Vandag se tekste
- Jesaja 52:13-53:12
- Psalm 22
- Hebreërs 10:16-25
- Johannes 18:1 – 19:42
Jesaja 52:13-53:12
Oor óns sondes is hy verbrysel
13My dienaar sal voorspoedig wees.
Hy sal hoog in aansien wees, hy sal baie eer ontvang.
14Baie mense was ontsteld oor hom,
hy was so misvormddat hy nie meer soos ‘n mens gelyk het nie,
nie meer die voorkoms van ‘n mens gehad het nie.
15Maar hy gaan baie nasies laat opspring van verbasing.
Konings sal sprakeloos wees oor hom,
want hulle sal iets sien wat nie aan hulle vertel is nie,
hulle sal iets te wete kom
wat hulle nog nooit gehoor het nie.
1Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?
Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?
2Die dienaar was soos ‘n loot wat voor die Here uitspruit,
soos ‘n plant wat wortel skiet in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.
3Hy was verag en deur die mense verstoot,
‘n man van lyding wat pyn geken het,
iemand vir wie die mense die gesig wegdraai.
Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.
4Tog het hy óns lyding op hom geneem,
óns siektes het hy gedra.
Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word,
wat deur God geslaan en gepynig word.
5Oor óns oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom,
deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.
6Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.
7Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.
Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word
en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.
8Terwyl hy gely het en gestraf is,
is hy weggeneem,
en wie van sy mense het dit ter harte geneem
dat hy afgesny is uit die land van die lewendes?
Hy is gestraf oor die sonde van my volk.
9Hy het ‘n graf gekry by goddeloses,
hy was by sondaars in sy dood
al het hy geen misdaad gepleeg nie
en al was hy nooit vals nie.
10Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel,
om hom die pyn te laat ly.
As hy sy lewe as skuldoffer gee,
sal hy ‘n nageslag hê en nog lank lewe,
deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik.
11Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien
en hy sal die Here ken.
My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak:
hy sal die straf vir hulle sonde dra.
12Daarom gee Ek hom ‘n ereplek onder die grotes.
Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier
omdat hy hom in die dood oorgegee het
en as misdadiger beskou is,
omdat hy die sondes van baie op hom geneem het
en vir oortreders gebid het.
Psalm 22
U het my gebed verhoor
1Vir die koorleier: op die wysie van “Die wildsbok van die daeraad”.
‘n Psalm van Dawid.
2My God, my God, waarom het U my verlaat
en bly U ver as ek om hulp roep?
3My God, ek roep bedags en U antwoord nie,
ook snags, maar ek kry geen rus nie.
4U is tog die Heiligewat woon waar die lofsange van Israel weerklink!
5Op U het ons voorvaders vertrou.
Hulle het vertrou en U het hulle gered.
6Hulle het na U om hulp geroep en hulle is bevry;
op U het hulle vertrou en hulle is nie beskaam nie.
7Maar ek is ‘n wurm, nie ‘n mens nie.
Ek word deur die mense bespot en deur die volk verag.
8Almal wat my sien, spot my,hulle steek vir my tong uit
en knik met voldoening die kop en sê:
9“Laat dit aan die Here oor!Laat Hý hom red, laat Hý hom bevry
as Hy dan so baie van hom hou.”
10U het my die eerste lewenslig laat sien,
my veilig laat rus aan die bors van my moeder.
11Van my geboorte af is ek onder u sorg,
van die begin van my lewe af is U my God.
12Moet tog nie so ver van my af weg bly nie,
want die nood is nabyen daar is niemand wat help nie.
13’n Wreedaardige klomp mense het my omsingel,
soos beeste uit Basan staan hulle my toe.
14Soos verskeurende, brullende leeus storm hulle met oop bekke op my af.
15Ek is soos uitgestorte water,al my bene het uitmekaar geval,
my hart het soos was geword,
dit smelt weg in my.
16Ek is so min werd soos ‘n potskerf,
my tong kleef aan my verhemelte,
U laat lê my asof ek dood is.
17Soos honde omsingel hulle my,
die bende misdadigers sak op my toe,
hulle bind my hande en voete vas.
18Al wat been in my is, kan ek tel;
hulle kyk na my met leedvermaak.
19Hulle verdeel my klere onder mekaar
en trek lootjies oor my mantel.
20En U, Here – moet tog nie so ver bly nie,
Bron van my krag, help my tog gou!
21Red my van die swaard,
my kosbare lewe uit die mag van die honde.
22Red my uit die bek van die leeuen tussen die horings van die wilde beeste uit.
U het my gebed verhoor!
23Ek sal tot eer van u Naam getuig in die gemeente,
U in die volle vergadering prys.
24Julle wat die Here dien, prys Hom!
Vereer Hom, nageslag van Jakob!
Betoon Hom eerbied, nageslag van Israel!
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes genoeg hê om te eet,
en sal dié wat na die wil van die Here vra, Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense, sterflik en verganklik, sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel aan die volgende geslag.
32Dié sal dan aan die volk wat nog gebore moet word
van hierdie verlossingsdaad getuig:
die Here het dit gedoen.
Hebreërs 10:16-25
16“Dit is die verbond wat Ek met hulle na daardie dae sal sluit, sê die Here.
Ek sal hulle my wette in die hart gee,
in hulle verstand sal Ek dit skrywe.”
17Dan sê Hy verder:
“Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie.”
18Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.
Laat ons met vrymoedigheid na God gaan
19Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22laat ons tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ‘n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. 23Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. 24Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.
