Leesrooster 31-03-24

Hierdie week se tekste:

  • Handelinge 10:34-43
  • Psalm 118:1-2; 14-24
  • 1 Korintiërs 15:1-11
  • Markus 16:1-8

Handelinge 10:34-43

Petrus se toespraak by Kornelius
34Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, 35maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. 36Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal. 37Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het. 38Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom.
39“En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. 40Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, 41nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. 42Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies. 43Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.”

Psalm 118:1-2; 14-24

1Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!
2Israel moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

14Die Here is my krag en my beskerming.
Dit is Hy wat my gered het!
15Hoor die gejuig in die laer van die oorwinnaars:
“Die Here doen kragtige dade,
16die Here triomfeer,
die Here doen kragtige dade!”
17Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe
en van die dade van die Here getuig.
18Die Here het my swaar gekasty,
maar my nie aan die dood oorgegee nie.
19Maak die tempelpoort vir my oop:
ek wil ingaan en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here toe;
regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
22Die klip wat deur die bouers afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ‘n wonder in ons oë!
24Dit is die dag wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.

1 Korintiërs 15:1-11

Die opstanding van Christus
1Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. 2Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom.
3Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 4Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. 5Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, 6en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. 7Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. 8Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn.9Ek is immers die geringste van die apostels en is nie werd om ‘n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het. 10Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is.
11In elk geval, of dit ek is of hulle – dit is wat ons verkondig, en dit is wat julle geglo het.

Markus 16:1-8

1Toe die Sabbat verby was, het Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus, en Salome geurige speserye gekoop, sodat hulle Hom kon gaan salf. 2 Baie vroeg op die eerste dag van die week, kom hulle by die graf, net nadat die son opgekom het. 3Hulle sê toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip van die ingang van die graf af wegrol?” 4Maar toe hulle opkyk, sien hulle dat die klip reeds weggerol was – dit was ‘n baie groot klip. 5Toe hulle die graf binnegaan, het hulle ‘n jong man met ‘n lang wit stola om aan die regterkant sien sit, en hulle was ontsteld. 6Maar hy sê vir hulle: “Moenie ontsteld wees nie. Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is opgewek! Hy is nie hier nie. Kyk, hier is die plek waar hulle Hom neergelê het. 7Maar gaan sê vir sy dissipels en vir •Petrus, ‘Hy gaan voor julle uit na Galilea. Daar sal julle Hom sien, soos Hy vir julle gesê het.’ ” 8Hulle het uitgegaan en van die graf af weggehardloop, want bewing en verbystering het hulle beetgepak. En hulle het vir niemand iets gesê nie, want hulle was bang.