Lewensonderrig

Dis Vrydag! Maar Vrydag is ook verby. 

Want ons leef in die nadraai van die leë graf.  Ons hardloop kort op die hakke van hulle wat resies gejaag het in die rigting van die Tuin van Goeie Nuus. Dink aan Maria en haar ontmoeting met die opgestane Jesus. Deur haar trane het sy vir Hom met die tuinier verwar. Maar toe Hy haar naam noem, het sy geantwoord: “Meester!”. Dink aan Thomas. In sy afwesigheid, is hy in ongeloof gedompel. Maar toe Jesus hom toelaat om aan die kruiswonde(r) te vat, het hy geantwoord: “My Here en my God.”

Die lewe in die nadraai van die leë graf gaan nie oor dogmatiese geloofbelydenisse nie. Die Goeie Nuus van die opstanding gebeur nie met ons omdat ons ‘n stel geloofswaarhede bely nie. Maar omdat ons, soos Maria en Thomas vir Jesus in ‘n ander lig sien en ons lewens daarvolgens rig. Hy is ons Meester. Hy is ons Here. Hy is ons God. 

Eerskomende Sondag gaan ons, ons potlode skerp maak met die hulp van een van Dawid se mooiste gebede: Psalm 16. Petrus haal hierdie besonderse Psalm aan in sy bekende toespraak in Handelinge 2. Die 11e vers van die Psalm eggo Maria se reaksie op Jesus wat haar naam noem. Soos vir Dawid, so ook vir Maria is God die Ewige Leermeester. Die Een wat ons lewe rig op die regte pad. 

Hierdie “regte pad” loop nie gelyk en maklik nie. In die woorde van die legendariese liedjieskrywer Piet Botha: “Dis moeilik om ‘n mens se kind te wees.” Daarom dan Psalm 16 se dankbare pleidooi by God: U leer my hoe om te lewe.

Vir die antieke Grieke was daar drie maniere om oor die lewe te praat. Twee van die drie woorde is vandag alombekend. Die terme Psige en Bio kom daarvan af. Dis voorbeelde van die lewe wat in alles en in alle lewende organismes en wesens teenwoordig is. Dis egter nie die lewe waarvan Dawid praat nie. Ook nie Johannes, wanneer hy in sy openingswoorde getuig dat: “In Hom was daar lewe en dié lewe was die lig vir die mense.” (Joh 1:2). Hier dink hulle anders oor die lewe en die woord wat hulle gebruik sal ons vandag herken in ‘n bekende vrouenaam: Zoë.

Dis lewe in oorvloed.

En dis hiervoor wat Dawid God se leiding benodig. Hy haal immers reeds asem, maar sy lewe voel dood en leeg. Hy smag na iets meer en iets dieper. ‘n Lewe wat nie in die graf sal eindig nie, maar in die toekoms sal in eggo.

So het jy al aan jou geloofspad gedink as Lewensonderrig? Waarmee sukkel jy? Waarin wil jy groei? Waar kan jy verbeter? Waar kort jy raad? Waar benodig jy ‘n hupstoot? Die evangelie nooi jou om jou alledaagse gewone lewe onder die meesterskap van Jesus te plaas en by Hom aan te meld vir ‘n vakleerlingskap in die oorvloedige lewe.