Johannes 18:1 – 19:42
Jesus word gevange geneem
(Matt. 26:47-56; Mark. 14:43-50; Luk. 22:47-53)
1Nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor Kedronspruit gegaan. Daar was ‘n tuin, en Hy en sy dissipels het daar ingegaan. 2Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar gekom het.
3Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens. 4Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?”
5“Jesus van Nasaret,” antwoord hulle Hom.
“Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle.Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. 6Toe Jesus dan vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.7Hy vra hulle toe weer: “Vir wie soek julle?”
En hulle sê: “Jesus van Nasaret.”8Toe sê Jesus: “Ek het vir julle gesê dit is Ek. As julle My soek, laat die mense hier by My dan toe om weg te gaan.”
9So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: “Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.”
10Simon Petrus het ‘n swaard by hom gehad. Hy ruk dit toe uit, slaan daarmee na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus. 11Toe sê Jesus vir Petrus: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?”
Jesus voor Annas
12Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem en Hom geboei. 13Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonvader van Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was. 14Dit was Kajafas wat vir die Jode die raad gegee het dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterwe.
Petrus verloën Jesus die eerste keer
(Matt. 26:69-70; Mark. 14:66-68; Luk. 22:55-57)
15Simon Petrus en ‘n ander dissipel het agter Jesus aangegaan. Daardie ander dissipel was aan die hoëpriester bekend en het saam met Jesus in die hoëpriester se woning 16ingegaan, maar Petrus het buite by die deur bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat aan die hoëpriester bekend was, uitgegaan en met die deurwagter gepraat en vir Petrus ingebring. 17Die diensmeisie wat deurwagter was, sê toe vir Petrus: “Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?”
“Nee, ek is nie!” antwoord hy.
18Die slawe en die wagte het hulle gestaan en warm maak by die vuur wat hulle gemaak het omdat dit koud was. En Petrus het hom ook saam met hulle gestaan en warm maak.
Annas en Kajafas verhoor Jesus
(Matt. 26:59-66; 27:1; Mark. 14:55-64; 15:1; Luk. 22:66-71)
19Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en oor sy leer. 20Jesus het hom geantwoord: “Ek het in die openbaar met die mense gepraat. Ek het hulle altyd in die sinagoges en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaar kom; en Ek het niks in die geheim gesê nie. 21Waarom ondervra u My? Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.”
22Toe Jesus dit sê, het een van die wagte wat daarby gestaan het, Hom geklap en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?”
23Jesus sê toe vir hom: “As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?”
24Annas het Hom toe geboei na die hoëpriester Kajafas toe gestuur.
Petrus verloën Jesus weer(Matt. 26:71-75; Mark. 14:69-72; Luk. 22:58-62)
25Simon Petrus het hom nog gestaan en warm maak. Die mense by die vuur vra toe vir hom: “Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?”Hy het dit ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”26Een van die hoëpriester se slawe wat familie was van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou dan nie in die tuin by hom gesien nie?”27Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar ‘n haan gekraai.
Jesus voor Pilatus
(Matt. 27:2,11-21; Mark. 15:1-11; Luk. 23:1-5,13-19)
28Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet. 29Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?”30Hulle het hom geantwoord: “As hy nie ‘n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.”31Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.”
Maar die Jode sê vir hom: “Ons mag nie iemand teregstel nie.”32Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe.
33Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?”
34Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?”
35“Ek is mos nie ‘n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?”
36“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”
37“Dan is jy tog wel ‘n koning?” vra Pilatus.“Dit is soos u sê: Ek is ‘n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”
38“Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom.
En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie. 39Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?”40Hulle skreeu toe terug: “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” En Barabbas was ‘n rower.
Jesus word oorgelewer om gekruisig te word
(Matt. 27:22-31; Mark. 15:12-20; Luk. 23:20-25)
1Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gesel. 2Die soldate het ‘n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom ‘n pers mantel aangetrek 3en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap.
4Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.”
5Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!”
6Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!”
“Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.”
7Die Jode sê toe vir hom: “Ons het ‘n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.”
8Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. 9Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?”Jesus het hom egter nie geantwoord nie. 10Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?”
11En Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.”
12Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: “As u hom loslaat, is u nie ‘n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.”
13Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata. 14Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning!”
15Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?”Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie ‘n koning nie; ons het net die keiser.”16Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.
Jesus word gekruisig
(Matt. 27:32-44; Mark. 15:21-32; Luk. 23:26-43)
17Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. 18Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.19Pilatus het ook ‘n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” 20Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. 21Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.”
22Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”
23Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ‘n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. 24Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.”
Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê:“Hulle het my klereonder mekaar verdeel,en vir my kleed het hulle geloot.”
Dit is wat die soldate gedoen het.
25By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. 26Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.”
27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.
Jesus sterwe
(Matt. 27:45-56; Mark. 15:33-41; Luk. 23:44-49)
28Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”
29Daar het ‘n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ‘n spons vol suur wyn op ‘n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. 30Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.
31Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was ‘n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. 32Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is. 33Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. 34Maar een van die soldate het met ‘n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom.35Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. 36Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” 37En verder sê die Skrif op ‘n ander plek: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.”
Jesus word begrawe
(Matt. 27:57-61; Mark. 15:42-47; Luk. 23:50-56)
38Hierna het Josef van Arimatea, wat ‘n dissipel van Jesus was maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag neem. Pilatus het sy toestemming gegee. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. 39Nikodemus, wat ‘n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en ‘n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. 40Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê.
41By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar ‘n tuin en in die tuin ‘n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. 42Daar het hulle Jesus begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was.