- Sondag 16 Mei: 18:00
- Maandag 17 Mei – Vrydag 21 Mei: 10vm
Rus vir die hele aarde
“Die mens se hart smag na ewigdurende rus. U het ons vir Uself gemaak, o God, en ons hart bly onrustig tot dit rus vind in U.”
Augustinus
Temas vir die Week
- 16 Mei – Sondag: Rus vir almal wat vermoeid en belas is. Matteus 11:25-12:8 ; Romeine 8:19-22
- 17 Mei – Maandag: Rus – Die hoogtepunt van die skepping. Genenis 2:1-4; Eksodus 20:8-11; 31:12-18
- 18 Mei – Dinsdag: Rus – Die doel van God se verlossing en bevryding. Deuternomium 5:12-15; Gen 3; 6
- 19 Mei – Woensdag: Rus vir alles en almal. Lev 25:1-7; 1 Korintiërs 6:19; Jesaja 1:16-18
- 20 Mei – Donderdag: Jesus lui die koms van die rus in. Levitikus 25:8-17; Jesaja 61:1-3; Lukas 4:18-22
- 21 Mei – Vrydag: Kosmiese rus as die werk van die Heilige Gees. Psalm 104:29-30; Romeine 8:18-26
- 23 Mei – Pinkstersondag: Op weg na God se rus. Hebreërs 3:7-4:11; Openbaringe 14:13
Inleiding
“Rus, sê Augustinus in sy beroemde gebed uit die vierde eeu na Christus, is een van die mens se heel diepste behoeftes. Miljoene mense oor die wêreld heen het deur die eeue Augustinus se versugting na rus beaam.”
Ernst Conradie
In die begin van die derde dekade van die 21ste, teen die einde van ’n uitmergelende pandemie is hierdie versugtinge meer waar as ooit. Ons kyk terug op ’n wêreld wat in die laaste twee dekades merkbaar verander het. Van 9/11 tot die ineenstorting van die wêreld ekonomie. Ons tegnologiese vooruitgang het ’n ongekende momentum gekry wat ons manier van leef radikaal verander het.
Op plaaslike bodum het ons krisis op krisis trotseer. Van Mugabe tot Zuma, van die Guptas tot Eskom. Werkloosheid, grootskaalse korrupsie, misdaad, geweld, groeiende armoede en landwye droogtes was aan die orde van die dag.
Nie net die mensdom nie. Die hele aarde smag na rus. Paulus het reeds in sy brief aan die gemeente in Rome dit gesnap. In Romeine 8:22 skryf hy dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. Sedert die einde van die 20ste eeu groei die pleidooie namens die skepping. Van die viswaters tot die reënwoude weergalm dié woorde van Ernst Conradie: Alles en almal soek na rus.
Die Goeie Nuus is dat die rus waarna die hele wêreld smag in Jesus Christus te vinde is (Matt 11:28). Die rus wat Jesus bring is die vervulling van die antieke Hebreeuse woord “shabat” wat beteken “om tot rus te kom”. Die werk van die Heilige Gees is om met hoop, heling en troos ons in hierdie rus in te lei.