Hierdie week se tekste:
Vierde Sondag na Advent
- Miga 6:1-8
- Psalm 15
- 1 Korintiërs 1:18-31
- Matteus 5:1-12
Miga 6:1-8
Veroordeling van ongeregtigheid
1Julle moet hoor wat die Here sê:
“Staan op, lê ‘n klag voor die berge,
en laat die heuwels jou stem hoor.
2 Luister, berge, na die aanklag
van die Here,
luister, onwrikbare fondamente
van die aarde!
Ja, die Here lê ‘n klag teen sy volk;
Hy het ‘n regsaak met Israel,
3‘My volk, wat het Ek
aan jou gedoen
en hoe het Ek jou vermoei?
Antwoord My!
4Ek het jou immers laat optrek
uit Egipteland,
uit die plek van slawerny
het Ek jou losgekoop.
Ek het Moses, Aäron en Mirjam
voor jou uit gestuur.
5My volk, onthou tog wat Balak,
die koning van Moab beplan het,
en wat Bileam, die seun van Beor,
hom geantwoord het.
Onthou wat gebeur het
van Sittim tot by Gilgal,
sodat jy die regverdige dade
van die Here kan erken.’ ”
6 “Waarmee sal ek die Here
tegemoetgaan,
my neerbuig
voor die verhewe God?
Sal ek Hom tegemoetgaan
met •brandoffers,
met jaaroudkalwers?
7Sal die Here genoeë neem
met duisende ramme,
met tienduisende strome olyfolie?
Moet ek my eersgeborene gee
vir my oortreding,
die vrug van my liggaam
vir my eie sonde?”
8 Hy het aan jou, mens,
bekend gemaak wat goed is:
Wat anders eis die Here van jou
as om net te doen wat reg is,
om troue liefde te bewys
en om nederig die pad
saam met jou God te loop?
Psalm 15
1’n Psalm. Van Dawid.
Here, wie mag ‘n gas wees in u tent?
Wie mag tuisgaan op u •heilige berg?
2Hy wat onberispelik leef
en regverdig optree,
wat van harte die waarheid praat.
3Hy laster nie,
doen sy medemens nie kwaad aan nie
en bespot nie sy naaste nie.
4In sy oë is die een wat verwerp is,
veragtelik,
maar hy eer dié wat vir die Here
ontsag het.
Al sweer hy tot sy nadeel,
hy verander nie.
5Hy leen nie sy geld teen rente uit nie,
en aanvaar nie ‘n omkoopgeskenk
ten koste van die onskuldiges nie.
Hy wat hierdie dinge doen,
sal nooit struikel nie.
1 Korintiërs 1:18-31
Christus as krag en wysheid van God
18 Die boodskap van die kruis is immers dwaasheid vir diegene wat verlore gaan, maar vir ons wat verlos word, is dit die krag van God. 19Want daar staan geskryf:
“Ek sal die wysheid van die wyses tot niet maak
en die insig van die verstandiges verwerp.”
20Waar is die wyse man, waar die skrifkenner, waar die redevoerder van hierdie wêreld? Het God dan nie die wysheid van die wêreld dwaasheid laat word nie? 21 Trouens, deur die wysheid van God het die wêreld Hom nie deur hulle wysheid leer ken nie. God het verkies om hulle wat glo, te verlos deur die dwaasheid van die verkondiging. 22Die Jode vra tekens en die Grieke soek wysheid. 23Ons egter, verkondig ‘n gekruisigde •Christus. Vir die Jode is dit ‘n struikelblok en vir die nie-Jode ‘n dwaasheid. 24Maar vir diegene wat geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. 25Want die dwaasheid van God is wyser as dié van mense, en die swakheid van God is sterker as dié van mense.
26 Broers, slaan ag op julle roeping: Menslik gesproke, is daar onder julle nie baie wyses, nie baie invloedrykes, of mense van adellike afkoms nie. 27Maar die dwaashede van die wêreld het God uitgekies om die wyses te beskaam, en die swakhede van die wêreld het God uitgekies om die sterkes te beskaam, 28en die onbelangrike en veragtelike dinge van die wêreld het God uitgekies – dit wat niks is – om wat wél iets was, tot niet te maak, 29 sodat geen mens iets het waarop hy hom voor God kan beroem nie. 30Deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons die wysheid geword het wat van God kom, regverdiging sowel as heiliging en bevryding. 31Daarom, soos daar geskryf staan: “Wie hom op iets wil beroem, moet hom beroem op die Here.”
Matteus 5:1-12
Bergrede: Ware geluk
(Luk 6:20-23)
1Toe Jesus die skare sien, het Hy teen die berg opgegaan. Hy het gaan sit, en sy dissipels het na Hom gekom.
2Hy het begin praat en hulle geleer en gesê:
3“Gelukkig is die armes van gees,
want aan hulle behoort
die •koninkryk van die hemele.
4Gelukkig is dié wat treur,
want hulle sal vertroos word.
5Gelukkig is die sagmoediges,
want hulle sal die aarde erf.
6Gelukkig is dié wat honger en dors na •geregtigheid,
want hulle sal versadig word.
7Gelukkig is die barmhartiges,
want hulle sal barmhartigheid ontvang.
8 Gelukkig is dié wat suiwer van hart is,
want hulle sal God sien.
9Gelukkig is die vredemakers,
want hulle sal kinders van God genoem word.
10Gelukkig is dié wat vervolg word
ter wille van geregtigheid,
want aan hulle behoort
die koninkryk van die hemele.
11 Gelukkig is julle wanneer die mense julle om My ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig van alles wat sleg is.
12Wees bly en jubel, omdat julle beloning groot is in die hemele. Hulle het immers die profete vóór julle net so vervolg.”