Hierdie week se tekste:
- Numeri 11:4-29
- Psalm 19:7-14
- Jakobus 5:13-20
- Markus 9:38-50
Numeri 11:4-29
Klagtes oor kos
4 Die gepeupel wat tussen die Israeliete was, het baie gulsig geraak. Ook die Israeliete het weer gekerm en gesê: “As iemand ons tog maar net vleis sal gee om te eet! 5Ons onthou die vis wat ons in Egipte geëet het, verniet; ook die komkommers, waatlemoene, preie, uie en knoffel. 6 Maar nou is ons kele droog; daar is absoluut niks behalwe hierdie manna waarteen ons moet vaskyk nie.”
7 Die manna was soos koljandersaad en het die kleur van balsemhars gehad. 8Die volk het rondgegaan, dit bymekaargemaak en dan met maalklippe gemaal of in vysels fyngestamp. Hulle het dit in potte gekook en roosterkoeke daarvan gemaak. Dit het gesmaak soos iets wat met olie gebak is. 9Wanneer die dou snags op die kamp afgekom het, het die manna daarmee saam afgekom.
10 Moses het die volk hoor kerm, in hulle familiegroepe, elkeen by die ingang van sy tent. Die toorn van die Here het hewig ontbrand. In die oë van Moses was dit verkeerd. 11 Moses sê toe vir die Here: “Waarom maak U dit moeilik vir u dienskneg? Waarom vind ek nie genade in u oë nie? Om darem die las van hierdie hele volk op my te plaas! 12 Het ék dan swanger geraak met hierdie hele volk of het ék aan hulle geboorte gegee, dat U vir my sê, ‘Dra hulle teen jou bors soos ‘n pleegouer ‘n suigeling dra’ na die grond wat U aan hulle voorouers met ‘n eed beloof het? 13 Waar moet ek vleis kry om vir hierdie hele volk te gee? Want hulle kerm by my en sê, ‘Gee vir ons vleis, sodat ons kan eet!’ 14 Alleen kan ek hierdie hele volk nie dra nie, want dit is te veeleisend vir my. 15 As U so met my wil maak, maak my dan maar dadelik dood. As ek genade in u oë gevind het, laat my dan nie my ellende aanskou nie.”
16 Die Here sê toe vir Moses: “Maak vir my sewentig man uit die oudstes van Israel bymekaar, van wie jy die ervaring het dat hulle die oudstes van die volk en opsieners is. Neem hulle dan na die Tent van Ontmoeting en laat hulle daar by jou staan. 17 Ek sal afkom en daar met jou praat. Ek sal ‘n deel van die Gees wat op jou rus, wegneem en op hulle plaas. Hulle sal dan saam met jou die las van die volk dra sodat jy dit nie alleen hoef te dra nie.
18 “ Vir die volk moet jy sê, ‘Heilig julleself teen môre, dan sal julle vleis eet. Want julle het in die ore van die Here gekerm en gesê, “As iemand ons maar net vleis sal gee om te eet! Dit was immers vir ons goed in Egipte.” Die Here sal vir julle vleis gee, en julle sal eet. 19Julle sal nie net een dag eet nie, nie twee dae, nie vyf dae, nie tien dae of twintig dae nie, 20 maar ‘n volle maand lank, totdat dit by julle ore uitkom en julle walg, omdat julle die Here wat in julle midde was, verwerp en voor Hom gekerm het deur te sê, “Waarvoor het ons uit Egipte weggetrek?” ’ ”
21 Daarop het Moses gesê: “Seshonderdduisend mense te voet is die volk in wie se midde ek is, en U sê, ‘Vleis sal Ek vir hulle gee, sodat hulle ‘n maand lank sal eet.’ 22Kan daar kleinvee en beeste vir hulle geslag word, sodat daar vir hulle genoeg is? Sal daar vir hulle genoeg wees as al die visse in die see vir hulle gevang word?”
23 Maar die Here het Moses geantwoord: “Is die Here se hand te kort? Nou sal jy sien of my woord vir jou waar word of nie.”
24Moses het uitgegaan en die Here se woorde aan die volk meegedeel. Hy het sewentig man onder die oudstes van die volk bymekaargemaak en hulle rondom die tent laat staan. 25 Die Here het toe in die wolk afgekom en met hom gepraat. Hy het van die Gees, wat op Moses was, weggeneem en op die sewentig man, die oudstes, laat kom. Terwyl die Gees op hulle rus, het hulle vurig geprofeteer, maar daarna nie weer nie. 26Twee manne het egter in die kamp agtergebly, die een se naam was Eldad en die ander s’n Medad. Hulle was onder dié wat ingeskryf is, maar hulle het nie na die tent toe uitgegaan nie. Die Gees het ook op hulle gerus en hulle het in die kamp vurig geprofeteer.
