Leesrooster 30-10-22

Reformasiesondag

Sondag 30 Oktober 2022 is Reformasiesondag. Die Sondag wat die naaste aan Reformasiedag is, word jaarliks deur ag in Protestantse kerke wêreldwyd gebruik om hierdie geskiedkundige dag gevier. Die amptelike datum van Reformasiedag is die 31ste Oktober. Dit gedenk die dag in 1517 toe Martin Luther sy 95 stellings teen die deur van die Katolieke Kerk in Wittenburg vasgespyker het.

Die liturgiese kleur van Reformasiesondag is rooi. Die kleur verteenwoordig die kragtige werk van die Heilige Gees in die lewens van gelowiges, asook die bloed van al martelare wat gevloei het ter wille van die Evangelie van Jesus Christus.

Hierdie week se tekste:

  • Lukas 19:1-10
  • Habakkuk 1:1-4; 2:1-4
  • Psalm 119:137-144
  • 2 Tessalonisense 1:1-4, 11-12

Lukas 19:1-10

Jesus en Saggeus
1Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. 2Daar was ‘n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, ‘n ryk man. 3Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. 4Hy hardloop toe vooruit en klim in ‘n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan. 5Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.”
6Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang.
7Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by ‘n sondige man tuis!”
8Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.”
9Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham. 10Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”

Habakkuk 1:1-4; 2:1-4

Opskrif
1’n Uitspraak van die Here wat Hy aan die profeet Habakuk geopenbaar het.
Habakuk se klag: Onreg
2Hoe lank moet ek om hulp roep
voordat U hoor, Here,
moet ek by U bly kla oor geweld
voordat U red?
3Waarom laat U my die onreg sien wat gedoen word,
waarom kyk U toe as daar soveel ellende is?
Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld,
en word daar getwis en gebaklei.
4Die wet het nie meer krag nie,
en daar geskied nie meer reg nie.
Slegte mense het die oorhand oor die goeies,
en so word die reg verkrag.

2

Die antwoord van die Here: Wie reg doen, sal lewe
1Ek wil op my uitkyktoring gaan staan,
my plek op die vestingmuur gaan inneem,
ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê
en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt.
2Die Here het toe vir my gesê:
Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette
sodat mense dit sommer in die verbygaan kan lees.
3Die openbaring geld vir ‘n bepaalde tyd;
dit sal gou kom want dit kom beslis.
Jy moet net geduldig bly wag
as dit nie gou kom nie,
want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie.
4Dit is die boodskap:
Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry,
maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.

Psalm 119:137-144

137 U is regverdig, Here,
wat U bepaal, is reg.
138 In groot regverdigheid en trou het U u verordeninge uitgevaardig.
139 Ontsteltenis verteer my
omdat my teëstanders u woord verontagsaam.
140 U woord is baie suiwer,
ek het dit lief.
141 Al is ek gering en verag,
u bevele verontagsaam ek nie.
142 U is altyd getrou en regverdig,
u wet staan altyd vas.
143 Al oorval angs en benoudheid my,
in u gebooie bly ek my verlustig.
144 U verordeninge is altyd regverdig;
gee my insig daarin, dat ek kan lewe.

2 Tessalonisense 1:1-4, 11-12

1Van Paulus, Silvanus en Timoteus.
Aan die gemeente van die Tessalonisense wat aan God ons Vader en die Here Jesus Christus behoort.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
Die oordeel met die wederkoms van Christus
3Ons moet God altyd vir julle dank, broers. En dit is ook reg, want julle geloof neem sterk toe, en sonder uitsondering word julle liefde vir mekaar altyd meer. 4Daarom praat ons met trots van julle in al die gemeentes van God en vertel ons van julle volharding en geloof onder al die vervolging en lyding wat julle moet verduur.

11Daarom bid ons ook altyd vir julle: Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het, en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak. 12So sal die Naam van ons Here Jesus deur julle verheerlik word, en julle deur Hom, in ooreenstemming met die genade van ons God en van die Here Jesus Christus.