- Handelinge 16:16-34
- Psalm 97
- Openbaring 22:12-14, 16-17, 20-21
- Johannes 17:20-26
Handelinge 16:16-34
In die tronk in Filippi
16Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ons ‘n slavin teëgekom in wie daar ‘n waarsêersgees was. Deur waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld verdien. 17Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste! Hulle vertel vir julle hoe julle gered kan word.”
18Sy het dit baie dae na mekaar gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!”
Die gees het op daardie selfde oomblik uit haar uitgegaan.
19Toe haar eienaars sien dat sy nie meer geld vir hulle kan inbring nie, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle na die owerheid toe op die stadsplein gesleep. 20Hulle het hulle voor die stadsbestuur gebring en gesê: “Hierdie mense is Jode wat moeilikheid maak in ons stad. 21Hulle wil vir ons gebruike leer wat ons as Romeine nie kan aanvaar of navolg nie.”
22Die skare het ook teen hulle gekant geraak. Die stadsbestuur het toe hulle klere van hulle laat afskeur en beveel dat hulle lyfstraf moet kry. 23Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak. 24Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem.
25Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. 26Skielik kom daar ‘n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak. 27Die bewaarder het wakker geskrik, en toe hy die deure van die tronk sien oopstaan, het hy sy swaard uitgetrek om homself om die lewe te bring, want hy het gedink die gevangenes het ontsnap. 28Maar Paulus het baie hard vir hom geskreeu: “Moenie jouself doodmaak nie! Ons is nog almal hier.”
29Toe het die bewaarder ‘n lig gevra, die sel ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. 30Hy het hulle buitekant toe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?”
31Hulle antwoord hom: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”
32Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huis verkondig. 33Op daardie uur van die nag het hy vir Paulus en Silas geneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is daar en dan gedoop. 34Toe bring hy hulle na sy huis toe en sit vir hulle ‘n ete voor. Hy en sy hele huisgesin was vol blydskap omdat hulle nou in God geglo het.
Psalm 97
Vir die regverdiges het daar lig gekom
1Die Here regeer, die aarde moet juig,
al die baie eilande moet bly wees!
2Die Here is omgewe van donker wolke;
sy troon is gebou op reg en geregtigheid.
3’n Vuur trek voor Hom uit
en verteer sy vyande aan alle kante.
4Sy weerligstrale verlig die wêreld;
die aarde sien dit en bewe.
5Berge smelt soos was voor die Here,
voor die Here van die aarde.
6Die hemel getuig dat Hy regverdig is
en al die volke sien sy magtige verskyning.
7Almal wat beelde dien,
wat nikswerd afgode vereer, word ontnugter,
want al hulle gode moet voor die Here buig.
8Sion is bly, die stede van Juda juig
wanneer hulle hoor wat U as regter gedoen het, Here.
9U, Here, is die Allerhoogste oor die hele aarde,
hoog verhewe bo alle gode.
10Julle het die Here lief; haat dan wat sleg is!
Hy bewaar die lewe van sy troue dienaars,
Hy red hulle uit die greep van die goddelose.
11Vir die regverdiges het daar lig gekom,
blydskap vir die opregtes.
12Wees bly in die Here, regverdiges,
prys sy heilige Naam.
Openbaring 22:12-14
12Jesus sê toe weer: “Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. 13Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.
14“Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan.
Openbaring 16-17
Die eerste vier bakke
1Toe het ek uit die tempel ‘n harde stem vir die sewe engele hoor sê: “Gaan gooi die sewe bakke, gevul met die toorn van God, op die aarde uit!”
2Die eerste engel het toe gegaan en sy bak op die land uitgegooi. Daar het kwaadaardige en pynlike swere uitgekom aan die mense wat die merk van die dier aan hulle het en wat sy beeld aanbid.
3Die tweede engel het sy bak in die see uitgegooi. Dit het bloed geword soos die bloed van ‘n dooie, en alles wat in die see lewe, het doodgegaan.
4Die derde engel het sy bak in die riviere en die waterbronne uitgegooi. Dit het ook bloed geword.
5Toe het ek die engel wat oor die water toesig hou, hoor sê:
“U is regverdig,
U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel voltrek het;
6want hulle het die bloed van die gelowiges en van die profete vergiet,
en U het hulle self bloed laat drink.
Dit het hulle verdien.”
7Toe het ek die engel wat oor die altaar toesig hou, hoor sê:
“Ja, Here God, Almagtige,
betroubaar en reg is u oordele.”
8Die vierde engel het toe sy bak op die son uitgegooi. Daardeur is aan die son die vermoë verleen om die mense met vuur te brand. 9Die mense is deur ‘n groot hitte gebrand, en hulle het die Naam gelaster van God wat die mag oor hierdie plae het. En hulle het hulle nie bekeer nie en aan Hom nie die eer gegee nie.