27’n Jong man het gehardloop en dit vir Moses vertel en gesê: “Eldad en Medad profeteer vurig in die kamp.”
28 Josua, seun van Nun, wat van jongs af vir Moses diens gedoen het, het daarop gereageer; hy het gesê: “Moses, my heer, laat hulle ophou!” 29 Maar Moses het vir hom gesê: “Is jy oorywerig ter wille van my? Ag, was die hele volk van die Here maar profete, dat die Here sy Gees oor hulle sou laat kom!”
Psalm 19:7-14
7Aan die een kant van die hemel
gaan hy op
en aan die ander kant
gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy hitte nie.
8Die wet van die Here is volmaak,
dit gee nuwe lewenskrag;
die bepalings van die Here
is betroubaar,
dit gee wysheid aan die onkundiges.
9Die opdragte van die Here is reg,
dit maak die hart bly;
die gebod van die Here is suiwer,
dit verhelder die oë.
10Ontsag vir die Here is rein,
dit hou vir altyd stand;
die beslissings van die Here is waar,
dit is almal regverdig.
11Dit is begeerliker as goud,
begeerliker as ‘n oormaat fyngoud;
dit is soeter as heuning,
as ‘n heuningkoek wat drup.
12Boonop, u dienskneg
word daardeur gewaarsku;
wanneer ‘n mens daarby hou,
is die beloning groot.
13Wie het insig in sy onbewuste
dwalings?
Spreek my vry van verborge sondes!
14Weerhou u dienskneg
ook van vermetelheid.
Laat dit nie oor my heers nie;
dan sal ek onskuldig wees
en vry van ernstige oortredings.
Jakobus 5:13-20
Gelowige gebed
13As iemand van julle swaarkry, moet hy bid. As iemand opgeruimd is, moet hy psalms sing. 14As iemand van julle siek is, moet hy die ouderlinge van die •gemeente roep, sodat hulle vir hom kan bid, nadat hulle hom in die Naam van die Here met olyfolie gesalf het. 15Die gelowige gebed sal die sieke gesond laat word, en die Here sal hom weer oprig. En as hy sonde gedoen het, sal hy vergewe word. 16Bely dan julle sondes teenoor mekaar, en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n •regverdige is baie kragtig in sy uitwerking. 17 Elia was ‘n mens net soos ons, en hy het vurig gebid dat dit nie moet reën nie, en dit het drie jaar en ses maande lank nie op die aarde gereën nie. 18 Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee, en die aarde het sy vrug opgelewer.
19My broers, as enigeen van julle afdwaal van die waarheid, en iemand hom laat terugdraai, 20moet hy weet dat wie ‘n sondaar van sy dwaalweg laat terugdraai, sy siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek.
Markus 9:38-50
Teen ons of vir ons
(Luk 9:49-50)
38Johannes het vir Hom gesê: “Meester, ons het iemand in u Naam demone sien uitdryf, en ons het hom probeer keer, omdat hy ons nie volg nie.” 39Maar Jesus het gesê: “Moet hom nie keer nie, want niemand wat in my Naam ‘n kragtige daad doen, kan net daarna sleg van My praat nie. 40 Want wie nie teen ons is nie, is vir ons. 41Wie vir julle in my Naam ‘n beker water te drinke gee omdat julle aan Christus behoort – •Amen, Ek sê vir julle: Hy sal beslis nie sy beloning verbeur nie.”
Waarskuwing teen struikelblokke
(Matt 18:6-9; Luk 17:1-2)
42“Wie een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit sou vir hom beter wees as die maalklip van ‘n donkie om sy nek gehang en hy in die see gegooi word. 43As jou hand jou laat struikel, kap dit af! Dit is vir jou beter om vermink die lewe in te gaan as om met twee hande weg te gaan tot in Gehenna, in die onblusbare vuur. 45As jou voet jou laat struikel, kap dit af! Dit is vir jou beter om kreupel die lewe in te gaan as om met twee voete in Gehenna gegooi te word. 47 En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit! Dit is beter vir jou om met een oog die •koninkryk van God in te gaan as om met twee oë in Gehenna gegooi te word, 48 waar die wurm in hulle nie doodgaan en die vuur nie geblus word nie. 49Want elkeen sal met vuur gesout word. 50Sout is goed, maar as sout smaakloos geword het, waarmee sal julle dit weer smaak gee? Julle moet sout in julleself hê en in vrede met mekaar leef. ”