Leesrooster 31-07-22

Hierdie week se tekste:

  • Hosea 11:1-11
  • Psalm 107
  • Kolossense 3:1-11
  • Lukas 12:13-21

Hosea 11:1-11

My liefde brand te sterk
1Toe Israel nog ‘n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep.
2Maar toe die Baäls hulle roep, het Israel My verlaat en vir die Baäls gaan offer, vir afgodsbeelde offers gebring.
3Ek self het Efraim leer loop, Ek het hulle op my arms gedra, maar hulle wou nie erken dat dit Ek is wat vir hulle sorg nie.
4Ek het hulle met sorg en liefde gelei, Ek was vir hulle soos iemand wat die juk oplig as dit sy trekdier skaaf. Ek het na Efraim toe afgebuk en hom gereeld kos gegee, 5want Ek wou nie hê dat hy weer na Egipte toe moet teruggaan nie of dat Assirië oor hom moet heers nie. Maar Efraim het geweier om hom te bekeer.
6Daarom sal sy stede deur oorlog verwoes word en sy waarsêers uitgeroei word. Hulle sal deur die oorlog verteer word oor die raad wat hulle gegee het. 7Omdat my volk My verlaat het, sal party van hulle opgehang word en die ander sal die slawejuk moet dra, ‘n juk wat nie afgegooi sal word nie!
8Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk. 9Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie ‘n mens nie. Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.
10Hulle sal die Here volg! Hy sal brul soos ‘n leeu en wanneer Hy brul, sal sy kinders vol ontsag uit die weste kom. 11Vol ontsag sal hulle soos voëls uit Egipte vlieg en soos duiwe uit Assirië.
Ek sal hulle na hulle neste toe terugbring, sê die Here.

Psalm 107

Let op die Here se dade van trou
1“Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”
2So moet die mense sê wat deur die Here bevry is,
dié wat Hy uit hulle nood bevry het
3en uit baie lande versamel het,
uit die ooste en die weste,
die noorde en die suide.
4Party was verdwaal in die woestyn, in ‘n barre wêreld,
en kon die pad na ‘n bewoonde stad nie kry nie.
5Hulle was honger en dors,
hulle was uitgeput,
6maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp
en Hy het hulle gered uit hulle ellende.
7Hy het hulle op die regte pad gebring
en by ‘n bewoonde stad laat uitkom.
8Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde,
vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen.
9Hy het die dors geles van dié wat versmag het,
Hy het die goeie in oorvloed gegee
aan dié wat honger gely het.
10Party het in die donker gesit, in diep duisternis,
hulle was gevangenes, in ellende en in boeie,
11want hulle het hulle verset teen die bevele van God,
hulle het die leiding van die Allerhoogste in die wind geslaan.
12Hy het hulle laat knak onder swaarkry,
hulle het inmekaar gesak, en niemand het gehelp nie.
13Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp,
en Hy het hulle bevry van hulle ellende.
14Hy het hulle uit die donker, uit die diep duisternis, laat uitkom,
Hy het hulle boeie stukkend gebreek.
15Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde,
vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen,
16want Hy het koperdeure oopgebreek,
ystergrendels stukkend geslaan.
17Party het dwaas opgetree,
en deur hulle rebelse optrede, hulle sonde,
het hulle in die ellende beland.
18Alle kos het hulle laat walg,
en hulle het by die dood omgedraai,
19maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp,
en Hy het hulle bevry van hulle ellende.
20Hy het hulle met ‘n enkele woord gesond gemaak,
hulle aan die dood laat ontkom.
21Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde,
vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen.
22Hulle moet dankoffers bring
en met blydskap van sy dade getuig.
23Party het met skepe die see bevaar
en hulle bestaan op die groot waters gemaak.
24Hulle het die werk van die Here ervaar,
sy wonderdade op die diep waters.
25Op sy bevel het ‘n stormwind opgesteek
en die golwe opgejaag.
26Die skepe het hemelhoog gestyg
en na die dieptes afgeduik.
Die bemanning was radeloos van angs
27en het soos dronk mense gesteier en gewaggel;
al hulle seemanskuns het niks gehelp nie.
28Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp,
en Hy het hulle veilig uit hulle ellende gelei.
29Hy het die stormwind stilgemaak,
en die golwe van die see het bedaar.
30Die seevaarders het hulle verheug oor die kalmte.
God het hulle veilig gelei na die hawe waar hulle wou kom.
31Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde,
vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen.
32Hulle moet van sy grootheid getuig in die volksvergadering,
Hom prys in die byeenkoms van die leiers.
33Hy verander waterryke gebied in woestyn,
fonteinwêreld in dorsland,
34Hy maak vrugbare grond brak
oor die slegte dade van dié wat daar woon.
35Hy verander woestyngebied in rietvlei,
dor land in fonteinwêreld
36en laat honger mense hulle daar vestig
dat hulle stede kan stig om in te woon.
37Hulle bewerk lande en plant wingerde,
en dié lewer hulle oeste.
38Hy seën hulle en hulle word vinnig meer,
Hy laat hulle vee nie minder word nie.
39En as die mense minder word en wegkwyn
onder die druk van teëspoed en moeilikheid,
40dan is dit die magtiges wat Hy tref met vernedering
en wat Hy laat ronddwaal in ‘n wilde wêreld sonder pad.
41Hy beskerm die armes teen verdrukking
en maak hulle nakomelinge so talryk soos kleinvee.
42As die opregtes dit sien, is hulle bly:
alle onreg het tot ‘n einde gekom.
43Wie verstandig is, moet op hierdie dinge ag gee,
hulle moet let op die Here se dade van trou.

Kolossense 3:1-11

Julle is saam met Christus uit die dood opgewek
1Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.
Die ou en die nuwe lewe
5Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. 6Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. 8Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie, 9en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. 11Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.

Lukas 12:13-21

Die gelykenis van die ryk dwaas
13Iemand uit die menigte sê toe vir Jesus: “Meneer, sê vir my broer hy moet die erfenis met my deel.”
14Maar Hy antwoord hom: “Man, wie het My as regter of deler vir julle aangestel?”
15Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”
16Toe vertel Hy hulle ‘n gelykenis: “’n Ryk man se grond het goed gedra. 17Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie. 18Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar. 19Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’ 20Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’ 21So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.”