Die vyfde bak
10Die vyfde engel het toe sy bak op die troon van die dier uitgegooi, en daar het duisternis oor die koninkryk van die dier gekom. Die mense het hulle tonge stukkend gebyt van die pyn 11en het die God van die hemel gelaster oor die pyn wat hulle moet verduur, en oor die swere. En hulle het hulle nie bekeer van hulle verkeerde praktyke nie.
Die sesde bak
12Die sesde engel het toe sy bak op die groot Eufraatrivier uitgegooi. Die water daarvan het opgedroog om ‘n pad vir die konings uit die ooste oop te maak. 13Toe sien ek uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die vals profeet drie onrein geeste kom wat soos paddas lyk. 14Hierdie geeste, wat wondertekens doen, is bose geeste. Hulle gaan na die konings van die hele wêreld toe om hulle byeen te bring vir die oorlog op die groot dag van God, die Almagtige.
15“Kyk, Ek kom onverwags soos ‘n dief. Geseënd is die een wat wakker bly en sy klere reghou, sodat hy nie kaal hoef te loop en die mense sy skande sien nie.”
16Die geeste het die konings byeengebring op die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word.
Die sewende bak
17Die sewende engel het toe sy bak in die lug uitgegooi. Van die troon in die tempel af het daar ‘n stem hard uitgeroep: “Dit is verby!”
18Toe het daar weerligstrale, dreunings en donderslae gekom. Daar was ook ‘n groot aardbewing soos daar nog nie was vandat die mens op die aarde gekom het nie, so ‘n geweldige groot aardbewing was dit. 19Die groot stad het in drie dele geskeur, en die stede van die nasies het inmekaargestort. God het ook nie vergeet om vir die grote Babilon die beker met die wyn van sy gloeiende toorn te gee nie. 20Al die eilande het verdwyn, en berge was daar ook nie meer nie. 21Groot haelstene, elkeen omtrent vyftig kilogram swaar, het van die hemel af op die mense geval. En die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat die plaag verskriklik groot was.
Die sedelose vrou
1Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het, gekom en met my gepraat. “Kom,” het hy gesê, “ek sal jou wys hoe die oordeel voltrek word oor die berugte sedelose vrou wat by baie waters bly 2en met wie die konings van die aarde onsedelik verkeer het. Die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar onsedelikheid.”
3Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na die woestyn toe geneem. Daar het ek ‘n vrou gesien wat op ‘n helderrooi dier sit. Die dier was oortrek met godslasterlike name en het sewe koppe en tien horings gehad. 4Die vrou was uitgedos in pers en helderrooi klere en opgetooi met goud, edelstene en pêrels. In haar hand het sy ‘n goue beker vol losbandigheid gehad, die onreinheid van haar onsedelikheid. 5Op haar voorkop was haar naam geskrywe en dit het ‘n verborge betekenis. Die naam was: “Groot Babilon, die moeder van die sedeloses en van die losbandigheid op die aarde.” 6En ek het gesien dat die vrou dronk is van die bloed van die gelowiges, van die bloed van die mense wat vir Jesus getuig het.
Die betekenis van die dier
Toe ek haar sien, het ek my baie verwonder. 7Die engel sê toe vir my: “Waarom verwonder jy jou? Ek sal jou vertel wat die verborge betekenis is van die vrou en van die dier wat haar dra, wat die sewe koppe en die tien horings het.
8“Die dier wat jy gesien het, was eers en is nie nou nie. Hy gaan uit die onderaardse diepte uit kom en gaan na die verderf toe. Die bewoners van die aarde wie se name nie van die skepping van die wêreld af in die boek van die lewe geskrywe staan nie, sal verwonderd wees as hulle die dier sien, want eers was hy en nou is hy nie en tog sal hy wees.
9“Hier is verstand en wysheid nodig. Die sewe koppe is sewe berge. Daar by hulle het die vrou haar setel. Verder is hulle ook sewe konings. 10Die eerste vyf het geval. Die sesde is nou hier. Die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ‘n kort rukkie bly. 11Die dier wat eers was en nie nou is nie, is self die agste. Hy hoort by die sewe en gaan na die verderf toe.
12“Die tien horings wat jy gesien het, is tien konings. Hulle het nog nie die koningskap gekry nie, maar hulle kry saam met die dier een uur lank gesag as konings. 13Hulle het een en dieselfde doel voor oë, en hulle stel hulle mag en gesag tot die dier se beskikking. 14Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam en saam met Hom dié wat geroep en uitverkies en getrou is, sal hulle oorwin, omdat Hy die Here van die heersers en die Koning van die konings is.”
Die ondergang van die sedelose vrou
15Verder het hy vir my gesê: “Die waters wat jy gesien het waar die sedelose vrou bly, is volke en stamme, nasies en tale.
16“Die tien horings wat jy gesien het, en die dier, hulle sal die sedelose vrou haat en haar kaal en verlate maak. Hulle sal haar vleis opeet en haar met vuur verbrand. 17God het hulle gedagtes so gerig dat wat hulle doen, volgens sy bedoeling is: hulle het een en dieselfde doel voor oë en hulle stel hulle koningskap tot die dier se beskikking totdat God sy woorde in vervulling laat gaan het.
18“Die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy oor die konings van die aarde uitoefen.”
Openbaring 20-21
Die Satan word vir duisend jaar vasgebind
1Toe het ek ‘n engel uit die hemel uit sien kom met die sleutel van die onderaardse diepte en met ‘n groot ketting in sy hand. 2Hy het die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is, gegryp en hom vir duisend jaar vasgebind. 3Hy het hom in die onderaardse diepte gegooi, dit toegesluit en dit bokant hom verseël sodat hy nie meer die nasies kan verlei voordat die duisend jaar om is nie. Daarna moet hy ‘n klein rukkie losgelaat word.
4Toe het ek trone gesien en die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het. Hulle het op die trone gaan sit, en aan hulle is die bevoegdheid gegee om as regters op te tree. Dit is hulle wat nie die dier en sy beeld aanbid het nie en nie die merk op die voorkop en op die hand aanvaar het nie. Hulle het lewend geword en saam met Christus duisend jaar lank geregeer. 5Dit is die eerste opstanding. Die ander dooies het nie lewend geword voordat die duisend jaar om was nie.
6Geseënd en heilig is dié wat aan die eerste opstanding deel het. Oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom die duisend jaar lank regeer.
Die Satan word oorwin
7Wanneer die duisend jaar om is, sal die Satan uit sy gevangenskap losgelaat word. 8Dan sal hy gaan om die nasies wat tussen die vier uithoeke van die aarde is, die Gog en Magog, te verlei, en om hulle byeen te bring vir die oorlog. Hulle is so baie soos die sand van die see.
9Hulle het oor die hele oppervlakte van die aarde aangekom en die laer van die gelowiges en die geliefde stad omsingel. Toe het daar vuur van die hemel af gekom en hulle verteer. 10Die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swael gegooi, daar waar die dier en die vals profeet ook is. Hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.
Die laaste oordeel
11Toe het ek ‘n groot wit troon gesien en die Een wat daarop sit. Die aarde en die hemel het voor Hom padgegee, en daar was nie meer plek vir hulle nie. 12Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ‘n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. 13Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. 14Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. 15As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.
Die nuwe hemel en die nuwe aarde
1Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. 2En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.
3Toe het ek ‘n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. 4Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”
5Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”
En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.”
6Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet. 7Elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees.
8“Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood.”
Die nuwe Jerusalem
9Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het waarin die sewe laaste plae was, gekom en met my gepraat. “Kom,” het hy gesê, “ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.”
10Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na ‘n groot hoë berg toe geneem en die heilige stad Jerusalem vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom. 11Die stad het die heerlikheid van God: sy glans is soos dié van die kosbaarste edelsteen, soos ‘n kristalhelder opaal.
12Die stad het ‘n groot hoë muur met twaalf poorte. By die poorte is daar twaalf engele, en op die poorte is daar name geskrywe, dié van die twaalf stamme van die volk Israel. 13Aan die oostekant is daar drie poorte, aan die noordekant drie, aan die suidekant drie en aan die westekant drie. 14Die stad se muur het twaalf fondamente, en daarop is daar ook twaalf name, dié van die twaalf apostels van die Lam.
15Die engel wat met my gepraat het, het ‘n goue meetstok gehad om daarmee die stad self, sy poorte en sy muur te meet. 16Die stad is vierkantig, net so lank as wat hy breed is. Hy het die stad toe met die meetstok gemeet. Die lengte, die breedte en die hoogte daarvan is dieselfde, twaalf duisend kilometer. 17Hy het ook die muur om die stad gemeet. Dit is honderd vier en veertig meter hoog. Die engel het die mate van mense gebruik.
18Die muur is met opaal gebou en die stad self met suiwer goud wat soos ‘n skoon spieël lyk. 19Die fondamente van die stadsmuur is met allerhande edelstene versier: die eerste fondament met opaal, die tweede met saffier, die derde met agaat, die vierde met smarag, 20die vyfde met sardoniks, die sesde met karneool, die sewende met chrisoliet, die agste met beril, die negende met topaas, die tiende met chrisopraas, die elfde met hiasint en die twaalfde met ametis. 21Die twaalf poorte is twaalf pêrels. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die strate van die stad is van suiwer goud, blink soos ‘n spieël.
22’n Tempel het ek nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam. 23Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. 24Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde verleen luister daaraan. 25Die poorte daarvan word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie. 26Die mense sal die luister en die rykdom van die nasies daarheen bring. 27Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan.
Johannes 17:20-26
20“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. 21Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 22Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: 23Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.
24“Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het.
25“Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle hier weet dat U My gestuur het. 26Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.”