Leesrooster – 29-10-23 (Reformasie Sondag)

Leesrooster – 29-10-23 (Reformasie Sondag)

Hierdie week se tekste:

  • Jeremia 31:31-34
  • Psalm 46
  • Johannes 8:31-36
  • Romans 3:19-28

Jeremia 31:31-34

31Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ‘n nuwe verbond sal sluit. 32Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here. 33Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34’n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.

Psalm 46

God is vir ons ‘n toevlug

1Vir die koorleier.
Van die Koragiete.
Op die wysie van “Jong Vroue”.
‘n Lied.

2God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming;
Hy was nog altyd bereid om te help in nood.
3Daarom is ons nie bang nie,al gee die aarde pad,
al skuif die berge tot in die dieptes van die see,
4al druis en skuim die waters van die see,
al skud die berge deur sy onstuimigheid.

Sela

5Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad,
in die heilige woning van die Allerhoogste.
6God is daar; die stad sal nie wankel nie.
God sal hom help nog voor die môre kom.
7Nasies kan raas en koninkryke wankel,
maar as God sy stem laat hoor,smelt die aarde weg.
8Die Here, die Almagtige, is by ons,
die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting.

Sela

9Kom kyk wat die Here gedoen het,
watter ontsettende dinge Hy op die aarde tot stand bring:
10die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou,
pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend,
oorlogswaens verbrand Hy met vuur.
11Bedaar en erken dat Ek God is,
hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.
12Die Here, die Almagtige, is by ons,
die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting.

Sela

Johannes 8:31-36

God is nie hulle Vader nie
31Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; 32en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”33Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die nageslag van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie. Hoe kan jy sê: ‘Julle sal vry word’?”34Jesus sê toe vir hulle: “Dít verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is ‘n slaaf van die sonde. 35’n Slaaf bly nie vir altyd by ‘n huisgesin nie; ‘n seun bly vir altyd. 36Eers as die Seun julle vrymaak, sal julle werklik vry wees. 

Romans 3:19-28

19Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. 20Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is.
God verlos die mens

21Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, 22maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. 23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. 25-26Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.

27Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit. Deur watter wet? Dié van die werke? Nee, deur dié van die geloof. 28Ons betoog is tog dat ‘n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie.