Hierdie week se tekste:
- 1 Petrus 4:12-14
- Handeling 1:6-14
- Joh 17:1-11
- Psalm 68
1 Petrus 4:12-14
Om as Christen te ly
12Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. 13Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. 14Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is ‘n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly.
Handelinge 1:6-14
Die belofte van die Heilige Gees
6Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”7Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”
Jesus se hemelvaart
9Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ‘n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”
Judas se opvolger
12Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggegaan van die berg af. Dit is die Olyfberg, vlak by die stad, ‘n sabbatsreis ver. 13In die stad aangekom, is hulle na die bovertrek toe waar hulle gewoonlik vertoef het. Dit was Petrus en Johannes, Jakobus en Andreas, Filippus en Tomas, Bartolomeus en Matteus, Jakobus seun van Alfeus, Simon die Seloot en Judas seun van Jakobus. 14Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed saam met ‘n aantal vroue, onder wie ook Maria die moeder van Jesus. Sy broers was ook by.
Psalm 68-1-10
Geloof sy God
1Vir die koorleier. Van Dawid. ‘n Psalm. ‘n Lied.
2As God verskyn, spat sy vyande uitmekaar,en dié wat Hom haat, vlug vir Hom. 3Soos rook wegwaai, so dryf U hulle weg;soos was in vuur smelt,so gaan die goddeloses tot niet as God verskyn. 4Maar vir die regverdiges sal daar blydskap wees,hulle sal juig voor God,hulle sal vrolik en bly wees.5Sing ‘n lied tot eer van God,sing tot eer van sy Naam, maak ‘n pad vir Hom wat op die wolke ry,en jubel voor Hom wie se Naam Here is. 6’n Vader vir weeskindersen ‘n beskermer van die reg van weduweesis God in sy heilige woning. 7God laat eensames in ‘n huisgesin woonen lei gevangenes uit na vryheid,maar wie teen God in opstand is,woon in ‘n kaal woestyn. 8Toe U u volk uitgelei het, o God,toe U deur die woestyn gestap het, Sela 9het die aarde gebeween het die hemel dit laat reën voor U uit,daar by Sinai, voor God, die God van Israel.10U het oorvloedige reëns laat uitsak, o God,U het u verdorde land weer lewe gegee.
Johannes 17:1-11
Jesus bid vir sy dissipels
1Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. 2U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. 3En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. 4Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. 5Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.6“Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord ter harte geneem. 7Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom; 8want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee. Hulle het dit aangeneem en tot die oortuiging gekom dat Ek waarlik van U gekom het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.9“Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. 10Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik. 11Ek bly nie langer in die wêreld nie, maar hulle bly nog in die wêreld. Ek kom na U toe.“Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees.