Strand-Noord se plan om te help met COVID-19 pandemie.
Die COVID-19 pandemie het ons wêreld, maar ook ons plaaslike gemeenskap en gemeentelede se lewens onherroeplik verander. Ons is almal onseker oor presies hoe die pad vorentoe gaan loop, maar een ding is reeds seker: Daar lê nog groot en uitdagende tye voor.
As gemeente is ons nie bang vir onseker paaie nie, daarom gaan ons ook hierdie sinkplaatpad plavei soos ons hom loop!
Die Bestuurskommissie het die laaste paar weke gereeld vergader om ‘n strategie te ontwikkel vir hierdie eerste fase van die COVID-19 pandemie se impak op ons gemeenskap, hier en wyer.
Daar is op die volgende drie aspekte besluit:
1. Hulp met lewensmiddele
In tye soos hierdie is die mees basiese behoeftes eerste prioriteit. Waar mense se inkomstes drasties gesny of selfs gestaak is as gevolg van die grendeltyd, wil ons help met die voorsiening van basiese behoeftes uit ons koskas. Op hierdie manier glo ons sal daar meer kontant beskikbaar wees vir die ander basiese uitgawes.
Met die oog hierop het die Barmhartigheidskommissie goedgekeur dat die Samaritaansfonds gebruik kan word vir die uitbreiding van ons koskas soos wat behoefte geïdentifiseer word. Soos altyd gaan ons ook baie staatmaak op die skenkings en donasies van ons lidmate om ook hiermee te help. Ons gaan ook uit ons koskas, soos nog altyd, ons vennote in ons breër gemeenskap (Badisa/ACVV/Nigt Shelter) ondersteun en help.
2. Pastorale sorg
2. Ons besef dat hierdie ‘n tyd van verskriklike ontwrigting en angs is en sal daarom graag ook vir persone pastoraal wil bystaan. Hier is dit veral ons leraars wat onsself beskikbaar wil stel vir voorbidding en geestelike ondersteuning is. Ons neem vrymoedigheid om ook ander beraders en terapeute te nooi om ons hierin by te staan deur hulle dienste beskikbaar te stel.
3. Professionele bystand
Natuurlik is daar ook die praktiese implikasies van persone wat as gevolg van die ekonomiese impak van COVID-19 en die gepaardgaande grendeltyd, hulle werk verloor het. Ons sal graag persone wat hulle in hierdie posisie bevind wou help deur hulle aan kundige raadgewers bekend te stel. Met die oog hierop neem ons ook die vrymoedigheid om ‘n versoek te rig tot persone wat kan help met sake soos: skeidingspakkette, die indiening van UIF-aansoeke; aansoeke om staatstoelaes; belasting; en persoonlike finansiële bestuur. Ons glo dat dienste op hierdie vlak aangebied en ontvang kan word in ‘n gees van gemeenskaplike welwillendheid – ons is hier vir mekaar!
Hierdie 3 aspekte is maar die eerste treë op ‘n lang reis wat vir ons saam voorlê, maar ons glo vertrou dat dit nou ‘n verskil kan maak in talle mense se lewens.
Kontak gerus die kantoor of leraars vir meer inligting.
Gebruik gerus hierdie skakel om aansoek om hulp via ons Webblad te doen:
Mag hierdie pogings, en die baie ander wat ons nog gaan aanpak altyd net een doel hê:
Saam Bring Ons Christus Aan Almal.