Hierdie week se tekste:
- Johannes 6:1-21
- 2 Samuel 11:1-15
- 2 Konings 4:42-44
- Psalm 145:10-18
- Efesiërs 3:14-21
Johannes 6:1-21
Die vermeerdering van die brood
(Matt. 14:13-21; Mark. 6:30-44; Luk. 9:10-17)
1Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea toe gegaan, wat ook die See van Tiberias genoem word. 2’n Groot klomp mense het agter Hom aan gekom omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het. 3Jesus het toe teen die berg opgegaan en met sy dissipels daar gaan sit.
4Die paasfees van die Jode was naby.
5Toe Jesus rondkyk en sien dat ‘n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: “Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?”
6Dit het Hy net gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen.
7Filippus antwoord Hom toe: “Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle ‘n stukkie brood te laat kry nie.”
8’n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom: 9“Hier is ‘n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?”
10Toe sê Jesus: “Laat die mense gaan sit.”
Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend. 11Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê.
12Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.”
13Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het.
14Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”
15Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen.
Jesus loop op die see
(Matt. 14:22-33; Mark. 6:45-52)
16Toe dit aand word, het Jesus se dissipels na die see toe gegaan, 17in ‘n skuit geklim en weggevaar na Kapernaum toe, oorkant die see. Dit was al donker en Jesus was nog steeds nie by hulle terug nie. 18Daarby het die see onstuimig geword, omdat daar ‘n sterk wind gewaai het. 19Toe hulle sowat vyf of ses kilometer geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom, en hulle het bang geword. 20Maar Hy sê vir hulle: “Dit is Ek; moenie bang wees nie.”
21Hulle was toe gewillig om Hom in die skuit te neem, en daarna het die skuit by die land aangekom waarheen hulle op pad was.
2 Samuel 11:1-15
Dawid pleeg owerspel en moord
1In die lente, die tyd waarin die konings gewoonlik optrek om oorlog te maak, het Dawid op ‘n keer vir Joab en sy soldate en die hele Israel uitgestuur. Hulle het die Ammoniete verslaan en Rabba beleër, maar Dawid het in Jerusalem agtergebly.
2Eendag het hy na sy middagslapie opgestaan en op die dak van die paleis gaan rondstap. Van die dak af het hy ‘n vrou sien bad. Sy was ‘n baie mooi vrou. 3Dawid het oor haar laat navraag doen, en iemand het gesê: “Dit is Batseba dogter van Eliam, die vrou van Urija die Hetiet.”
4Dawid het toe amptenare gestuur en haar laat haal. Dit was nadat sy haar reinigingsbad geneem het na haar maandstonde. Sy het na hom toe gekom, en hy het by haar geslaap. Daarna is sy terug huis toe.
5Die vrou het swanger geword en vir Dawid laat weet: “Ek is swanger.”
6Dawid het op sy beurt ‘n boodskap na Joab toe gestuur: “Stuur vir Urija die Hetiet hiernatoe.”
Joab het hom na Dawid toe gestuur.
7Urija het by hom gekom, en Dawid het hom gevra hoe gaan dit met Joab en die leër, en hoe vorder die oorlog. 8Hierna het Dawid vir Urija gesê: “Gaan nou maar huis toe en rus ‘n bietjie.”
Toe Urija uit die paleis gaan, het die koning ook nog ‘n geskenk agter hom aangestuur. 9Maar Urija wou nie huis toe gaan nie en het by die paleisdeur gaan slaap saam met die slawe van die koning. 10Hulle het vir Dawid gaan sê: “Urija was nie huis toe nie.”
Dawid vra toe vir Urija: “Jy was mos lank weg, waarom gaan jy nie huis toe nie?”
11Sy antwoord was: “Sou ek huis toe gaan om te eet en fees te vier en by my vrou te slaap, terwyl die ark en Israel saam met Juda in hutte woon en my aanvoerder Joab sowel as u soldate in die oop veld kamp opslaan? Dit sal ek beslis nooit doen nie!”
12Dawid het Urija toe beveel: “Bly vandag nog hier! Môre stuur ek jou terug.”
Urija het daardie dag en die dag daarna in Jerusalem vertoef. 13Toe het Dawid hom geroep en saam met hom geëet en gedrink. Hy het hom selfs dronk gemaak. Maar die aand het Urija uitgegaan om op sy gewone plek saam met die slawe van die koning te gaan slaap. Hy het nie huis toe gegaan nie.
14Die volgende oggend het Dawid ‘n brief aan Joab geskryf en saam met Urija gestuur. 15In dié brief het hy geskryf: “Gee tog aan Urija ‘n plek op die voorpunt waar die geveg kwaai is. Val dan terug sodat hy in die slag kan bly en sneuwel.”
2 Konings 4:42-44
Kos vir honderd mense
42Daar het ‘n man uit Baäl-Salisa aangekom wat vir die man van God brood gebring het, twintig garsbrode gebak met meel van die nuwe oes, en ook vars koringare.
Elisa het gesê: “Gee dit vir die mense om te eet.”
43Maar sy slaaf het beswaar gemaak: “Hoe kan ek die bietjie kos aan ‘n honderd man voorsit?”
Maar Elisa het weer gesê: “Gee dit vir die mense om te eet, want so sê die Here: Hulle sal eet en nog oorhou.”
44Die slaaf het dit vir hulle voorgesit. Hulle het geëet en oorgehou, net soos die Here gesê het.
Psalm 145:10-18
10Almal wat deur U geskep is, loof U, Here,
en u troue dienaars prys U!
11Hulle vertel van u koninklike mag
en getuig van u groot krag.
12Die mense moet weet van sy krag,
van sy koninklike mag en majesteit.
13U koningskap is ‘n koningskap vir alle tye,
u heerskappy strek oor die geslagte heen.
14Die Here help almal op wat geval het.
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
15Die oë van almal is op U gerig,
en U gee hulle kos op hulle tyd.
16U maak u hand oop
en skenk u guns in oorvloed aan al wat leef.
17Die Here is regverdig in al sy handelinge,
getrou in alles wat Hy doen.
18Die Here is naby almal wat Hom aanroep,
almal wat Hom in opregtheid aanroep.
Efesiërs 3:14-21
Die gebed van Paulus vir die Efesiërs
14Daarom kniel ek in gebed voor die Vader 15aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. 16Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, 17dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. 18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
20Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.