Leesrooster 23-04-23

Hierdie week se tekste:

  • 1 Petrus 1:17-23
  • Handelinge 2:14a, 36-41
  • Psalm 116
  • Lukas 24:13-35

1 Petrus 1:17-23

Losgekoop met die kosbare bloed van Christus
17Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld. 18Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. 19Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. 20Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom. 21Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig.

Weergebore deur die lewende en ewige woord van God
22Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. 23Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.


Handelinge 2:14a, 36-41

Petrus se toespraak op die pinksterdag
14Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. 36“Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”
Die eerste bekeerdes
37By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?”38Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. 39Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.”40Met nog baie ander woorde het Petrus getuig en hulle aangespoor: “Laat julle red tussen hierdie ontaarde mense uit.”41Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg. 42Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.


Psalm 116

Ek het die Here lief

1Ek het die Here lief,
want Hy verhoor my smeekgebede.
2Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het.
3Bande van die dood het my omsluit,
doodsangs het my aangegryp,
ek het benoud en bekommerd geword.
4Toe het ek die Naam van die Here aangeroep:“Here, red my tog!”
5Die Here is genadig en regverdig,
ons God ontferm Hom oor ons.
6Die Here beskerm die hulpeloses:
ek was magteloos, maar Hy het my gered.
7Ek moet nou tot rus kom,
die Here het goed aan my gedoen:
8U het my van die dood gered,
U het ‘n einde gemaak aan my trane,
U het gesorg dat ek nie weer struikel nie.
9Ek kon voor die Here bly wandel
in die land van die lewendes.
10Ek het in U bly glo,
selfs toe ek gedink het dit is klaar met my
11en toe ek in my vertwyfeling besef het:
ek kan op geen mens staatmaak nie.
12Hoe sal ek die Here vergoed
vir al sy weldade aan my?
13Met ‘n drankoffer sal ek van sy redding getuig
en die Naam van die Here aanroep.
14My geloftes aan die Here sal ek betaal
in die teenwoordigheid van sy hele volk.
15Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.
16Ek is u dienaar, Here,
van my geboorte af is ek al u dienaar:
U het my vrygemaak.
17Ek wil U loof met ‘n dankoffer,
ek wil die Naam van die Here aanroep.
18My geloftes aan die Here sal ek betaal
in die teenwoordigheid van sy hele volk,
19in die voorhowe van die huis van die Here,
binne-in jou, Jerusalem!

Prys die Here!


Lukas 24:13-35

Die Emmausgangers

13Op dieselfde dag was twee van hulle op pad na ‘n dorpie met die naam Emmaus, twaalf kilometer van Jerusalem af. 14Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. 15Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop, 16maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. 17Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?”Met somber gesigte gaan hulle staan, 18en een van hulle, met die naam Kleopas, antwoord Hom: “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?”19Hy vra vir hulle: “Watter dinge?”Hulle antwoord Hom: “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, ‘n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk; 20en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het. 21Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het. 22En nou het ‘n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf 23en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle ‘n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. 24Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.” 25Toe sê Hy vir hulle: “Wat ‘n gebrek aan begrip en wat ‘n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? 26Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?” 27Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê. 28Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan. 29Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.” Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. 30Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. 31Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. 32Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”33Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar, 34en dié sê: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!”35Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het, en hoe Hy aan hulle bekend geword het toe Hy die brood gebreek het.