Hierdie week se tekste:
- Matteus 23:1-12
- Psalm 107:1-17, 33-37
- Josua 3:7-17
- 1 Tessalonisense 2:9-13
Matteus 23:1-12
Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes en die Fariseërs
1Toe het Jesus die menigte en sy dissipels toegespreek 2en gesê: “Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het die gesag om die wet van Moses te vertolk. 3Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê, maar hulle voorbeeld moet julle nie navolg nie, want hulle doen self nie wat hulle sê nie. 4Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie ‘n vinger verroer om dit te dra nie. 5Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. Hulle maak die gebedsband om hulle voorkop breed, en die tossels aan hulle klere groot. 6Hulle hou van die ereplekke by die feesmaaltye, en van die voorste plekke in die sinagoges 7en om op straat deur die mense begroet en as ‘rabbi’ aangespreek te word.
8“Maar julle moet julle nie ‘rabbi’ laat noem nie; net Een is julle Leermeester en julle is almal broers. 9Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel. 10Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus.
11“Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien. 12Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.”
Josua 3:7-17
Die Israeliete steek die Jordaan oor
7Toe sê die Here vir Josua: “Ek begin vandag om vir jou hoë aansien in die oë van die hele Israel te gee sodat hulle kan weet dat Ek by jou is soos Ek by Moses was. 8Sê nou vir die priesters wat die verbondsark dra, hulle moet by die Jordaan gaan staan wanneer hulle by die waterkant kom.”
9Josua het vir die Israeliete gesê: “Kom nader, luister na die woorde van die Here julle God!”
10Daarna sê hy: “Hieraan sal julle weet dat die lewende God tussen julle is en dat Hy die Kanaäniete, Hetiete, Hewiete, Feresiete, Girgasiete, Amoriete en Jebusiete sekerlik sal verdryf om vir julle plek te maak: 11kyk, die verbondsark van die Here van die hele aarde sal voor julle uit die Jordaan in gaan. 12Wys nou twaalf man aan uit die stamme van Israel, een uit elke stam. 13Wanneer die voetsole van die priesters aan die Jordaan se water raak, die priesters wat die ark van die Here dra, die Here van die hele aarde, sal die water van die Jordaan wat afkom, afgesny word en op een hoop gaan staan.”
14Die volk het toe van hulle tente af vertrek om deur die Jordaan te trek. Die priesters wat die verbondsark gedra het, was voor hulle. 15Die draers van die ark het by die Jordaan aangekom. Gedurende die hele oestyd is die Jordaan gewoonlik vol, oor al sy oewers. Toe die voete van die priesters wat die ark dra, in die vlakwater kom, 16het die water wat afkom, gaan staan. Dit het op een hoop gaan staan, ver boontoe by Adam, die stad langs Saretan. Die water wat afloop na die see in die Jordaanvallei, die Soutsee, was heeltemal afgesny. Die volk het regoor Jerigo deurgetrek. 17Die priesters wat die verbondsark van die Here dra, het daar binne in die Jordaan op die droë bedding gaan staan terwyl die hele Israel oor die droë bedding deurgaan tot die hele nasie uiteindelik deur die Jordaan is.
Psalm 107:1-17, 33-37
Let op die Here se dade van trou
1“Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”
2So moet die mense sê wat deur die Here bevry is,
dié wat Hy uit hulle nood bevry het
3en uit baie lande versamel het,
uit die ooste en die weste,
die noorde en die suide.
4Party was verdwaal in die woestyn, in ‘n barre wêreld,
en kon die pad na ‘n bewoonde stad nie kry nie.
5Hulle was honger en dors,
hulle was uitgeput,
6maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp
en Hy het hulle gered uit hulle ellende.
7Hy het hulle op die regte pad gebring
en by ‘n bewoonde stad laat uitkom.
8Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde,
vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen.
9Hy het die dors geles van dié wat versmag het,
Hy het die goeie in oorvloed gegee
aan dié wat honger gely het.
10Party het in die donker gesit, in diep duisternis,
hulle was gevangenes, in ellende en in boeie,
11want hulle het hulle verset teen die bevele van God,
hulle het die leiding van die Allerhoogste in die wind geslaan.
12Hy het hulle laat knak onder swaarkry,
hulle het inmekaar gesak, en niemand het gehelp nie.
13Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp,
en Hy het hulle bevry van hulle ellende.
14Hy het hulle uit die donker, uit die diep duisternis, laat uitkom,
Hy het hulle boeie stukkend gebreek.
15Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde,
vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen,
16want Hy het koperdeure oopgebreek,
ystergrendels stukkend geslaan.
17Party het dwaas opgetree,
en deur hulle rebelse optrede, hulle sonde,
het hulle in die ellende beland.
33Hy verander waterryke gebied in woestyn,
fonteinwêreld in dorsland,
34Hy maak vrugbare grond brak
oor die slegte dade van dié wat daar woon.
35Hy verander woestyngebied in rietvlei,
dor land in fonteinwêreld
36en laat honger mense hulle daar vestig
dat hulle stede kan stig om in te woon.
37Hulle bewerk lande en plant wingerde,
en dié lewer hulle oeste.
1 Tessalonisense 2:9-13
9Julle onthou immers nog, broers, hoe ons geswoeg en gesweet het. Dag en nag het ons gewerk om nie vir enigeen van julle ‘n las te wees terwyl ons die evangelie van God aan julle verkondig het nie.
10Julle, en ook God, is getuie van hoe suiwer, reg en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo. 11Net so weet julle ook hoe ons elkeen van julle behandel het: soos ‘n pa sy kinders 12het ons julle elkeen bemoedig en aangespoor en dit op die hart gedruk om tot eer van God te lewe, Hy wat julle roep om in sy koninkryk in te gaan en so aan sy heerlikheid deel te hê.
13Ons dank God dan ook gedurig daarvoor dat julle die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie, maar die woord van God. En dit is ook inderdaad die woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys.
.