Hierdie week se tekste:
- Eksodus 14:19-31
- Psalm 103:(1-7), 8-13
- Matteus 18:21-35
- Romeine 14:1-12
Eksodus 14:19-31
Die Here red die Israeliete
19Die Engel van God wat altyd voor die Israeliete uit beweeg het terwyl hulle getrek het, het nou agter hulle plek ingeneem. Ook die wolkkolom wat voor hulle was, het agter hulle ingeskuif, 20tussen die Egiptenaars en die Israeliete. Aan die Egiptiese kant was die wolk donker en aan die Israelitiese kant het dit die nag verlig. Die hele nag deur het die twee groepe nie nader aan mekaar gekom nie.
21Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die Here het daardie hele nag die water met ‘n sterk oostewind weggedryf, sodat die water oopgekloof en die see daar drooggelê is. 22Die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan, en die water het weerskante van hulle soos ‘n muur gestaan. 23Die Egiptenaars het hulle agternagesit: die farao se perde, strydwaens en bemanning is almal agter hulle aan die see in. 24In die vroeë môre het die Here uit die vuur- en wolkkolom afgekyk op die Egiptiese leër en verwarring onder hulle gesaai. 25Hy het die wiele van hulle strydwaens laat uitval, sodat hulle skaars kon beweeg.Toe sê die Egiptenaars: “Ons moet wegkom van die Israeliete af, want die Here veg vir hulle teen Egipte.” 26Maar die Here het vir Moses gesê: “Steek jou hand uit oor die see sodat die water oor die Egiptenaars, oor hulle strydwaens en bemanning kan stroom.”
27Moses steek toe sy hand oor die see uit. Teen dagbreek het die see teruggestroom oor sy bodem en die Egiptenaars het hulle teen die water vasgevlug: die Here het hulle deur die see laat meesleur. 28Toe die water terugstroom, was die strydwaens en bemanning, die hele leërmag van die farao wat agter die Israeliete aan die see in is, tóé onder die water. Daar het nie een van hulle oorgebly nie.
29Maar die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan en die water het weerskante van hulle soos ‘n muur gestaan. 30Die Here het Israel daardie dag gered van Egipte, en die Israeliete het die Egiptenaars dood op die strand sien lê. 31Toe Israel sien hoe kragtig die Here teen Egipte opgetree het, is hulle met ontsag vir Hom vervul. Hulle het in die Here geglo en ook in Moses, sy dienaar.
Psalm 103:8-13
Onverganklik is die liefde van die Here
8Barmhartig en genadig is die Here,
lankmoedig en vol liefde.
9Hy sal ons ons sonde nie bly toereken
en nie vir ewig toornig bly nie.
10Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie,
vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie,
11want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is,
so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien.
12So ver as die ooste van die weste af is,
so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.
13Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders,
so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.
Matteus 18:21-35
Die plig om te vergewe
21Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?”
22Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer. 23Daarom kan die koninkryk van die hemel vergelyk word met ‘n koning wat besluit het om saam met sy amptenare hulle boeke na te gaan. 24Toe hy daarmee begin, is een amptenaar na hom toe gebring wat miljoene rand geskuld het. 25Hy kon dit nie betaal nie, en daarom het die koning beveel dat hy en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het, verkoop en die skuld betaal moet word. 26Die man het voor hom neergeval en gesoebat: ‘Gee my tog uitstel; ek sal u alles terugbetaal.’ 27Die koning het hom jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf.
28“Toe daardie man buite kom, het hy een van sy medeamptenare raakgeloop wat hom net ‘n paar rand geskuld het. Hy het hom gegryp en gewurg, en gesê: ‘Betaal wat jy skuld!’ 29Sy medeamptenaar het voor hom neergeval en hom gesmeek: ‘Gee my tog uitstel, ek sal jou betaal.’ 30Maar hy wou nie en hy is daar weg om hom in die tronk te laat gooi totdat hy die skuld betaal het.
31“Toe sy medeamptenare sien wat gebeur het, was hulle diep teleurgesteld, en hulle het alles wat gebeur het, vir hulle koning gaan vertel. 32Die koning het hom laat haal en vir hom gesê: ‘Jou skurk! Al daardie skuld het ek vir jou afgeskryf omdat jy my gesoebat het. 33Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek jou jammer gekry het nie?’ 34Die koning was woedend en het hom oorgegee om gemartel te word totdat hy al die skuld betaal het.
35“So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”
Romeine 14:1-12
Moenie jou broer veroordeel nie(Vgl. 1 Kor. 8:11-13; 10:23-33)
1Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil. 2Een glo ‘n mens mag alles eet; ‘n ander is swak in die geloof, en hy eet net groente. 3Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem.
4Wie is jy om oor iemand anders se bediende te oordeel? Sy eie werkgewer sal oordeel of hy goed doen of nie. Maar hy sal goed doen; daarvoor sal die Here sorg.5Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ‘n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. 6Die een wat ‘n bepaalde dag op ‘n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God.
7Niemand van ons leef tog vir homself nie,
en niemand sterf vir homself nie.
8As ons lewe, leef ons tot eer van die Here;
en as ons sterwe, sterf ons tot eer
van die Here.Of ons dan lewe en of ons sterwe,
ons behoort aan die Here.
9Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes.10Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, 11want daar staan geskrywe:“So seker as Ek lewe, sê die Here,voor My sal elke knie buig,en elke tong sal bely dat Ek God is.”
12Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.