Hierdie week se tekste:
- 1 Petrus 3:13-22
- Handeling 17:22-31
- Joh 14:15-21
- Psalm 66
1 Petrus 3:13-22
Dit is ‘n voorreg om te ly vir wat goed is
13Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is? 14Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ‘n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. 15In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. 16Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het. 17As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen.18Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. 19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net ‘n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered. 21Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ‘n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ‘n bede tot God om ‘n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus. 22Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het.
Handelinge 17:22-33
Paulus in Atene
22Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. 23Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook ‘n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘Aan ‘n onbekende god.’“Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle. 24God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. 25Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. 26Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. 27God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, 28want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’
29Aangesien ons dan self van God afstam, moet ons nie dink dat die Godheid aan beelde van goud, silwer of klip gelyk is nie. Dit is bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding. 30“God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, 31want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.”
32Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: “Ons sal jou weer hieroor wil hoor.” 33So het Paulus van hulle af weggegaan. 34’n Paar mense het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, ‘n lid van die Areopagus, en ‘n vrou met die naam Damaris en nog ander saam met hulle.
Psalm 66
Hoe ontsagwekkend is u werk!
1Vir die koorleier. ‘n Lied. ‘n Psalm.
Juig tot eer van God, almal op aarde!
2Sing tot roem van sy Naam,
gee Hom die eer wat Hom toekom!
3Bely voor God: Hoe ontsagwekkend is u werk!
U mag is groot, u vyande kruip voor U.
4Alle mense moet voor U buig,
hulle moet sing tot u eer,
hulle moet sing tot eer van u Naam. Sela
5Kom hoor wat God gedoen het,
kom hoor van sy magtige dade onder die mense:
6Hy het die see in droë land verander;
sy volk het droogvoets deur die rivier getrek.
Toe het ons gejubel oor Hom
7wat ewig heers deur sy mag
en die nasies in die oog hou.
Die vyande moet hulle nie teen God verset nie! Sela
8Prys ons God, alle volke,
laat sy lof weerklink!
9Dit is Hy wat ons die lewe gee
en nie toelaat dat ons struikel nie!
10U het ons beproef, o God,
ons gelouter soos silwer;
11U het ons in ‘n net gevang,
‘n swaar las op ons gelê;
12U het ons deur mense laat vertrap,
ons het deur vuur en water gegaan;
maar toe het U ons uitgelei na oorvloed toe.
13Ek sal u huis betree met brandoffers
en aan U die geloftes betaal
14wat ek gedoen het, wat ek afgelê het
toe ek in nood was.
15Ek bring vir U vet skape as brandoffers,
ramme as wierookoffers,
ek offer beeste en bokke.Sela
16Kom luister, alle dienaars van God,
ek wil vertel wat Hy vir my gedoen het:
17Skaars het ek na Hom geroep,
of daar was reeds ‘n loflied op my lippe.
18As daar sonde in my hart was,
sou die Here nie geluister het nie.
19Maar God hét geluister,
Hy hét my gebed verhoor!
20Die lof kom God toe wat my gebed nie afgewys
en sy trou nie van my weerhou het nie.
Johannes 14:15-21
Jesus gaan na sy Vader toe
15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.18“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19Nog net ‘n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.21“Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.”