Kruiswysheid: Omgee

  • Prediker: Fourie Rossouw
  • Teks: Johannes 19:26-27 / Psalm 127
  • Kruiswoorde: Daar is jou seun; daar is u moeder.
  • Woord vir die week: Treur
  • Geloofsoefening: Omgee / Diens

Luisterteks

Die soldate het, toe hulle Jesus gekruisig het, sy bo-klere geneem en daarvan vier dele gemaak, vir elke soldaat ’n deel. Hulle het ook die drarok geneem. Dit was ’n naatlose kleed, van bo tot onder aaneen geweef. Hulle het toe vir mekaar gesê: “Moenie dit skeur nie, laat ons liewer daaroor loot en só bepaal wie s’n dit sal wees.” Dit is gedoen sodat die Skrif vervul kan word:“Hulle het my bo-klereonder mekaar verdeelen oor my onderkleed het hulle die lot gewerp.”Tot sover dan wat die soldate gedoen het.Naby die kruis van Jesus het sy ma, sy ma se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. Toe Jesus sy ma sien, en die lieflingdissipel wat by sy ma staan, sê Hy vir haar: “Vrou, dáár is u seun.” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, dáár is jou ma.” Van daardie uur af het die dissipel Jesus se ma by hom aan huis geneem.

Johannes 19:23-27

Nadenke

Hierdie week se Kruiswysheid kom uit die Johannes-evangelie (Joh 19:23-27). In sy kleurvolle verbeelding kontrasteer Johannes die optredes van 8 mense aan die voet van Jesus se kruis. Aan die een kant is daar vier soldate wat oor Jesus se besittings redekabel. Hulle staan op hulle regte en doen wat hulle altyd as soldate doen. Hulle verdeel die buit en laat die mees waardevolle kledingstuk aan die gode oor om te bepaal wie dit moet kry. Hoe bekend is hulle gedrag in hierdie tye nie? Dis ook so eie aan die kerk. Voor ons, ons kan kry, stry ons oor wie beste interpretasie of houvas op Jesus het.

Teenoor die soldate, wys Johannes vir ons hoe ons mekaar by die kruis moet ontmoet. Hy doen dit deur die nabye teenwoordigheid van vier merkwaardige vroue. Hulle was staatmaker dissipels van Jesus. Elkeen van hulle se storie as vrou, in ‘n wêreld oorheers deur wrede uitdrukkings van mag, verdien ‘n evangelie op sy eie. Drie van hulle is moeders. Twee van hulle is susters. Een van hulle sou die eerste mens word wat Jesus as die Opgestane Christus ontmoet.

Wat doen hulle by die kruis? Hulle staan naby. Anders as in die ander evangelies, is die vroue wat waak by Jesus se kruisdood, hoorbaar naby aan sy pyn en lyding. Hierdie nabyheid maak gesprek met Jesus moontlik. Jesus ignoreer die soldate se geskarrel na sy besittings en praat direk met hulle wat naby aan hom staan.

Wat sê hy vir hulle? Dieselfde woorde wat Johannes die Doper aan die begin van die Evangelie van Johannes oor Jesus gesê het: “(Kyk) daar is…”. Terwyl Johannes ons oë vestig op die Lam, draai die Lam ons oë op mekaar.

Kyk, daar is jou moeder.
Kyk, daar is jou kind.

In hierdie dae, gaan ons opnuut ontdek wat dit beteken om na mekaar te kyk. Mag ons nabyheid aan die Gekruisigde ons hiermee help.