antwoord: “Waar is God? Hy hang daar aan die galg.”
Opsoek na die teenwoordigheid van God in Jesus donkerste uur, bely die kerk deur die belydenis van die soldaat dat dit toe al die tyd God was wat aan die kruis gehang het.
Amen