Leesrooster 28-08-2022

  • Jeremia 2:4-13
  • Psalm 112
  • Hebreërs 13:1-8
  • Lukas 14:1, 7-14

Jeremia 2:4-13

4 Hoor die woord van die Here, mense van Jakob,

al julle stamme van Israel!

5 So sê die Here:

Waarin het Ek gefaal

dat julle voorvaders van My af weggedraai het,

dat hulle nikswerd afgode gedien het en so self niks geword het?

6 Hulle het nie gevra: “Waar is die Here

wat ons uit Egipteland laat optrek het?” nie.

Hy het ons deur die woestyn gelei,

deur ‘n droë wêreld vol slote,

deur ‘n dor land vol doodsgevaar,

deur ‘n land waardeur niemand trek en waarin geen mens woon nie.

7 Ek het julle in ‘n vrugbare land gebring

om die vrugte daarvan en die goeie dinge daarin te geniet,

maar toe julle in my land gekom het,

het julle dit verontreinig;

die land wat my eiendom is, is deur julle besoedel.

8 Die priesters het nie gevra: “Waar is die Here?” nie,

dié wat my wil moes bekend maak, het My nie erken nie.

Die regeerders het hulle teen My verset,

die profete het in die naam van Baäl opgetree

en gode gedien wat nie kan help nie.

9 Daarom kla Ek jou weer aan, sê die Here,

en ook jou nakomelinge kla Ek aan.

10 Gaan na die Kittiëreilande toe en kyk ‘n bietjie, stuur boodskappers na Kedar toe en dink goed na:

Het daar al ooit so iets gebeur,

11 dat ‘n nasie sy gode verruil het,

selfs al was hulle geen gode nie?

Maar my volk het My, hulle magtige God, verruil

vir gode wat nie kan help nie.

12 Selfs die hemel moet daaroor skrik en beef en sidder! sê die Here.

13 My volk het twee sondes begaan:

Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat,

en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap,

waterbakke wat gebars is en nie water hou nie.

Psalm 112

Die regverdige sal nooit wankel nie

1 Prys die Here!

Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien,

wat al sy vreugde vind in die gebooie van die Here.

2 Sy nageslag is ‘n sterk krag in die land,

die geslag van die opregte word geseën:

3 daar is oorvloed en rykdom in sy huis.

Wat hy doen, is reg en blywend:

4 hy laat sy lig in die donker uitstraal vir die opregtes,

hy is genadig, barmhartig en regverdig.

5 Dit is ‘n goeie mens wat hom ontferm en wat uitleen

en in al sy sake reg optree.

6 Die regverdige sal nooit wankel nie,

hy sal altyd onthou word.

7 Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie,

hy is gerus, hy vertrou op die Here.

8 Hy voel hom veilig, hy is nie bevrees nie:

hy sal die neerlaag van sy vyande aanskou.

9 Hy gee mildelik vir die armes.

Wat hy doen, is reg en blywend.

Hy geniet hoë aansien.

10 Die goddelose sien dit en raak ontsteld,

hy kners op sy tande van magteloosheid.

Van die begeertes van die goddelose kom daar niks.

Hebreërs 13:1-8

Die Christelike lewenswandel

1 As broers moet julle mekaar altyd liefhê. 2 Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves. 3 Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word.

4 Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.

5 Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” 6 Daarom kan ons met vertroue sê:

“Die Here is my helper,

ek ken geen vrees nie:

wat kan ‘n mens aan my doen?”

Loof God deur Jesus Christus

7 Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het.

8 Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

Lukas 14:1, 7-14

Jesus genees ‘n man wat aan water gely het

1 Op ‘n sabbatdag toe Jesus na die huis van ‘n vooraanstaande Fariseër toe gegaan het om daar te eet, het hulle Hom fyn dopgehou.

Gelykenis oor beskeidenheid en gasvryheid

7 Toe Jesus merk hoe hulle die voorste plekke aan tafel uitsoek, vertel Hy aan die genooides die volgende gelykenis: 8 “As iemand jou na ‘n bruilof toe uitnooi, moet jy nie sommer op die voorste plek gaan sit nie. Dit kan net wees dat die gasheer iemand uitgenooi het wat belangriker is as jy. 9 Dan sal hy wat julle albei uitgenooi het, na jou toe kom en sê: ‘Gee bietjie die plek af vir hierdie man.’ Jy sal dan tot jou skande die agterste plek moet gaan inneem. 10 Maar as jy uitgenooi is, gaan sit liewer op die agterste plek. Wanneer die gasheer kom, sal hy vir jou kan sê: ‘Vriend, kom sit hier voor.’ Dan sal jy in die agting van al die gaste styg. 11 Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.”

12 Hy het ook vir die gasheer gesê: “As jy in die middag of in die aand ‘n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou waarskynlik ook weer uitnooi en jou op dié manier vergoed nie. 13 Nee, as jy ‘n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes. 14 Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het.”