Kruiswysheid: Skuldbelydenis

Kruiswysheid: Skuldbelydenis

  • Prediker: Leon Marais
  • Teks: Lukas 23:34 / Psalm 103
  • Kruiswoorde: Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.
  • Woord vir die week: Jammer
  • Geloofsoefening: Skuldbelydenis

Luisterteks

Twee ander misdadigers is ook saam met Jesus weggelei om tereggestel te word. Toe hulle by die plek aankom wat Kopbeen genoem word, het hulle Jesus daar gekruisig, asook die misdadigers – een aan Jesus se regter- en een aan sy linkerkant.Daarop het Jesus gesê: “Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!” Hulle het ook sy klere verdeel deur die lot te werp.

Lukas 23:32-34

Nadenke

In hierdie gesprek kom ons tot stilstand by die eerste van sewe Kruiswyshede vir Lydenstyd. Jesus se genade-uitspraak in Lukas 23:34 aan die mense wat hom gekruisig het, het vroeg in die kerk se geskiedenis die goue maatstaf geword vir hoe ons optree teenoor hulle wat ons te na kom. Jesus se wysheid eggo in die laaste woorde van Stefanus, die vroeë kerk se eerste martelaar. Hoe ironies dan nie dat een van die mense oor wie Stefanus daardie woorde uitgespreek het, ‘n paar jaar later een van die kerk se grootse leiers sou word. Lees gerus Stefanus se verhaal in Handelinge 6. 

Walter Brueggemann herinner ons dat hierdie tydlose woorde van Jesus in sommige gesaghebbende manuskripte van die Nuwe Testament ontbreek en dat dit in geen ander evangelie behalwe in Lukas se evangelie voorkom nie. Hoekom sou sommige manuskripte en evangelies dit dan weglaat? Was dit te radikaal? Te moeilik om na te volg? Jesus het immers nie net die soldate wat die opdragte uitgevoer het vergewe nie, maar ook hulle wat agter die opdragte geskuil het. Vir Lukas sou die kruisverhaal van Jesus half-vertel gewees het, as hy nié hierdie woorde in Jesus se mond gelê het nie. Die hart van Jesus klop vergifnis. 

Dit is ook interessant dat Jesus nie self hulle vergewe nie. Hy vra dat die Vader hulle sal vergewe. Ons sou kon sê dat Jesus die Middelaar is wat vir ons met God tussenbeide tree. Maar ons sou ook kon sê dat daar waar ons sukkel om te vergewe, daar vra ons die hulp van die Vader om dit namens ons te doen. 

Mag jy in hierdie week hoor dat Christus se woorde aan die kruis ook vir jou bedoel is, maar meer nog, mag die Here jou lei om te ontdek dit ook vir jou vyande bedoel is.