- 1 Samuel 2:18-20; 26
- Psalm 148
- Kolosense 3:12-17
- Lukas 2:41-52
1 Samuel 2:18-20; 26
Hanna se ander kinders
18Maar Samuel het die Here gedien. As ‘n seun het Samuel al ‘n linneskouerkleed gedra. 19Sy ma het elke jaar vir hom ‘n manteltjie gemaak en dit vir hom gebring wanneer sy saam met haar man gegaan het om die jaarlikse offer te bring. 20Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën en gesê: “Mag die Here jou uit hierdie vrou ‘n nageslag gee in die plek van die seun wat van die Here afgesmeek is.”
Daarna is hulle weer huis toe. 21Die Here het Hom oor Hanna ontferm, en sy het swanger geword en nog drie seuns en twee dogters gehad. Ondertussen het die seun Samuel voor die Here grootgeword.
Die goddeloosheid van Eli se seuns
22Eli was al baie oud. En wanneer hy alles hoor wat sy seuns aan al die Israeliete doen en dat hulle by die vrouens slaap wat diens doen by die ingang van die tent van ontmoeting, 23sê hy vir hulle: “Waarom doen julle sulke dinge dat ek aanhoudend by die hele volk moet hoor van julle slegte dade? 24Ag nee, my seuns, die gerugte wat ek verneem, is nie goed nie. Julle verlei die volk van die Here. 25Wanneer een mens teen ‘n ander mens verkeerd optree, sal die regters die saak uitmaak, maar as ‘n mens teen die Here sondig, wie sal dan die saak uitmaak?”Hulle het egter nie na hulle pa se vermaning geluister nie, want die Here het besluit om hulle dood te maak.
26Maar die seun Samuel het grootgeword en die Here en die mense was hom goedgesind.
Psalm 148
Sy Naam alleen is hoog verhewe
1Prys die Here!
Prys die Here vanuit die hemele,
prys Hom in die hoë hemel!
2Prys Hom, alle engele,prys Hom, alle hemelwesens!
3Prys Hom, son en maan,
prys Hom, alle sterre!
4Prys Hom, hoogste hemele,en waters in die hoë hemelruim!
5Laat hulle die Naam van die Here prys,
want Hy het beveel en hulle is geskep;
6Hy het hulle vir altyd hulle vaste plek gegee,
vir hulle ‘n orde neergelê waarbuite hulle nie kan beweeg nie.
7Prys die Here van die aarde af,
seediere en al die oseane,
8weerlig en hael, sneeu en miswolke,
stormwind wat sy opdrag gehoorsaam,
9berge, al die heuwels,vrugtebome, al die seders,10wilde diere, al die vee,
al wat kruip of vlieg,
11konings van die aarde, alle volke,
vorste, alle regeerders van die aarde,
12jong manne en meisies,
grysaards saam met seuns!
13Laat hulle die Naam van die Here prys,
want sý Naam alleen is hoog verhewe,
sy majesteit strek oor die aarde en oor die hemel.
14Hy het aan sy volk mag gegee.
Dit is die roem van al sy troue dienaars,
die Israeliete, die volk naby wie Hy is.
Prys die Here!
Kolossense 3:12-17
12Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. 13Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. 14Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. 15En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. 16Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. 17En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.
Lukas 2:41-52
Die Kind Jesus by die tempel
41Jesus se ouers het elke jaar vir die paasfees Jerusalem toe gegaan. 42Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle weer soos gebruiklik daarheen gegaan vir die fees. 43En toe die feesdae verby was, het sy ouers die terugreis begin, maar die Kind Jesus het in Jerusalem gebly sonder dat hulle dit geweet het. 44Omdat hulle gedink het Hy is by die reisgeselskap, het hulle ‘n dag lank gereis voordat hulle Hom onder die familie en bekendes begin soek het. 45Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle omgedraai na Jerusalem toe op soek na Hom. 46Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra. 47Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde. 48Toe sy ouers Hom sien, was hulle verslae, en sy moeder sê vir Hom: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.”
49Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?”
50Hulle het nie begryp wat Hy daarmee bedoel het nie.
51Hy het toe saam met hulle na Nasaret toe teruggegaan, en Hy was aan hulle onderdanig. Sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar. 52En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.