Kruiswysheid: Paradys

  • Prediker: Leon Marais
  • Teks: Lukas 23:43 / Psalm 27
  • Kruiswoorde: Vandag sal jy saam met my in die paradys wees. 
  • Woord vir die week: Kosbaar
  • Geloofsoefening: Meditasie / Gebed

Luisterteks

38Daar was ook ’n kennisgewing bokant Jesus se kop: “Hierdie man is die Koning van die Jode.”39Een van die misdadigers wat daar gehang is, het Jesus aanhou beledig deur te sê: “Is jy dan nie die Messias nie? Red jouself en ook vir ons!”40Die ander een het hom egter bestraf en gesê: “Het jy óók nie respek vir God nie, alhoewel jy dieselfde straf as hierdie man ondergaan! 41Ons het dit terdeë verdien, want ons verdien die straf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42Hy het verder gesê: “Jesus, onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom.”43Jesus se antwoord was: “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.”

Lukas 23:38-43

Nadenke

Twee misdadigers bevind hulself weerskante van Jesus. Die een koggel en daag hom uit. Die ander een vra dat Jesus hom sal onthou. Jesus se antwoord is merkwaardig. “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees.” (Lukas 23:43)

Moenie net aan die hemel dink as jy wonder waarvan Jesus praat nie. Die woord paradys is baie skaars in die Bybel. Die Hebreeuse eweknie vir die Grieks wat hier gebruik word is ‘n Persiese leenwoord wat dui op ‘n tuin of ‘n veilige vesting met ‘n ringmuur. Dit word slegs drie keer in die Ou Testament gebruik en behou daardie oorspronklike Persiese betekenis.

Leon help ons hier om na te dink oor die wêreld se voorliefde vir paradyse as ‘n toonbeeld van status en mag. Deur die eeue het baie mense (en diere) gely as gevolg van ander magsbehepte individue se paradyse. Jesus, saam met die twee misdagers was die slagoffers van die Romeine se geweldadige pogings om hul koninkryk te beskerm. In die skaduwee van die kruis, skyn Jesus die lig op ‘n nuwe paradys. 

Een van die ander kere waar die woord paradys in die Nuwe Testament gebruik word is in Openbaring 2:7 waar dit met die boom van die lewe geassosieer word. Daarvolgens beweer Walter Brueggemann dat die skeppingsverhaal in Genesis deur Jesus se kruiswoorde na vore geroep word.

God is besig om deur Jesus die skepping te herskep. Jesus nooi die misdadiger terug na ons almal se oorsprong: Goed geskep deur God. Let op, dit wag nie net anderkant die dood nie, maar ook vandag, nou en hier. Selfs terwyl jy as ‘n misdadiger aan die kruis hang, is die paradys tot jou beskikking. Dis egter nie ‘n loflied tot jou menswees nie, maar eerder ‘n getuienis van dit wat God deur Christus vermag het. 

Net soos die twee misdagers en al die ander kinders van Adam en Eva, leef ons Oos van Eden. Die tweede Kruiswysheid vir Lydenstyd nooi ons terug na die tuin. In Christus is dit moontlik om terug te keer na die inherente goedheid in elke oomblik van die lewe. Jesus se kruiswoorde eggo die hart van Psalm 27: Die Here se goedheid sal ek sien hier in die land van die lewendes.
Vertrou op die Here! Wees sterk en skep moed! Ja, vertrou op die Here!”

Die hekke van die ringmuur is weer oop en in plaas van waghou by die ingang van die paradys, nooi die engele elkeen in om weer in ‘n vertrouensverhouding met die Skepper te leef.